Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in Sy Naam die lewe kan he.

Joh. 20:31.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View February 2014 Issue >>
 

Wat ’n mens tref van Clemens en Stephanie Mans, is hulle opregte liefde vir die Here, ander mense, en mekaar. Hulle gesels met gesellige gemaklikheid en ’n mens kan verstaan waarom die Here Kruiskyk aan hierdie paartjie, wat hartlike liefde en nederigheid uitstraal, toe-vertrou het.
 
Wat is julle getuienis, vertel ons hoe julle tot bekering gekom het?
C: My pa was ’n pastoor, ek het dus in die bediening grootgeword en is my ouers, Bekkie en Brenda Mans, geweldig dankbaar vir hulle liefde en toewyding wat hulle in my lewe geploeg het. Ek het, soos menige tiener, maar teruggeval, en danksy die fondasie van Christus en Sy genade, weer opgestaan.
S: As klein dogtertjie kan ek onthou hoe my ouma my hare op Saterdagaande in lokke gedraai en my kerkkleertjies op die bed oopgegooi het. Ek wou alewig by haar wees. Sondagoggende is ek en sy saam Sondagskool toe en daarna na die oggenddiens. Klokslag. Later jare, toe ek my bestuurslisensie kry, het ek self gery. Jesus was nog altyd deel van my lewe, maar in my tienerjare het ek besef daar is ’n ander ‘Teenwoordigheid’ in my lewe en het ek moeite gedoen om ’n verhouding met Jesus te bou.

Hoe het julle twee ontmoet?

S: Clemens lag altyd heerlik hieroor. Pastoor Mans, Clemens se pa en sommer my tweede pa, is na ons gemeente beroep toe ek nege jaar oud was. Sonder dat ons ooit ’n woord gepraat het, het ek en Clemens mekaar tien jaar lank net van sien leer ken en het eers in 2001 een aand ná kerk ontmoet.

Hoe het jy geweet dat hy die een vir jou was?

S: In st. 9 het ek ’n droom gehad waarvan ek tot vandag toe nog elke detail kan onthou; onder meer dat ek in ’n vertrek was waar daar rooi letters agter die deur geverf is. Toe Clemens my die eerste maal na sy ouerhuis nooi, het ek die rooi letters agter ’n kamerdeur in hulle huis gesien. Clemens het gesê dit was sy slaapkamer toe hy nog in die huis was en dat hý dit daar geverf het. Dit is tóé dat die besef dat hy dalk ‘die een’ was, my wind omtrent uitgeslaan het.

Wat bewonder jy van Clemens?
S: Lekker lag ek nou! Die eerste woord wat by my opkom, is álles! Hy is ’n saamwerker. Hy is nederig en oop. 

Clemens, wat bewonder jy van jou vrou?

C: Dat sy deur dik en dun by my gestaan het en dat sy ’n ongelooflike ma vir ons kinders is.

Julle is nou 12 jaar lank getroud. Wat is julle geheim?
S: Elke huwelik is uniek; saamgestel uit twee individue wat een lewe moet leer deel. Ons het geleer om kompromieë aan te gaan sonder om mekaar te minag. Ons het mekaar lief, nie net as huweliksmaats nie, maar as mekaar se beste vriend. Ons hou ons voete stewig op die aarde, en ons oë op God.
C: Voor die kansel het ons bely: “In goeie tye en slegte tye,” en ons het al ’n paar harde klippe saam gekou. Vandag is ons beste maats en is God ons Kompas.

Hoe lank is julle nou al aan die stuur van Kruiskyk? Vertel ons van die geskiedenis.
C: Kruiskyk sal in Julie vanjaar ses jaar oud wees en ons staan elke dag in verwondering oor die genade van die Here. Ek en Stephanie het eendag gesels oor hoe ons kan voel ‘iets’ is aan die kom, amper soos daardie kleintydgevoel die dag voordat jy verjaar. Kort daarna het ons agterop ’n geparkeerde motor ’n plakker gelees, wat ons denkwyse onherroeplik geruk het: “Droom ’n droom só groot, dat as God nie daarin is nie, dit tot mislukking gedoem is.”
Omtrent ’n jaar voor Kruiskyk se totstandkoming is ek saam met Rooies Strauss na Namibië en het ’n onderhoud met Coenie, by TBN Namibië, gehad. Daarná het ek, hoewel ons nie finansieel in ’n gunstige posisie was nie, gevoel die Here lei my om die geld in my broeksak aan TBN Namibië te ‘saai’. Redelik skaam het ek die paar randjies in Coenie se hand gestop. Hy het sy twee groot hande om myne gevou en ’n gebed gedoen waarin hy onder meer die Here gevra het vir my eie TV-kanaal.
Ek het getwyfel oor ’n eie TV-kanaal, maar die Here se plan vir Sy kinders is altyd groter as wat die mens kan dink of droom! Binne ’n jaar het God my dit op hart gelê om sonder ’n afspraak na die satellietverskaffer te gaan. Al het die ontvangsdame alles in haar vermoë gedoen om ons te stuit, was God reeds besig om die ontmoeting te bewerkstellig en het God Kruiskyk – dit wat menslik onmoontlik was – moontlik gemaak.

Julle kies om agter die skerms te wees. Is daar ’n spesifieke rede waarom julle nie ’n eie program aanbied nie?

C: Ons put seën uit die wete dat Kruiskyk ’n platform skep waar ander hul bedieninge landswyd, sowel as internasionaal via web-TV, kan uitleef. Dit mag soos ’n cliché klink, maar God alleen het hierdie kanaal tot stand gebring het – tot geen mens se eer nie, maar tot die eer van die Here alleen. In die kantoor het ons ’n gesegde: Ons is die span wat sorg dat die voertuig mooi loop, maar God alleen het die voertuig tot stand gebring en is, en bly, aan die stuur daarvan.

Wat is jou antwoord aan mense wat sê dat Christen-TV irrelevant is?

C: Christus is nóóit irrelevant nie. Ons ontvang getuienisse van be­kerings, huwelike wat gered is, en selfmoorde wat voorkom is. Mense het al tydens ’n program Goddelike genesing ontvang. Mense op afgeleë plase woon soms honderde kilometers van hulle naaste dorp af en dankbare oproepe stroom in omdat hulle ook kan ‘kerk’ waar hulle is.

Hoe maak jy seker dat julle programme relevant is en het julle spesifieke kriteria vir mense wat op Kruiskyk wil verskyn?
C: Elke bedienaar op Kruiskyk het ’n ware passie en liefde vir God. Ons probeer aan versoeke van ons kykers gehoor gee. Ons poog om kykgenot aan elke ouderdomsgroep en behoefte te bied. Ons maak op die Gees staat en probeer gereeld met mentors soos dr. Isak Burger en pastoor Nevil Norden ontmoet.
Dr. Burger het eendag vir my iets gesê waarteen ek baie besluite opweeg: “Oor kernwaarhede – eenheid; oor geringe sake – vryheid; maar in alles – liefde.” Een van Kruiskyk se doelstellings is om oor kerkgrense heen hande te vat. Wanneer ek my hoof saans neerlê, wil ek weet dat mure tussen kerkgrense afgebreek is. Sonder kompromie, maar met respek en eerbied.

Om ’n televisiekanaal te besit, is duur – hoe befonds julle dit?

C: Wonderwerk op wonderwerk! Kruiskyk het uit niks ontstaan nie, met die afskop het God mense oor ons pad gestuur, daarom kry God elke dag al die eer. Lugtydverkope en advertensieverkope help met die befondsing. Ons het ook die Vriend-en-Vennoot-projek geloods, omdat mense gevra het hoe hulle Kruiskyk kan help om op die lug te bly. Ons is dankbaar vir hulle ondersteuning en geloof in hierdie voertuig van die Evangelie.

Wat was die moeilikste uitdaging wat jy in jou mediabediening moes oorkom?
C: Om my onvermoë in God se hand te plaas en net te vertrou. Hy is elke dag nog my Leermeester.

Julle toer nogal baie om Kruiskyk te bemark – vertel ons so ’n bietjie meer.

S: Die toere bring ons nader aan ons kykers; dit is lekker om die kykersfamilie so te ontmoet. Kruiskyk saai huidig gratis uit op die ‘free-to-air’ platform, wat ’n spesiale Vivid-, of Free Vision- dekodeerder benodig (besonderhede is op ons webblad beskikbaar).

Clemens, jy het ook ’n sangbediening. Vertel ons ’n bietjie meer.

C: As ’n seun was ek by die kerkorkes betrokke. Later het ek opnames in my eie klankateljee gemaak, en ook betrokke geraak by sanger-pastoor Willie Botha se bediening. Ek is hom baie dank verskuldig dat hy my aangemoedig het om in 2003 my eie CD op te neem. Sedertdien het ek verskeie albums en DVD’s opgeneem en bedien reeds 12 jaar lank landswyd.

Watter opwindende planne het julle vir die jaar wat voorlê?
S: Ons vertrou die Here vir alles waarvoor ons in ons binnekamer vra. Die uitdagings is groot, maar God is groter.

KRUISKYK: Vir meer inligting besoek www.kruiskyk.tv of skakel: 012 809 3820 of sms: 072 890 6634 of e-pos: stephanie@kruiskyk.tv

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication