As jy dit doen, sal die lig vir jou deurbreek soos die nuwe dag. Jou genesing sal spoedig herstel. Hy wat jou red, sal voor jou uitgaan, die heerlikheid van die Here sal jou van agter beskerm.

Jes 58:8.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View May 2008 Issue >>
 

Die Magteloosheid van Lina se Pen

 

Lina Spies se onbillike en venynige emosionele aanval op Angus Buchan in Die Burger se Bylae van 24 Mei 2008 (Magteloosheid van die ‘Mighty Men’) het my laat dink aan die uitdrukking: “Al sou die Engel Gabriël sélf uit die Hemel afkom om met mense te praat, sal daar nogtans mense wees wat hom vir ’n kraai aansien en probeer afskiet.”

 

 ’n Mens sou dink dat iemand soos Spies wat “’n passie vir die teologie het”, verheug sou wees oor die geweldige belangstelling wat Buchan se verkondiging van die Evangelie gaande maak en oor die groot getalle mense wat hulle saak met God regmaak. Ongelukkig is die teendeel waar: Spies verkies om op ‘n kleinlike manier teen iemand uit te vaar vir wie die Here kennelik gebruik om die krag van die Evangelie in mense se lewens ’n werklikheid te maak.

 

In die proses maak sy haarself skuldig aan erge drogredenasies. Buchan praat nie van “Mighty Men” om daardeur te kenne te gee dat hulle mense is wat op hul vroue se koppe sit nie, maar gebruik die uitdrukking om daarmee aan te dui dat die Gees van God manne bekragtig om te lewe soos Hy dit wil. Hulle is manne wat hul God-gewilde rol in die samelewing en in hul huwelike met nederigheid, sagmoedigheid en gesag vervul – soos die Here dit in Sy Woord uitspel! Die soort manne wat in ons versekulariseerde samelewing al hoe skaarser geword het. Die soort man wat ‘n vrou graag vir ’n man sou wou hê. Die soort man vir wie God altyd eerste kom. Manne na God se hart. (Buchan sou ook soortgelyke dienste vir vroue na God se hart kon hou).

 

Buchan stel homself ook nie teen die kerk op as hy sê dat daar mans is “wat nie met ’n paal aan ’n kerk sou raak nie”. Hy konstateer bloot ’n feit. Hy skiet ook nie die teologie as sodanig af as hy sê: “Hulle soek nie teologie nie. Hulle soek Jesus.” Dis egter ook ’n betreurenswaardige feit dat sommige teoloë se teologie mense eerder van God vervreem, as nader aan Hom bring.

 

Een so ’n teoloog is Biskop Spong, vir wie Spies duidelik groot bewondering het. Dié Biskop maak mense wys dat Teïsme ’n uitgediende konsep is; dat die maagdelike geboorte onmoontlik is; dat Jesus die kind van ’n prostituut was; dat wonderwerke nie geglo kan word nie; dat ’n Vader wat sy Seun laat kruisig het vir ons sondes, gehaat moet word; dat die honde waarskynlik Jesus se liggaam opgevreet het; dat die Opstanding nie plaasgevind het nie  en slegs in ons gedagtes voortleef; dat die Hemelvaart onwerklik is; dat daar geen godsopenbaring is wat tydlose etiese voorskrifte bevat nie; dat alle seksuele oriëntasie reg is, en dat ewige lewe of ewige straf nie aan mense verkondig moet word nie. Vir Spong is die Bybel nie God se Woord aan mense nie, maar mense se woorde óór God; daarom kan elkeen van ons ook sy eie “konstruksie” van Jesus maak.

 

Professor Gerald O'Collins, Hoogleraar in Fundamentele Teologie aan die  Gregoriaanse Universiteit in Rome, sê: “Spong’s work simply does not belong to the world of international scholarship...the bishop [Spong] has forgotten any Greek that he knew.”  Gegewe Spies se bewondering vir teoloë soos Spong, is dit geen wonder nie dat sy ’n broertjie dood het aan herlewing en bekeringsdienste soos dié van Buchan. Vir haar sal dit seker ook neerkom op “die inperking van die individu”

 

Natuurlik is Buchan nie volmaak nie – soos ons almal! Maar om hom te beskuldig van seksisme, ’n aanstoker van verkragting, xenofobiese opsweping, ’n gebrek aan etiese waardes, subjektiewe emosionaliteit en ’n gebrek aan begrip vir die Koninkryk, is verregaande en doodgewoon onchristelik.  Die blote feit dat mense na sy dienste stroom, is bewys van die feit dat God se seën op sy bediening rus.

 

As Spies boonop vir Buchan aanval omdat hy glo in ’n God wat wonderwerke kan doen (“Ek weet van geen wonderwerk in ’n menselewe wat gebeur het deurdat die wette van die natuur opgehef is nie”) toon sy daarmee dat sy eintlik ’n probleem met die Woord van God het. Die Bybel is vol wonderwerke.  Wie dit nie wil glo nie,  perk vir God in.

 

Die probleem met die teologie wat Spies omarm, is dat dit die mens verhef bó die Woord van God. Die Mens word die een wat besluit wát Woord van God is, en wat nié. Die Mens word die norm vir reg of verkeerd. Tussen dié soort “teologie” en ateïsme is daar nie ’n groot kloof nie. Beide maak van God net wat hulle wil.  Só ’n teologie is egter in een opsig érger as ateïsme: dit bring die mens in die waan dat hy rég is.

 

Maar danksy mense soos Lina Spies, sal Andrew Buchan op sy knieë en bruikbaar bly. So laat God alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication