God is nie n mens dat Hy sal lieg nie.

Num 23:19a.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View February 2014 Issue >>
 

Martinus Steyn was ’n dapper en beginselvaste staatsman, en die sesde en laaste president van die onafhanklike Oranje-Vrystaat. President Martinus Steyn word beskou as een van die beste voorbeelde van ’n Christen-president. Sy integriteit was allerweë as van die hoogste standaard erken, insluitend deur sy vyande.

Prokureur
Martinus Theunis Steyn is op 2 Oktober 1857 op Rietfontein, Winburg, gebore. Sy vader was Martinus Steyn en sy moeder, Cecilia Wessels. Hy was op Greykollege in Bloemfontein en het daarna verder in Nederland aan die Universiteit van Leiden studeer.
Hy het sy regsopleiding in Engeland voltooi en is in 1882 in Londen tot die balieraad toegelaat. Hy het daarna na die Oranje-Vrystaat teruggekeer en spoedig ’n florerende regspraktyk in Bloemfontein bedryf.

Regter
In 1887 is hy met Rachel Isabella Fraser getroud. In 1889 is hy as die prokureur-generaal van die Oranje-Vrystaat aangestel, en in 1892 het hy ’n regter van die Hooggeregshof geword. Toe die staatspresident, F.W. Reitz, in 1895 uittree, is regter Steyn as sy opvolger aanbe-veel. Die ander kandidaat, J.G. Fraser het noue medewerking met die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) van Transvaal teengestaan, terwyl Steyn noue bande en samewerking met die ZAR ten sterkste voor-gestaan het. Die Jameson-inval, waarmee gepoog is om die beheer van Transvaal met geweld te neem, het openbare steun oorweldigend in die guns van regter Martinus Steyn geswaai en hy is met ’n groot meerderheid verkies en op 4 Maart 1896 as president van die Oranje-Vrystaat beëdig.

President
Hy was toe 39 jaar oud, maar sy sterk pligsbesef, Christelike integriteit en wysheid was ver bo sy jare. As nuutverkose president van die Oranje-Vrystaat het Martinus Steyn te doen gekry met die gekonkel van sir Alfred Milner, die nuwe Britse hoë kommissaris, ’n vurige imperialis wat betrokke was by planne om die onafhanklikheid van die Zuid-Afrikaansche Republiek te ondermyn en beheer van die goudvelde oor te neem.

Krisis
President Steyn het die Britse imperialistiese beleid as ’n duidelike en wesenlike gevaar vir die onafhanklikheid en vryheid van die Oranje-Vrystaat beskou. ’n Reeks krisisse en diplomatiese maneuvreerdery het tot uitbarsting gekom toe hoë kommissaris Alfred Milner samesprekings met president Kruger oor Uitlanderstemreg opgeskort het. President Steyn het die inisiatief geneem met die Bloemfontein-konferensie van 31 Mei 1899. Toe Milner uit hierdie onderhandelinge stap, het ’n oorlog dreigend op die voorgrond getree.

Oorlog
Op 27 September 1899 het president Steyn ’n nugter verslag aan die Volksraad voorgelê en daarin tot die slotsom gekom dat hy liewer die onafhanklikheid van die Oranje-Vrystaat met eer sal verloor, as om nie die Transvaal by te staan in hulle uur van nood nie. President Steyn het aangevoer dat deur oorlog te verklaar, politici erken dat hulle diplomatieke pogings misluk het en het effektief beheer aan die weermag oorhandig. Omdat hy oorlog verklaar het, sou hy by die kommando aansluit en sy aan sy met die burgers veg.

Moedig
President Steyn was een van die bittereinders wat moedig tot die allerlaaste van die verwoestende Anglo-Boereoorlog (1899-1902) geveg het. President Steyn was dikwels op die frontlinies te bespeur waar hy sy burgers bemoedig het met sy onwrikbare voorbeeld, deursettingsvermoë en moed.

Rampspoedig
Ná die rampspoedige oorgawe van generaal Piet Cronje by Paardeberg, het president Steyn gepoog om die moedelose burgers moed in te praat om tot die laaste toe vasberade weerstand te bied. Op 13 Maart 1900 het lord Roberts en die Britse magte Bloemfontein binnegery. Steyn en sy regering het Bloemfontein net die vorige dag ontruim.

Kommando’s
By Kroonstad het Steyn ’n gesamentlike krygsraad byeengeroep met president Kruger en generaal Piet Joubert ook teenwoordig. Daar het hulle besluit om die waens agter te laat en om berede kommando’s te gebruik wat die statiese meer konvensionele oorlog in vinnige guerrilla-oorloggevegte verander het.

Teenaanval
President Steyn het by verskeie ge-leenthede ingetree wanneer die Transvaal gepoog het om vredesonderhandelinge met die Britte te begin. Toe die Transvalers oorgawe begin oorweeg, was president Steyn en ge-neraal De Wet onversetlik dat die enigste voorwaarde vir onderhandelinge die onafhanklikheid en vryheid van die Oranje-Vrystaat en die Transvaal moes wees. President Steyn het generaal De Wet vergesel op militêre operasies in die Kaapkolonie om die toevoerlyne van die Britse magte te ontwrig.

Herverkiesing
Toe sy ampstermyn verloop het, het hy daarop aangedring dat hulle ’n nuwe presidensiële verkiesing moet hou. Die ampseed is by Doornberg afgeneem en president Steyn is vir ’n tweede ampstermyn beëdig.

Teenstand
President Steyn het die Oranje-Vrystaat se antwoorde aan die Britse outoriteit opgestel in goed beredeneerde regsterminologie, wat die voortgesette teenstand van die bur-gers baie aangemoedig het.
President Steyn het in antwoord op generaal Roberts se anneksasie van die Oranje-Vrystaat verklaar dat die Republiek van die Oranje-Vrystaat steeds bestaan en dat die anneksasie onwettig was. Op 7 Augustus 1901 het president Steyn in reaksie op lord Kitchener se Verskroeideaarde-en-konstenrasiekampbeleid, protes aangeteken teen die ontoelaatbare metodes van barbaarse oorlogvoering deur burgerlikes te teiken.

Vrede
Toe die res gereed was om aan die vyand oor te gee en teken, het De Wet en Steyn op selfregering en vergoeding aangedring. Steyn was in Kroonstad vir mediese sorg toe die Verdrag van Vereeniging op 31 Mei 1902 onderteken is.

Die mossies
Steyn het ’n veldtog vir selfregering ge-voer en het as een van die Oranje-Vrystaat se afgevaardigdes gedien by die Nasiona-le Konvensie wat tot die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika gelei het.
Dit was president Steyn se inisiatief wat tot die eerste bepaling van die grondwet van die Unie van Suid-Afrika gelei het, naamlik die maak van die halfsentmunt met twee mossies daarop, om ons daaraan te herinner dat God vir die allerminste sorg.

Standvastig
President Steyn, generaal De Wet en eerwaarde J. D. Kestell is beskou as die siel van die Boere se stryd om vryheid en onafhanklikheid. Hulle Gereformeerde geloof was die hoeksteen van hulle beleid.
President Steyn is in 1910 as die eerste keuse vir eersteminister van die nuwe Unie van Suid-Afrika oorweeg, maar om gesondheidsredes kon hy nie die amp aanvaar nie. Daardie eer het generaal
Louis Botha te beurt geval. Toe eerste-minister Botha die Britse oorlogbeleid ondersteun en oorlog teen Duitsland verklaar, het Steyn uit die Suid-Afrikaanse Party bedank en hom teen die opsluiting van ge-neraal De Wet a.g.v. sy teenkanting teen die oorlog, uitgespreek.
Protes en prinsipe
Martinus Steyn was die prominentste kampvegter vir die oprigting van die Nasionale Vrouemonument, wat op 16 Desember 1913 in Bloemfontein onthul is. Hy was ’n medestigter van die Suid-Afrikaanse Party. Toe die party egter die oorlog met Duitsland ondersteun het, het hy dit uit protes verlaat en saam met generaal James Barry Hertzog en generaal De Wet die Nasionale Party gestig.

Erfenis
Generaal Steyn is in November 1916 aan ’n hartaanval oorlede toe hy besig was om ’n vergadering in Bloemfontein toe te spreek. Hy was slegs 58 jaar oud. Hy is in Bloemfontein by die Vrouemonument by die Anglo-Boereoorlogmuseum begrawe. President Steyn troon uit as een van die beste voorbeelde van ’n beginselvaste Christen-staatsman, ’n patriot en ’n dapper kampvegter vir vryheid. “Ek sal eerder die onafhanklikheid van die Vrystaat met eer verloor as om dit met oneer te behou.”

DR. PETER HAMMOND
is ’n sendeling, historikus en outeur. Tel: 021 689 4480; mission@frontline.org.za; www.ReformationSA.org

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication