Jy moet die Here jou God liefhe met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.

Eksodus 20:1

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View September 2014 Issue >>
 

Onlangs het daar weer eens ’n hewige debat oor Afrikaans losgebars. Daar is ondermeer die voortslepende debat oor Afrikaans in tersiêre instellings asook die verskuiwing van Afrikaans van SABC 2 na SABC 3, wat daartoe lei dat minder Afrikaanssprekendes toegang tot Afrikaans op televisie het.
In die Rapport van 3 Augustus 2014 was daar ’n berig oor ’n Afrikaanse model, Anna Modler, wat deur die agent van ’n model-agentskap meegedeel is dat om te erken dat jy Afrikaans is, nie juis iets is waarop ’n mens trots behoort te wees nie en dat die model dit liefs nie in haar portefeulje moet noem nie. Hoe reageer ek as Christen op so iets?

Taalkwessie knaag

Dat daar ’n kwessie rondom Afrikaans is, is ’n feit. Die histories Afrikaanse universiteite moet ruimte maak vir Afrikaans- sowel as Engelssprekende studente binne die veeltalige konteks van ons land (niks daarmee fout nie). Die Engelsmedium-universiteite word egter hiervan uitgesluit. Hulle hoef nie Afrikaanse studente te akkommodeer nie; inteendeel, in ’n universiteit soos Unisa wat tweetalig was en vakke en studiegidse in Afrikaans en Engels aangebied het, word vakke toenemend uitsluitlik in Engels aangebied. Volgens prof. Wannie Carstens is die boodskap dus dat dit aanvaarbaar is as jy Engels praat, maar nie Afrikaans nie (Rapport 8 Junie 2014).

“Bitterbekke wat kla”
Prof. Hans du Plessis meen weer in die tydskrif, ‘Karring’ “die bitterbekke wat so kla dat dit deesdae kwansuis sleg met Afrikaans gaan, het die ding aan die stert beet. Dit gaan in die nuwe bedeling inderdaad goed met die taal Afrikaans.” Hy noem dat tradisioneel swart universiteite soos dié van Zoeloeland en die Noorde, meer as ’n duisend studente in die vak Afrikaans het, teenoor die drastiese afname (in sommige gevalle meer as 50%) in die vak Afrikaans by gevestigde Afrikaanse universiteite.

Christelike gesindheid
Daar is duidelik uiteenlopende menings en soms loop emosies hoog. Te oordeel aan die aggressiewe e-posse, briewe in koerante en facebook-opmerkings wat ek al teëgekom het, voel sommige mense dat ’n Christelike gesindheid en optrede nie vir gesprekke oor taalkwessies geld nie. Christenskap is soos ’n manteltjie wat vir eers uitgetrek kan word sodat daar ordentlik baklei kan word. Daarteenoor het ek onlangs ’n lesersbrief ontvang waarin die skrywer haar sterk uitlaat oor Afrikaans wat verafgod word: “Ek was tot so tien jaar gelede fanaties oor Afrikaans totdat die Here my ‘n ‘uitklophou’ gegee het met Filippense 3.” Volgens haar is al wat van belang is om die wenpaal vir Christus te behaal.

Ter wille van Hom

Val taal onder dié dinge waarna Paulus in Filippense verwys  wat as “verwerplik” beskou moet word? “Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry...” Filippense 3:7,8.

“Taal is nie vervangbaar nie”
Niemand leef in ’n kulturele lugleegte nie, elkeen word in ’n bepaalde kultuur groot en het ’n moedertaal. Marianne Mithun, ’n professor in linguistiek aan die universiteit van Kalifornië, stel dit so: “[Languages] are not interchangeable, precisely because they represent the distillation of the thoughts and communication of people over their entire history.”

Diversiteit God se idee
Hierdie diversiteit was God se idee. Verskillende tale was Sy breinkind: “Kom laat Ons afgaan en verwarring bring in hulle taal, sodat die een nie die ander verstaan nie...Daarom het hulle die stad Babel genoem, want daar het die Here in die taal van die aarde verwarring gebring, en van daar af het Hy die mense oor die hele aarde verstrooi.” Genesis 11:7,9. God put vreugde uit die diversiteit van Sy skepping. In Openbaring 7:9 en 5:9 word verwys na “elke nasie, stam, volk en taal” wat voor Hom sal verskyn en wat deur die bloed van Jesus losgekoop is.

Taal sekondêr tot Christenskap

Die diversiteit word problematies wanneer mý variëteit van daardie diversiteit my god word. Wanneer dít wat my van ander onderskei, aanbid word, eerder as die Een wat die diversiteit geskape het. Vir God is eenheid van belang: “Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.” Ef 4:3. Ons is eerstens kinders van God. Ons moet bereid wees om diversiteit ter wille van eenheid opsy te skuif. Ons verskille staan altyd sekondêr tot ons Christenskap.Hiermee sê ek nie dat jou taal nie van belang is nie en stem ek saam met Waldimar Pelser dat inklusiwiteit nie ’n verlies aan diversiteit is nie. Ek staan my taal voor waar ek kan (soos ek hoop elke ander moedertaalspreker in hierdie land sou doen), ek praat dit, lees dit, studeer  daarin en bid daarin. Weier ek om Engels te praat? Nee. Neem ek deel aan gesprekke oor taalkwessies en Afrikaans? Ja. Sal ek in argumente en rusies oor Afrikaans betrokke raak? Nee! “’n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal...met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys.” 2 Tim 2:23-24.

Praat met iemand se hart

Nelson Mandela word aangehaal: “As jy met ‘n man praat in ‘n taal wat hy verstaan, praat jy met sy verstand. As jy in sy moedertaal praat, praat jy met sy hart.” As taal nie van belang was nie, sou sendelinge nie die moeite gedoen het om die taal van die mense wat hulle wil bereik, aan te leer nie; kon Bybelvertalers hulleself baie moeite gespaar het en bloot tyd bestee  het om onbereiktes die hooftale (Chinees, Engels en Spaans) aan te leer sodat mense die Bybel daarin kan lees. Dit is egter juis in hierdie handeling van die sendelinge wat eie kultuur en taal opsy geskuif het, waar die antwoord lê – gedring deur die liefde vir Jesus, lê ons alles vir God en ons medemens neer, veral as dit beteken dat ek iemand vir Christus kan wen.My taal en kultuur is ’n kanaal waarbinne ek myself maklik uitdruk, waarin ek liefhet en leer, en in die samelewing funksioneer. Daar is druk op Afrikaans, maar ook op die ander inheemse tale (weliswaar het hulle nie ’n politieke apie op die skouer nie) en elke Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner sal moet besluit hoe belangrik moedertaalonderrig en hulle moedertaal vir hulle is. Hoewel ek lief vir Afrikaans is en dit sal ondersteun waar ek kan, is my doelwit altyd ten eerste om soos Jesus te wees. Rom 8:29.

* Vir ’n insiggewende artikel, ‘Afrikaans: Die pad van ons taal’, besoek ons webwerf www.juig.co.za en kliek op die Desember-2013-uitgawe.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication