Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in Sy Naam die lewe kan he.

Joh. 20:31.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View June 2014 Issue >>
 

Dit is ’n ironiese toeloop van sake dat die ware begunstigdes van die beëindiging van apartheid tot dusver juis diegene is wat veronderstel was om deur apartheid bevoordeel te word – die Afrikaners.

Dit is my reg
Gedurende die apartheidsjare het daar ’n ‘dit-is-my-reg’-kultuur onder die volk geheers.  Met goeie tersiêre opleiding kon jy ’n kabinetsminister word; ’n top staatsamptenaar; hoof van ’n semistaatsinstelling, of ’n senior uitvoerende beampte in ’n sakebedryf wat deur ’n Afrikaner besit is soos die destydse Trust Bank of Sanlam.  As jy nie so bevoorreg was nie, kon jy steeds as ’n ambagsman vir die spoorweë werk, by die geledere van die weermag of polisie aansluit, of vir ’n munisipaliteit werk.

Die groot trek
Ná 1994 het al hierdie verwagtinge tot ’n einde gekom.  Skielik het Afrikaners hulle mag verloor.  Hulle moes ’n blaadjie uit Steve Biko se boek neem: jy is op jou eie en sal self die mas moet opkom. En dít het hulle gedoen – uitsonderlik goed.  Onlangs het ek gehoor dat maatskappye wat deur Afrikaners besit en bestuur word dié element van die Johannesburgse Aandelebeurs is wat die vinnigste groei. 
Aan die hele kus noord van Maputo, in Mosambiek, is nou ’n rits safari lodges en duikwinkels wat deur entrepreneurs van Pretoria gevestig is.  Dit is ’n ellelang lys en strek oor die hele Suid-Afrika, en toenemend ook noord van die landsgrens en elders in die wêreld.
’n Mens sou hierdie verskynsel die Groot Trek die sakewêreld in kon beskryf.  “Adapt or die” het [PW Botha] gesê. 

Verenig tot ’n span
Die Afrikaners het individueel, en as groep, vir die eerste opsie gestem.  Nogal soos die Jode in Amerika, die Pakistani’s in Londen en die Chinese in Australië, het Afrikaners ’n kollektiewe bewustheid wat die geestelike grondslag van ’n effektiewe kommersiële netwerk is. 
Taal, godsdiens, kultuur en ’n lewensuitkyk wat hulle in gemeen het, verenig hulle tot spanne wat bykans onoortreflik is wanneer hulle deur mededingers uitgedaag word wat minder koherent is.  Hierdie karaktertrek kom natuurlik in sport ook na vore.  Dit is ’n vorm van ‘ubuntu’: jy help my en ek help jou omdat ons sáám meer kan vermag.  Die enigste vereiste is net: jy moet Afrikaans kan praat!

Ondernemingsgees
Hierdie artikel is na aanleiding van ’n aand toe ek en my vrou by ’n briljante plek, Bergwater Eco Lodge, net buite Waterval Boven oornag het.  Dit is ’n ware eiland van uitnemendheid in die Elandsvallei.  Onder bestuur van ’n jong Afrikaanse paartjie het dit alles gebied: van ’n pragtige, lang wandeling tot ’n uitsonderlike ete en ’n gemaklike bed, maar dit was die ondernemingsgees wat my beïndruk het. 
Sý wil elke kamer ’n kruietema gee en hý het pas ’n plaaslike hardewarewinkel as ’n tweede sakebedryf aangekoop.  Musiek vir my ore.  Jy behoort altyd na verbetering te strewe, ongeag die huidige stand van sake in jou bedryf.

Entrepreneurstaat verkieslik
Dit bewys net dat ons ’n entrepreneurstaat in teenstelling met ’n ontwikkelende staat vereis.  Met slegs 36 miljoen inwoners is Kalifornië tog die sesde grootste ekonomie ter wêreld.  Daar heers geen gevoel van aanspraak nie.  Almal volg die Steve Biko kode: jy kom self die mas op.

’n Skreiende jammerte
Dit sal ’n skreiende jammerte wees as ons die ware ondernemingsgees wat die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel ongetwyfeld besit, ondermyn deur een ‘dit-is-my-reg’-kultuur bloot met ’n ander te vervang.  Die Afrikaners is bevry deur ’n gelyke speelveld te skep.  Hulle het inderdaad van die nood ’n deug gemaak. 
Ek sluit af met ’n vraag: hoekom dink jy vaar Jode, Pakistani’s en Chinese soveel beter op ander speelvelde as by hulle eie tuisveld?  Hulle weet die resultaat hang geheel en al van hulle eie ywer af.  Afrikaners het daarin geslaag om hierdie sielkundige aanpassings te maak sonder om te emigreer.  Welgedaan!  Die volgende taak wat voorlê is om ons anderskleurige broers en susters op dieselfde manier te bevry.
*Hierdie artikel is eerste op News24.com gepubliseer.

CLEM SUNTER: Scenario-beplanner, toekomskundige en spreker

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication