Dit veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgele word nie.

2 Pet. 1:20.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View March 2014 Issue >>
 

Die opstanding van Jesus Christus was ’n wonderwerk. Dit maak nie saak of jy in God glo of nie, dit maak nie saak of jy ’n filosofiese naturalis of ’n Christen is nie, die beskrywing en uitwerking van Jesus se wederopstan-ding, is waarlik wonderbaarlik.
Ongelowiges mag hierdie aanspraak bespot, maar laat ons verduidelik. Die opstanding is ’n wonderwerk op een van drie maniere – dit is óf:
1. ’n biologiese wonderwerk
2. ’n sielkundige wonderwerk
3. ’n teologiese wonderwerk

Voordat ons voortgaan, is daar twee kwessies wat aangeraak moet word.
Eerstens, opsie een en twee hier bo is natuurlik van aard (slegs verduidelikings van die opstanding) en dus verskil die definisie van ’n wonderwerk in hulle geval (’n hoogs onwaarskynlike, maar steeds natuurlike gebeurtenis) met die definisie daarvan in die derde opsie – waar die Bybelse definisie toepaslik is.
Tweedens, dit is belangrik om te onthou dat geen historiese geleerde, Christen, of ongelowige die kernfeite rondom die opstanding betwyfel nie.
Dit is:
• Jesus is gekruisig en begrawe
• Drie dae na Sy dood het Sy Liggaam verdwyn
• Daar was verslae van verskynings van Jesus aan gelowiges en ongelowiges tydens die verloop van 40 dae
• Die verskynings het die individue ver-ander en hulle het begin om Christus
se opstanding te verkondig, selfs al moes hulle ’n marteldood vir hulle getuienis sterf

Hierdie is die kernfeite van Jesus se opstanding en word nie deur enige ingeligte historikus, hetsy sekulêr of godsdienstig, betwis nie. As dit dan die geval is, kom ons ondersoek elk van die moontlike verduidelikings vir die opstanding.

Die opstanding van Jesus – ’n biologiese wonderwerk
Die opsie van ’n biologiese wonderwerk beweer dat Jesus nie werklik gesterf het nie, maar dat diegene wat Sy teregstelling uitgevoer het, slegs geglo het dat Hy dood is. Later, nadat Hy in die graf geplaas is, en teen alle biologiese en mediese waarskynlikheid in, het Hy weer bygekom, uitgekom, en asof Hy uit die dood opgestaan het, aan Sy dissipels verskyn.
Skeptici stel selde, indien ooit, hierdie opsie as ’n alternatief tot die Bybelse opstandingsverhaal voor. Om die waarheid te sê, ’n paar dekades gelede het ’n artikel in die ‘Journal of the American Medical Association gesê: “Gevolglik blyk verkla-rings wat op die aanname gebaseer is dat Jesus nie aan die kruis gesterf het nie, nie te strook met moderne mediese kennis nie.”
Die gebrek aan entoesiasme vir hierdie teorie is te wyte aan ’n paar sterk argumente daarteen.
• Die Nuwe Testament vermeld spesifiek dat Jesus voor Sy kruisiging geslaan en gegésel is. Geskiedenis wys dat géseling die dood van baie van die veroordeeldes veroorsaak het voordat hulle nog hulle aangewese kruis gehaal het. Die historiese Evangelies vermeld ook dat Jesus so verswak was weens Sy géseling dat Hy nie Sy kruis na Golgota kon dra nie (Matt 27:32); ’n duidelike aanduiding dat Sy kragte ingegee het
• Die Romeine was deskundiges van kruisigings. Hulle het geweet hoe om dood te maak; inderdaad, as ’n slagoffer wat tot die dood veroordeel is, oorleef het, is die soldate vir hulle agtelosigheid verantwoordelik gehou
• Johannes 19:34 sê dat ’n soldaat ’n spies in Jesus se sy gesteek het om seker te maak dat Hy dood is. Die beskrywing van bloed en water dui duidelik aan dat die pericardium(hartsak) geskeur het. Onmiddellike dood sou die gevolg gewees het as Jesus nie reeds weens die kruisiging gesterf het nie
• Jesus se dood is vlakby deur ooggetui-es, vriend sowel as vyand, waargeneem
• Nadat Hy van die kruis afgehaal is, is Jesus met skerp speserye afgespoel en in doeke toegedraai deur liefdevolle vriende wat sekerlik sou opmerk as Hy nog gelewe het
• Om hierdie oëverblindery uit te voer, sou Jesus in die graf moes bykom,
’n massiewe klip wegrol, die Romeinse wagte oorrompel (Matt 27:62-66) en dan aan Sy volgelinge en skeptici
verskyn
• Die dissipels se reaksie op ’n verminkte Jesus, vol skeurwonde ná Sy kruisiging, sou baie anders gewees het as wat die vier Evangelies vermeld. Niemand is ontbied om noodmediese behandeling te gee nie; in plaas daarvan het hulle Hom as die Here aanbid
Laastens, die opsie van ’n biologiese wonderwerk skep ’n baie ongunstige prentjie van Jesus se morele karakter. Dit beteken dat Jesus nie net ’n leuenaar was nie, maar veel erger.
As hy nie werklik gesterf en opgestaan het nie, moes Jesus Sy dissipels doelbewus mislei en jare lank weggekruip het, terwyl Sy dissipels aangehou, gemartel en vermoor is omdat hulle Sy vals opstanding verkondig het.
Om hierdie redes en ander, is die opsie van ’n biologiese wonderwerk ’n hoogs onwaarskynlike verduideliking vir die opstanding van Jesus.

Die opstanding van Jesus – ’n sielkundige wonderwerk
Die gewildste argument onder skeptici, soos Richard Carrier, is dat Jesus se volgelinge ’n sielkundige wonderwerk beleef het. Carrier skryf: “Ek glo dat die beste verduideliking, verenigbaar met beide wetenskaplike bevindinge en die oorblywende bewyse, is dat die eerste Christene hallusinasies van die opgestane Christus in die een of ander vorm beleef het. In die antieke wêreld was ervarings van ’n bonatuurlike aard, soos om geeste, gode en wonders te sien, nie alleen aanvaar nie, maar ook aangemoedig.”
Wanneer ’n mens egter die opsie van ’n sielkundige wonderwerk van naderby ondersoek, verkrummel dit onder die gewig van talle strydige argumente:
• Om enige geloofwaardigheid te hê, vereis die sielkundige wonderwerk ’n leë graf. En, as die dissipels hallusinasies beleef het en bloot mislei is om te glo dat Christus leef, wie het dan die liggaam gesteel? Sekerlik sou Jesus se vyande dit nie gesteel het nie. Wie bly dus dan oor? Wie sou so ’n risiko neem om die lyk te steel?
• Die opsie van die sielkundige wonderwerk bly ook in gebreke om verantwoording te doen vir die feite agter Jesus se verskynings ná Sy opstan-
ding. Is hallusinasies ’n geloofwaardige verduideliking? Jesus het nie net een keer nie, maar talle kere verskyn; nie net aan een persoon nie, maar verskillende persone; nie net aan individue nie, maar ook aan groepe; nie net op een plek nie, maar op verskeie plekke; nie net onder een omstandigheid nie, maar onder verskeie omstandighede; nie net aan gelowiges nie, maar ook aan ongelowiges, skeptici en selfs vyande
• Die Evangelie se verslae beklemtoon die feit dat die dissipels geensins verwag het dat Jesus uit die dood gaan opstaan nie; trouens die dissipels het gedink dat hulle Jesus nooit weer sou sien nie. Hulle het nie enige oortuiging gekoester dat hulle vermoorde leier lewend aan hulle sou verskyn nie. Daar word duidelik uitgebeeld dat die dissipels nie Jesus se voorspellings oor Sy opstanding begryp het nie. (Lukas 18:31-34). Hulle was self skepties. Hierdie mentaliteit is veelseggend omdat dit daarop dui dat hulle hulleself nie tot ’n mistiese toestand opgesweep het nie
• Die Joodse geloof het uitgesien na ’n opstanding aan die einde van die wêreld, maar niemand het nog ’n ewige opstand voor daardie aangewese tyd verkondig nie (Daniel 12:2 en Johannes 11:24). Hierdie feit versterk verder die argument dat die dissipels nie die
opstanding van Jesus enigsins verwag het nie
• Dit is die moeite werd om uit te wys dat skeptici en vyande van Jesus, insluitend ongelowige lede van sy eie familie, daarop aanspraak gemaak het dat hulle hom ná Sy kruisiging in lewende lywe gesien het. Vanuit ’n sielkundige oogpunt beskou, het hierdie mense geen rede gehad om ’n verskyning te versin van iemand waarin hulle in die eerste plek nie geglo het nie

Laastens, skeptici bied ook kognitiewe dissonansie as ’n verweer aan vir die sielkundige wonderwerkopsie. Kognitiewe dissonansie impliseer dat mense gemotiveerd is om die psigiese ‘spanning’ tussen die werklikheid, en wat hulle wil hê die werklikheid moet wees, te verminder. Hulle verander dus hulle houding, oortuiging en optrede sodat hulle kan ‘kry wat hulle wil hê’. Byvoorbeeld, die jakkals in die fabel wil druiwe hê, maar die werklikheid is dat hy die druiwe nie in die hande kan kry nie, daarom verander hy sy houding: die druiwe is suur en nie die moeite werd nie. Dié wat sinies is, sê dat die dissipels so graag wou hê dat Jesus hulle Messias moes wees dat, toe hulle met die realiteit van sy teregstelling gekonfronteer is, hulle psigiese aanpas-sings gemaak het om vir hulle verdriet te vergoed. Skielik het Jesus uit die dood teruggekeer – of so het die dissipels hulleself wysgemaak.
Enige argument wat op kognitiewe dissonansie gebaseer is, misluk daarin om twee kernfeite van die opstanding te verduidelik: die liggaam wat verdwyn het en die verskyning van Jesus aan Sy vyande en diegene wat getwyfel het. Bowendien kan ’n argument aangevoer word dat dit die skeptici van die opstanding is wat aan kognitiewe dissonansie ly. Hulle wil so graag hê dat Jesus dood moet wees, dat hulle die psigiese aanpassings maak wat nodig is om die bewyse te ignoreer of verkeerd uit te lê.
Hoewel gewild, het die opsie van die sielkundige wonderwerk baie gebreke en kan dit nie ernstig oorweeg word as ’n verduideliking vir die opstanding nie.

Die opstanding van Jesus – ’n teologiese wonderwerk
Die opsie van die teologiese wonderwerk beweer dat God Jesus uit die dood opgewek het. In teenstelling met die eerste twee opsies, wat suiwer natura-listiese verduidelikings is, sluit die teo-logiese wonderwerk nie die bonatuurlike uit nie. Dit betrek ’n ‘bo’-natuurlike Skepper en outomaties laat dit dus ware wonderwerke toe. Die outeur, C.S. Lewis sê: “As ons God erken, moet ons wonderwerke erken? Inderdaad, inderdaad, jy het geen verweer daarteen nie. Dit is die ooreenkoms.”
Die opsie van die teologiese wonderwerk maak aanspraak daarop dat die Nuwe Testament betroubaar van Jesus se opstanding verslag lewer. Dit bevestig ook die geskrifte van die vroeë kerkvaders aangaande die opstanding, soos hierdie aanhaling van Polikarp (’n dissipel van Johannes): “Want hulle het nie die teenswoordige eeu liefgehad nie, maar Hóm wat tot ons voordeel gesterf het en ter wille van ons deur God opgewek is.”
Die hoofrede waarom kritici hierdie opsie verwerp, is dat hulle, in navolging van hulle anti-bonatuurlike vooroordeel, God as ’n moontlikheid reeds vooraf uitgeskakel het. Dit is nie ’n oorsig van die bewyse nie, maar ’n verbintenis tot naturalisme wat veroorsaak dat skeptici die opstanding, die teologiese wonderwerk, as ’n moontlikheid uitsluit.
Wanneer ’n denkende persoon egter die universeelaanvaarde historiografiese (geskiedskryfkundige) maatstawwe nagaan wat gebruik word om enige geskied-
kundige verslag te ondersoek (bv. verklarende gesag, verklarende omvang, aanneembaarheid, en sy teenteorieë ver verbysteek), verskyn die opsie van die teologiese wonderwerk as die beste moontlike verduideliking vir Jesus se opstanding.
As dit die geval is, kan die rasionele persoon beswaarlik beskuldig word as hy/sy, op grond van die bewyse en ’n toewyding tot onbevooroordeelde histiografiese ondersoek, tot die gevolg-trekking kom dat ’n Goddelike wonderwerk daardie eerste Paasoggend geskied het.
In opsomming van hierdie standpunt, het dr. Thomas Arnold, die voormalige voorsitter van moderne geskie-denis aan Oxford en outeur van die gerespekteerde drie volumes ‘History of Rome’ gesê: “Ek is daaraan gewoond om baie jare lank al die geskiedenis van ander tydperke te bestudeer en om die bewyse van diegene wat daaroor geskryf het te ondersoek en op te weeg. Ek is nie bewus van enige gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom wat deur vollediger bewyse van enige aard bevestig word, as die Godgegewe teken – dat Christus gesterf het en weer uit die dood opgestaan het nie.

Skilderye © gebruik met toestemming van Howard Lyon Fine Art: www.howardlyon.com
Artikel deur: www.gotquestions.com

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication