Maar die man wat julle in die verwarring bring, wie hy ookal mag wees, God sal hom straf

Galasiers 5:10

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View November 2014 Issue >>
 

Vaste beginsels was ’n paar dekades gelede vir baie mense geen probleem nie – en in elk geval beslis nie vir mense in die Christelik-Afrikaanse gemeenskap nie.

Die Christelike leefstyl destyds
’n Christen is uitgeken aan sy of haar leefstyl gekenmerk deur vaste beginsels en gebruike wat anders was as dié van die wêreld. ’n Christen het ’n eenvoudige, letterlike uitleg van die boodskap van die Bybel oor bykans elke saak onder die son aanvaar, sonder om ongehoorsaamheid aan die Skrif as ’n opsie te oorweeg. ’n Christen was betrokke by sy kerk – Sondae met geestelike aktiwiteite gelaai. ’n Christen-dame se roklengte was nie ver bokant die knie of onderkant haar ken nie. Dit was net ’n ydel ‘dame’ wat haarself oorgrimeer het. Ordentlike meisies wat jy vir Ma kon gaan wys, het dit nie gedoen nie.

Duidelike standpunte
’n Christen het ’n duidelike standpunt teen die misbruik van drank, voorhuwelikse seks, pornografie, sekere tydskrifte en Sondagkoerante gehad. Om op die Christelike ‘Sabbat’ so iets te lees, was so verkeerd soos werk op Sondag.

Sondag is geheilig
Hier in die Vrystaat was daar nie op Sondae klubkrieket gespeel nie. Die stem van die kerk is gehoor én eerbiedig. Die Curriebeker vir krieket is oor die eerste ses dae van die week beslis. Op die sewende dag is daar gerus. Groot rugby was op ’n Saterdag. Die stilte van ’n Sondagoggend was ’n geestelike lafenis.


Voorlesing van die Wet
In ons kerke was dit geensins ’n vraag of die wet van die Here uit Eksodus 20 of Deuteronomium 5 voorgelees moes word nie. Dit is eenvoudig gedoen. Jy kon die woorde later voor die leraar uit sê: “Toe het die Here God al hierdie woorde gespreek en gesê…” Ons was gerat vir ’n mini-moraal van diens aan God.

Vaste beginsels
Met die verklaring van die Tien Gebooie uit die Heidelbergse Kategismus het ons egter ontdek dat hierdie gebruike op vaste beginsels gegrond is; dat jou onderskeid tussen reg en verkeerd steeds op die toepassing van hierdie beginsels berus het, en in elke nuwe era daarmee rekening gehou het. Vandag se gees van ’n relativerende postmodernisme was nog nie eers op die horison nie.

Gehoorsaamheid, liefde en respek
Ons kon insien dat die eerste vier gebooie daaroor handel dat jy God eer. As jy die Here regtig liefhet en respekteer, sal jy afgode soos geld en genot vermy; gebruik jy Sy Naam nie ydellik nie; eerbiedig jy die Sabbat.
Uit Romeine 13 het ons ook geleer dat eerbied vir gesag, die huwelik, nie steel of moor nie – nie eers met gedagtes of woorde nie – die gebruik van betroubare, opbouende woorde in jou kommunikasie en die regte begeertes in alles, alles op naasteliefde en respek neerkom.

Tien Gebooie bepaal jou lewe
As jy die Here liefhet én glo dat elke mens na die Beeld van God geskape is, is ’n Godgedrewe naasteliefde en respek ’n uitvloeisel daarvan; bepaal die Tien Gebooie, as vaste vertrekpunte of beginsels, jou lewe. Hierdie gebooie, wat volgens Deuteronomium 6:4 met hart en siel en al jou kragte uitgeleef moet word omdat die Here jou God is, is die Gebooie wat aandui dat jy die Here liefhet omdat Hy jou liefhet.

Eietydse toepassing van waarhede
Maar, net soos die kerklied of Bybelvertaling eietyds en verstaanbaar moet wees, net so is kleredrag vir kerk toe gaan en houdings van eer-bied vir God, ’n eietydse uitdrukking van respek vir die Here. Preke en openbare gebede wat van respek en dankbaarheid vir die Here getuig, moet ook afgestem wees op die huidige leefwêreld van diegene wat dit aanhoor. Die Woord van die Here met sy ewige waarhede moet in enige situasie of tydperk ontvang kan word.


Gehoorsaam uit dankbaarheid
Die gebooie van die Here is steeds van toepassing, dit is nie gekanselleer nie. Om die belang van hierdie kwessies uit te lig, het dit nodig geword om die beginsels rondom die Tien Gebooie as lering aan te bied.
In die eerste plek is die bevrydende woorde “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny bevry het…” deel van die Tien Gebooie. Die Here kondig eers Sy liefde en bevryding vir Sy kinders aan voordat Hy hulle vra om hulle hele lewe vir Hom te leef. Ons kan Hom en mekaar met dade van gehoorsaamheid liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het. Ons kan Sy gebooie uit dankbaarheid gehoorsaam. Hy sê: “Ek het julle bevry deur my Seun[...]in julle plek met Sy lewe vir julle skuld betaal het en weer opgewek is. Dieselfde krag wat Hom opgewek het, kan julle opwek om ewig gehoorsaam te leef.”

Nie ons wil nie
In die tweede plek bestaan opregte dankbaarheid nie uit wat ons wil nie, maar wat die Here wil. Met ons dank wil ons Hom bly maak. Daarom gaan dit oor gehoorsaamheid aan Sy wil en gebooie, en nie oor ons eie, mensgerigte, verdraaide begeertes nie. Die Here is ons Bevryder en gehoorsaamheid aan Sy gebooie ’n praktiese manier om ons hele lewe bevry te leef. “Ek is die Here jou God wat jou totaal, in alles wat jy doen, wil bevry…” Die Here stop nie by die siel van die mens nie. Sy bevryding sien niks in my lewe oor nie.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication