Maar die Woord van die Here, dit bly vir ewig. En hierdie Woord is die Evangelie wat aan julle verkondig is.

1 Pet. 1:25.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View July 2014 Issue >>
 

Ilse Roux is die afgelope twee jaar deur ABIA (African Bridal Industry Academy) as die Wes-Kaap se trourokontwerper van die jaar aangewys. Sy put egter nie net vreugde daaruit om menige bruid se droom te bewaarheid nie, maar ook om in die voorbereiding van die Bruid van Christus betrokke te wees.

’n Meer intieme verhouding met God

Ilse het op laerskool haar hart “verskeie kere” vir die Here gegee en in Graad 10, op ’n ACSV-kamp, uiteindelik geloofsekerheid verkry. Ná jare van aktiewe betrokkenheid by haar kerk, het sy in 2008 ’n praatjie van Retha McPherson in Brackenfell bygewoon. Sy vertel: “Ek het dit aanvanklik nie besef nie, maar daardie dag het ek die doop met die Heilige Gees ontvang. Twee dae later het ek die teenwoordigheid van Heilige Gees oor my hele lyf ervaar. Dit het my verhouding met God heeltemal verander – meer intiem – iets waarna ek altyd gesmag het.”

Die belang van vas

Dieselfde jaar het Jentezin Franklin se boek, ‘Wanneer julle vas’, ook ’n nuwe Geestelike werklikheid vir haar oopgebreek. Vir die eerste keer het sy van die redes vir vas te hore gekom en van die verskillende soorte vas en duur van vastydperke gehoor. “Ek het die vas wat God verlang, waarna Jesaja verwys, ter harte geneem en het die bonatuurlike krag van God eerstehands beleef. Net soos ons die eerste tiende van ons inkomste vir die Here gee of aan die begin van die dag ons stiltetyd hou, vas ek graag aan die begin van ’n jaar vir wat voorlê; sodat God my nader aan Hom kan trek, kan toerus, leer en inspireer. Elke jaar stel unieke uitdagings aan ons sakebedrywe, bediening en ons persoonlike lewens. Jesaja 58:8 lui: ‘… Hy wat jou red, sal voor jou uitgaan, die mag van die Here sal agter jou aankom…’ Tydens elke vas suiwer God my hart en gedagtes; trek Hy my nader aan Hom en bevestig, of brei Hy my roeping uit.”

Begeerte om gedoop te word
’n Paar maande ná haar doop met die Heilige Gees het Ilse vir die eerste keer gevas. “Ek het drie weke lank op ’n Daniëlvas gegaan. Gedurende daardie tydperk het die woorde uit die Evangelies: ‘Bekeer julle en word gedoop,’ oral in my stiltetyd opgeduik.
Ek het naderhand gesê: ‘Here, ek is mos gedoop toe ek ’n baba was.’ Net daar besef ek toe dat babas hulle nie kán bekeer nie. Ek het ’n studie van al die verse oor die doop gemaak en kon nêrens die opdrag vind dat babas gedoop moet word nie. God se opdrag is baie duidelik: Bekeer julle en word gedoop.

’n Nuwe mens
Ek het ’n diep begeerte gehad om soos Jesus gedoop te word; onder die water gedompel. Dit simboliseer die ‘ou mens’ wat sterf en die ’nuwe mens’ wat opstaan. In daardie stadium was ons nie by ’n kerk wat sulke vreemde dinge gedoen het nie. ’n Moeder van ’n bruid wat haar rok by my laat maak het, het ingestem om my te doop.
In Matteus 28:19 kry elkeen van ons wat dissipels van Jesus Christus is, die opdrag: “...maak die mense My dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het...” Ek is op 31 Maart 2009 in ons swembad gedoop.

Van skoolhou na bruidsboetiek
Ilse was 11 jaar lank ’n biologie-onderwyser aan die Hoërskool Stellenberg, waar sy ook hokkie en atletiek afgerig het en by die CSV betrokke was. Naaldwerk was egter altyd ’n stokperdjie; sy was bekend as die biologiejuffrou wat matriekafskeidrokke en trourokke maak. Haar skeppings het een na die ander toekennings ontvang: “In 2003 het ek die eer-ste keer werklik God se opdrag in Maleagi 3 oor die gee van tiendes gesnap. Vier maande nadat ons ons volle tiende begin gee het, het ek my roeping ontvang: God het gesê: ‘Bid vir die bruide terwyl jy met hulle rokke besig is; seën hulle huwelike, want satan val huwelike aan.’ Ek het ’n jaar later uit die onderwys bedank om voltyds trourokke en aandrokke te maak.

Huweliksverryking
’n Paar jaar later (tydens ’n vas) gee die Here haar opdrag om nie net vir die bruid nie, maar ook die bruidegom te bid sodat die Here hom kan oprig as ’n koning, priester en profeet van sy huisgesin.
In 2011 (ook tydens ’n vas) brei Hy die opdrag weer eens uit: “Nooi getroude paartjies na huwelikseminare uit.” Ilse en haar man, Francois, het toe begin om huwelikseminare te reël.

’n Goeie span
Ilse en Francois het mekaar by ’n atletiekaf-rigtingskursus op Stellenbosch ontmoet: “Die lang, donker man met die sagte oë en groot hande het beslis my oog gevang…Hy het ’n atletiekafrigtingsboek vir my geleen. Maande ná die kursus het ek ’n metgesel vir ’n funksie nodig gehad en sy nommer was voorin die boek… Ons het twee jaar lank uitgegaan en is op 15 Desember 1998 op Malmesbury getroud.
Ons het van die begin af geweet dat ons ’n goeie span is. As sportbestuurder sê Francois graag: lede van dieselfde span, hou nie telling nie. Ons maak tyd vir mekaar, al is dit soms ’n uitdaging.”

Heelheid uit gebrokenheid
Aanvanklik het Ilse en Francois bloot die seminare gereël en ’n spreker genooi, maar ná ’n opleidingskursus in 2011, bied hulle die huwelikseminare nou self aan. Ilse vertel: “As onderwyseres het ek gesien hoe stukkend kinders kan wees wat uit gebroke huwelike kom. Daar word gesê: ‘Broken kids become broken parents and broken parents break their children.’ Ek glo God se hartsbegeerte is om hierdie negatiewe kringlope in positiewe getuienisse te omskep.”

Beywer julle vir God
Ilse se gunstelingteks is Matteus 6:33: ‘ …beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. Vir haar gaan alles om God en Sy plan vir Sy bruid: “Of ek nou broodjies inpak vir skool, op my knieë ’n trourok se soom sny, intree vir familie of vriende, ’n personeelvergadering lei, by ’n vroueoggend getuig, of ’n huwelikseminaar aanbied: Ek is besig om die bruid van Christus voor te berei (in vlees en in Gees), om vlekkeloos en skoon te wees, om wakker te wees wanneer Christus weer kom. Ek is bloot ’n dienskneg van die Allerhoogste God.”

Raad vir ’n suksesvolle huweliksdag.
• Gaan haal jou trourok ten minste drie dae voor die troue en neem jou ma of strooimeisie saam sodat hulle sal weet hoe om jou aan te trek
• Kies van die begin af gemaklike skoene. Moenie skoene se hoogte wissel nie. Jy kan jou rok raak trap
• Delegeer klein takies wat op die dag moet gebeur aan die koördineerder, bruidsmeisies of betroubare familie en vriende
• Maak seker dat jou geestelike voorbereiding net so deeglik soos jou fisieke voorbereiding vir die troudag is
• As jy vriendinne het wat ’n geestelike pad saam met jou stap, kan hulle jou salf in jou nuwe rol as eggenote, skoondogter en potensiële ouer
• Baie bruide wil voor die troue gewig verloor. As die bruid sou kans sien daarvoor, stel ek voor dat sy liewer fokus op haar geestelike voorbereiding en vir familielede, haar nuwe rol en hulle as egpaarspan deur byvoorbeeld te vas. Die gewigsverlies word dan ’n absolute byvoordeel
• ’n Huweliksvoorbereidingskursus is ’n waardevolle belegging in julle toekoms

Kontak Ilse vir meer inligting oor opkomende huwelikseminare of om as spreker op te tree by: ilse@ilserouxbridal.co.za of 021 - 919 8498, www.ilserouxbridal.co.za

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication