Jesus het daarop gereageer: Ek verseker jou, as iemand nie van bo (opnuut)gebore word nie, kan Hy die Koninkryk van God nie sien nie.

Joh 3:3.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View October 2014 Issue >>
 

Die vorming van gedagtes – positief of negatief –  volg dieselfde proses. Gedagtes is bloot elektriese impulse, chemiese stowwe en neurone en lyk soos takke aan ’n boom. Namate die gedagtes ontwikkel en blywend word, groei daar meer takke en word die verbindings hegter. Wanneer ons anders begin dink, verdwyn sommige takke en vorm nuwes, die hegtheid van die verbindings verander en die herinneringe vorm ’n nuwe netwerk met ander gedagtes. Die brein het ’n ongelooflike vermoë om te kan verander, te herprogrammeer en te groei! Dit is waarna ons as die ‘vernuwing van jou denke’ verwys.
Wanneer jy dink, word jou gedagtes geaktiveer, wat weer jou ingesteldheid bepaal; jou ingesteldheid is die somtotaal van jou gedagtes en weerspieël jou denkwyse. Hierdie ingesteldheid word in die vrygestelde chemiese afskeidings gevorm. ’n Positiewe ingesteldheid lei tot die afskeiding van die korrekte hoeveelhede chemiese stowwe, en ’n negatiewe ingesteldheid versteur die chemiese afskeidings en ontwrig die natuurlike vloei daarvan. Die chemiese stowwe kan vergelyk word met sellulêre seine wat die inligting van jou gedagtes omskakel na ’n fisieke (tasbare) realiteit in jou liggaam en bewussyn en dít het ’n emosie tot gevolg.
Die kombinasie van gedagtes, emosies en die gevolglike ingesteldheid het ’n positiewe of negatiewe uitwerking op jou liggaam. Dit beteken dat jou denke en liggaam in werklikheid onafskeidbaar is en hierdie verbinding begin by jou gedagtes.

Inleiding tot die wetenskap van denke
Gestel jy lees terwyl daar klassieke musiek op die agtergrond speel. Jy sit in ’n gemaklike stoel, ruik pas gesnyde gras deur die oop venster en geniet ’n happie vrugte. Sou jy jou in hierdie idilliese prentjie bevind, sou al vyf jou sintuie – sig, gehoor, reuk, tassin en smaak – die kontak tussen jou eksterne en jou interne wêreld wees, en sodoende jou denke aktiveer.

1. DIE VYF SINTUIE: die poort
Terwyl die inligting deur die vyf sintuie jou brein binnestroom, versamel jou brein elektriese impulse deur jou periferale senuweestelsel (die kommunikasiestelsel tussen jou brein en jou liggaam). Jou sintuie word die poort na jou intellek; dit het ’n invloed op jou vrye wil en emosies. Die eerste stap in hierdie proses, die vorming van ’n gedagte en die insameling van elektriese impulse, verwerk die inkomende sintuiglike inligting sodat dit sin maak. Hierdie inligting word verder in breinstrukture geprosesseer, wat die inligting op pad ‘geur’, verryk en versprei na waar jy kan besluit of hierdie data blywend deel gaan word van wie jy is. Die opwindendste feit is die brein se vermoë om op toksiese of nietoksiese inligting te reageer, en die talle geleenthede wat ons het om die inkomende inligting te aanvaar of te verwerp. Jy kan die inkomende inligting beheer en ontslae raak van dit wat jy nie wil hê nie, voordat dit wortelskiet.

2. DIE TALAMUS: die sender
Wanneer die inligting jou brein deur enige van die vyf sintuie binnekom, gaan dit deur ’n belangrike sender (die talamus) wat hierdie inligting kontroleer en verwerk. Al die senuwees wat die verskillende dele van die brein verbind, kom by die talamus bymekaar. Die talamus kan met ’n lugverkeerstelsel vergelyk word.
Daar is geen sein uit jou omgewing wat nie deur die talamus gaan nie. Dit verbind die brein aan die liggaam en die liggaam aan die brein. Dit laat die hele brein toe om gelyktydig groot hoeveelhede belangrike data vanaf die eksterne én interne wêreld te ontvang. Die talamus stuur die elektriese data deur jou hele brein. Senuweeselle as bestaande gedagtes in die buitenste gedeelte van die brein (die serebrale korteks) word sodoende geaktiveer om jou te help om die inkomende inligting te verstaan. Die aktive-
ring van hierdie selle is wat ek die “breeze through the trees”-stadium noem. Hierdie senuweeselle, as bestaande gedagtes in die serebrale kor­teks, lyk soos bome in ’n woud en die aktivering is soos ’n bries wat daardeur waai; dit bring dan die bestaande gedagtes na die bewuste vlak. Hierdie komplekse uitsendings van inligting deur die serebrale korteks aktiveer jou ingesteldheid. Ingesteldheid is ’n denkwyse (alle gedagtes op die ‘bome’) en dit beïnvloed ons keuses en wat ons sê en doen.
As die ingesteldheid negatief is, sal die emosionele reaksie negatief of stresvol wees. As die ingesteldheid positief is, sal daar rustigheid wees. Die feit is dat jou ingesteldheid aan die lig sal kom, ongeag hoe hard jy probeer om dit weg te steek. Die geaktiveerde ingesteldheid word dan van die talamus af na die hipotalamus gestuur.

3. DIE HIPOTALAMUS: Die chemiese fabriek
Die hipotalamus is soos ’n chemiese fabriek waar die gedagtebou-prosesse plaasvind en bepaal die soort en hoeveelheid chemiese stowwe wat in die liggaam vrygestel moet word. Die talamus gee die teken aan die hipotalamus om chemies ’n reaksie op jou gedagtes voor te berei.
Die endokriene-stelsel is ’n groep kliere en organe wat hoofsaaklik hormone produseer en reguleer. Daar word dikwels na die hipotalamus as die ‘brein’ van die endokriene-stelsel verwys; dit beheer onder meer dors, honger, liggaamstemperatuur en die liggaam se reaksie op jou emosies. Die hipotalamus is soos ’n kloppende hart wat op jou emosies en gedagtewêreld reageer en ’n groot uitwerking het op hoe jy emosioneel en intellektueel funksioneer.
Dit beteken dat wanneer jy angstig of bekommerd is, die hipotalamus op hierdie angstigheid en bekommerde ingesteldheid reageer met ’n vrystelling van stresstowwe wat die pituïtêre klier – die hoofklier van die endokriene-stelsel – betrek. Die endokriene-stelsel skei die hormone af vir die organisasie van triljoene selle wat enige dreigende gevaar moet hanteer. Negatiewe gedagtes verskuif die fokus na beskerming en verminder jou vermoë om inligting met wysheid te verwerk, te dink, of om gesonde gedagtes te kweek.
As jy jou ingesteldheid verander en besluit om God se uitstekende raad te volg en jou nie te bekommer nie, sal dit die hipotalamus dié chemiese stowwe laat afskei wat ’n gevoel van vrede tot gevolg het.  Die res van die brein sal reageer deur die korrekte ‘formule’ neurosenders (chemiese stowwe wat elektriese impulse oordra) vir gedagtebou en helder denke af te skei. Hoewel jy nie altyd jou omgewing kan beheer nie, kan jy beheer hoe dit jou brein beïnvloed. Hoe? Die inkomende inligting is nog tydelik. Dit is nog nie in jou geheue geberg nie en het nog nie deel van jou geword nie. Jy kan kies om die geaktiveerde gedagte en inkomende inligting te verwerp, óf dit toe te laat om die weg in jou verstand (siel) en gees te baan, en uiteindelik jou onderbewuste binne te dring, wat beheer wie jy is, en daar weg te sink. Selfs al kan jy nie altyd jou omstandighede beheer nie, kan jy fundamentele keuses maak wat jou sal help om jou reaksie op jou omstandighede te beheer en toksiese toevoer na jou brein te verhoed.
Ons het die amigdala en die hippokampus om ons by te staan om goeie keuses te maak. Die amigdala hanteer die perseptuele emosies wat aan inkomende gedagtes verbind is, sowel as al die gedagtes wat reeds in jou brein geberg is. Die hippokampus hanteer geheue en motivering. Dit is hier waar jy nou doelbewus ’n rol kan speel deur te besluit of hierdie inkomende gedagtes deel sal word van wie jy is of nie.

4. DIE AMIGDALA: Die biblioteek
Die amigdala, ’n dubbele amandelvormige struktuur in jou brein, is ontwerp om jou liggaam en denke teen enige bedreiging – soos gevaar of stres – te beskerm. Dit is die dryfkrag agter geheuevorming deurdat dit die hippokampus beïnvloed om gevestigde inligting in ag te neem.
Die amigdala hanteer positiewe, liefdesgedrewe emosies soos vreugde en geluk, sowel as negatiewe, vreesgedrewe emosies soos hartseer, woede en jaloesie. Die talamus maak die amigdala bewus van enige inkomende inligting vanaf die vyf sintuie. Die amigdala voeg dan letterlik sy vingerafdruk op die inkomende inligting by – deur dit met emosie te ‘geur’.

Hoe doen die amigdala dit?
Die amigdala is soos ’n biblioteek wat die emosionele persepsies stoor wat elke keer tydens gedagtebou plaasvind – met ander woorde, elke keer wanneer ons ’n herinnering bou, aktiveer ons emosies. Die endokriene-stelsel en die brein moet die korrekte chemiese stowwe, wat nodig is vir die bou van gesonde of toksiese herinneringe, vrystel.
Omdat die amigdala voortdurend in kommunikasie met die hipotalamus is (wat chemiese stowwe in reaksie op jou ge-dagtelewe vrystel), kan ons liggaamsreaksies op ons denke ervaar. Hierdie fisieke reaksies (’n vinnige hartklop en adrenalien wat deur jou are pomp) dwing ons om te besluit of ons die inligting gaan aanvaar of verwerp, op grond van hoe ons fisiek voel.
Om ons verder te help het die amigdala kommunikasieverbindings wat aan die frontale lob verbind is, wat redenering, besluitneming, analise en strategering beheer – alles funksies van die uitvoerende vlak. Hierdie verbinding stel ons in staat om die emosies wat ons fisiek ervaar, op te weeg en verstandig daarop te reageer.
Hier is die opwindende nuus: ons kan nou besluit om te sê: “Ek kies nou om nie verder oor hierdie kwessie te dink nie,” en die tydelike gedagtes sal verdwyn. Die keuse om nie verder aandag aan die gedagtes te gee nie, laat gedagtes eenvoudig vervaag tot hulle verdwyn.
As ons egter aanhou tob oor die kwessie, vloei al die inligting (insluitend die toksiese of nietoksiese ingesteldheid wat na die bewuste gebring is) ’n seeperdjievormige struktuur binne – die hippokampus – en word daar geberg.
Die hippokampus is ’n soort sorteerlokaal vir gedagtes. Dit klassifiseer en liasseer inkomende inligting as lang- of korttermyn, dit skakel tydelike gedagtes na permanente gedagtes om, wat dan deel word van wie jy is. (’n Groot deel hiervan geskied snags terwyl jy slaap.)
Dit is nou wanneer ons lewensverande-rende besluite kan neem. Wil ek hê dat hierdie inligting deel van my word of nie? Hou in gedagte dat toksiese herinneringe stres veroorsaak en dat die hippokampus geweldig vatbaar vir stres is omdat dit ryk aan streshormoonreseptors is (klein seldeurtjies wat chemiese inligting ontvang), wat normaalweg gebruik word om herinneringe te versterk. Uitermatige stres is vir hierdie breinselle soortgelyk aan ’n klapper wat in ’n glasfles ontplof. Dit veroorsaak dat die hippokampus selle verloor en gevolglik krimp. Dit het ’n uitwerking op die kommunikasie tussen die hippokampus en die sentrale deel van die brein.

Ons moet besef dat toksiese denke ons sinne en gedrag negatief aantas. Wanneer ons verstaan hoe ’n gedagte vorm en wat die uitwerking daarvan op ons emosies en liggaam is, kom ons voor die keuse te staan: ons kan ons gedagtes toelaat om giftig en toksies te wees, of ons kan ons negatiewe denke ‘detoksifiseer’ wat dan ons emosionele welstand kan verbeter en selfs ons fisieke gesondheid kan herstel.

Wat verkies jy?
“Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou na­geslag kan lewe.” Deut 30:19.

Jy ervaar die uitwerking van al jou gedagtes jou hele lewe lank al en het dit waarskynlik nie eens geweet nie! Byvoorbeeld, het jy in die nadraai van ’n moeilike of traumatiese gebeurtenis al ooit siek geword? Jy het dalk nie die verband gesien nie en dit as ’n toeval beskou wanneer dit na alle waarskynlikheid die gevolg van toksiese gedagtes was wat hulle tol van jou gesondheid geëis het. Gedagtes is nie net wetenskaplik meetbaar nie, maar ons kan ook bewys hoe hulle ’n uitwerking op ons liggaam het.
Ons kan ons gedagtes en emosies voel

Emosies is betrokke by elke gedagte wat ons bou. Trouens, met elke herinnering wat jy skep, het jy ’n ooreenstemmende emosie wat daaraan geheg is, wat in jou brein gestoor word en as ’n fotokopie in jou liggaam se selle teenwoordig is. Emosies is aan gedagtes geheg. Hierdie emosies is baie werklik en verbind ons gedagtes aan die reaksie binne ons liggaam en brein. Dit word die psigosomatiese netwerk genoem. Hierdie emosies kan jare nadat iets gebeur het, weer opduik wanneer die herinnering aan daardie gebeurtenis, herroep word.
Om te demonstreer hoe dit werk: bestee ’n minuut daaraan om te fokus op ’n ontstellende gebeurtenis wat onlangs in jou lewe plaasgevind het. Terwyl jy diep oor hierdie voorval nadink, word bewus van hoe jy voel en hoe jou liggaam op hierdie gedagtes en emosies reageer. Deur weer oor die voorval te dink en dit op te roep, aktiveer jy ’n stroom chemiese stowwe. Hoe meer jy daaroor nadink, hoe sterker word die stroom en helderder die herinnering. Jy mag selfs kwaad, gefrustreerd of ontsteld word. Jy sal verstandelik en fisiek op die gedagtes begin reageer asof dit weer van voor af plaasvind. Dít waaroor jy dink, kan ontwikkel en groei.

Wat jy kies om oor na te dink, kan vreugde, vrede en geluk be-vorder, of die totale teenoorgestelde uitwerking hê. Trouens, jou gedagtes kan veranderinge teweeg bring, selfs tot op genetiese vlak, waar dit die samestelling van die sel herstruktureer. Wetenskaplikes het bewys dat hierdie herstrukturering dit vir siektes moontlik maak om vatplek in die liggaam te kry. Wanneer ons die keuse maak om nietoksiese gedagtes te dink, betree ons ’n hele nuwe terrein van brein- en liggaamsfunksies. “Goedvoel”-chemiese stowwe word vrygestel wat ons rustig laat voel en genesing, geheuevorming en diep denke bevorder, wat op hulle beurt weer intelligensie laat toeneem. Gesonde, nietoksiese denke help om ’n positiewe grondslag in die neutrale netwerke van die gemoed te kweek.

Hierdie positiewe gedagtes versterk positiewe kettingreaksies en stel biochemiese stowwe, soos endorfien en serotonien, vanuit die brein se natuurlike apteek vry. Gebaai in hierdie positiewe omgewing, floreer die intellek en tesame daarmee die verstandelike en fisieke gesondheid.

“ Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.” Fil 4:8.

’n Gedagte mag onskadelik lyk, maar as dit toksies word, kan selfs daardie vlietende ge-dagte fisiek, emosioneel of geestelik gevaarlik wees. Elke keer wanneer jy ’n gedagte vorm, is dit aktief besig om jou brein en liggaam te verander – ten goede of ten kwade.

Het jy al ooit moedeloos, ongefokus, of oorweldig gevoel? Het jy ongesonde gewoontes wat jy net nie kan verbreek nie? Genadig het ons nou ’n beter insig as ooit tevore in die wyse hoe ons gedagtes ’n uitwerking op ons emosies en liggaam het. Die grootste vreugde vir my as ’n wetenskaplike is dat dit alles met God se voorskrifte strook. Toksiese gedagtes is soos gif, maar die goeie nuus is dat jy die kringloop van toksiese denke kan verbreek. Jy kan die uitwer-king van toksiese gedagtes omkeer. Wanneer die kringloop van toksiese denke eers verbreek is, kan jou gedagtes inderdaad elke area van jou lewe verbeter – jou ingesteldhede, jou gesondheid en selfs jou sukses!

’n Gedagte mag onskadelik lyk, maar as dit toksies word, kan selfs daardie vlietende gedagte fisiek, emosioneel of geestelik gevaarlik wees.

Gedagtes is meetbaar en neem fisieke ruimte op. Gedagtes is aktief, hulle groei en verander. Gedagtes beïnvloed elke besluit, woord, daad en fisieke reaksie. Elke keer wanneer jy ’n gedagte vorm, is dit aktief besig om jou brein en liggaam te verander – ten goede of ten kwade.
Daar is 12 areas van toksiese gewoontes – ek noem hulle die ‘Dirty Dozen’ – wat so skadelik soos wesenlike gif in ons liggaam kan wees. Toksiese denke het elke dag ’n uitwerking op mense in verskillende lewensfases, in elke deel van die wêreld. Selfs ’n klein irritasietjie kan toksies word en daar moet van hierdie gedagtes ontslae geraak word!

Toksiese denke het stres as neerslag in jou liggaam; hierdie tipe stres is veel meer as net ’n vlietende emosie.
Stres is ’n oorkoepelende term vir die uiterste stremming wat toksiese denke op jou liggaamstelsels plaas. Dit beskadig die liggaam en die verstand op verskeie maniere met gevolge wat strek van gebrekkige geheue tot ernstige geestesgesondheids-, immuunstelsel-, hart- en spysverteringsprobleme.
Geen stelsel in die liggaam spring vry wanneer stres hoogty vier nie. ’n Groot hoeveelheid navorsing dui kollektief daarop dat tot 80% fisieke, emosionele en geestesgesondheidskwessies direk aan die gedagtewêreld gekoppel kan word. Daar is egter hoop! Jy kan die kringloop van toksiese denke verbreek en begin om gesonde gewoontes aan te kweek wat vrede in ’n stormagtige ge-dagtewêreld kan bring.

Toe ek meer as 20 jaar gelede oor die brein begin navorsing doen het, het die wetenskaplike gemeenskap nie die direkte skakel tussen die wetenskap van denke en die uitwerking daarvan op die liggaam aanvaar nie.
Die algemene mening was dat die brein soos ’n masjien is en sou ’n deel daarvan breek, kon dit nie herstel word nie. Daar is geglo dat die brein van geboorte bestem is tot agteruitgang met die ouderdom. Voeg by hierdie aanname dat ons deur erf-likheidsfaktore bestem is tot ’n voorafbepaalde uitkoms, en dit laat min hoop vir die toekoms.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication