God is nie n mens dat Hy sal lieg nie.

Num 23:19a.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View February 2015 Issue >>
 

Soos baie ander jong paartjies het ek en my vrou, Linda, gedurende die eerste paar jaar van ons huwelik op ’n baie beskeie inkomste oorleef. Dit was onvermydelik dat ons van een salaristjek na die volgende geleef het. Die eerste twee jaar was veral moeilik. Ons was arm, maar gelukkig. Ons was aktief betrokke by ons kerk, ons woonstelletjie was skoon en netjies en die belangrikste van alles – ons het mekaar gehad. ’n Paar jaar gelede het ons finansiële swaarkry egter tot ’n einde gekom.

’n Seën of ’n vloek?
Ek het die onderwys verlaat en ’n beroep in die sakewêreld begin volg. In plaas van R120 000 per jaar, het ek nou R240 000 per jaar verdien – met ’n maatskappymotor! Terselfdertyd het my vrou gegradueer en voltyds begin werk. Binne die bestek van ’n kort tydjie het die Pearson-gesin se inkomste met 150% gegroei.

Om in ‘yuppie’-hemel te leef
Net soos dit dikwels gebeur met individue en gesinne wat in die valstrik van materia-lisme trap, het daar saam met die ekstra inkomste ’n innerlike dringendheid ontwikkel om die geld te spandeer. Ek het myself ‘bederf’ met ’n splinternuwe motorkar. Die vermoë om dit te kon koop, het kragtige gevoelens van eiewaarde en bewustheid van stygende status in my ontketen.
Ek het die motor elke dag gewas en een keer ’n week gepolitoer. Wanneer ek agter die stuur is, het ek gevoel hoe ek ons vroeëre ‘raapskraap-lewe’ al verder agterlaat.
Ek was in ‘yuppie’-hemel, maar sonder dat ek dit besef het, was my geestelike lewe besig om te sink. My toewyding aan Christus – my brandende geesdrif om Sy getroue dissipel te wees, het afgekoel.
Ek het steeds dieselfde leerstellings geglo, maar my daaglikse lewe het ’n ander leerstelling weerspieël – ’n leerstelling van welvaart, eiegeregtigheid en materialisme. Die dinge van hierdie wêreld het belangriker geword as die dinge van God. Die tevredenheid van vroeër is deur ’n voortdurende begeerte na meer en beter vervang. Ek het ’n swak Christelike lewe geleef en my dieper en dieper in die groef van begeerte en meer besittings ingegrawe.

Nederige berou
Genadig is ek deur die werkende krag van die Heilige Gees tot nederigheid gebring en wesenlik uitgedaag toe ek ’n paar maande aan ’n mannegroep behoort het en uit hulle voorbeeld geleer het hoe om ’n godvrugtige, voorspoedige lewe te leef – en nie deur besittings beheer word nie. Slegs ’n paar jaar te vore, het ek gevoel ek weet alles, maar nou was ek berouvol oor waar ek my bevind het.

Jou geld of jou lewe
Een van die wanopvattings wat dikwels oor geld en besittings uitgespreek word, is dat dit boos is en verwerp en verag moet word. As God jou met ’n groot aandeel in hierdie wêreld se goedere geseën het, beteken dit nie noodwendig dat jy ’n slagoffer van materialisme is nie. Wanneer jy jou rykdom en besittings belangriker as die dinge van God ag, word die perke egter oorskry.
“Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” Matt 6:24. Volgens Jesus sal een van die twee dus aan die kortste ent trek. Jy gaan óf jou toewyding aan God inboet deur aan jou begeerte vir die mooi besittings voorrang te gee, óf jy sal jou toewyding aan materialisme afskaal deur God met jou hele hart te volg – en dit behels opoffering, om eenvoudig te lewe, om te gee en om te dien.

Waar jou skat is…
Hoeveel van ons het snags al wakker gelê en planne beraam hoe om daardie nuwe stel gholfstokke of daardie nuwe Lexus te bekom. Hoeveel van ons het al gesê: “Die lewe sou volmaak wees as ek net …gehad het.”
Hoeveel van ons het ons al bevind waar ons ’n fyn etiese balans probeer handhaaf, reikend na iets wat buite ons bereik sal bly, tensy ons daardie grens oortree? Vir die Christen in die besigheidswêreld is materialisme ’n subtiele gevaar. Materialisme is nie so voor die hand liggend gevaarlik soos om te steel of om rond te slaap nie, maar dit is geensins minder dodelik vir jou emosionele en geestelike welsyn nie.

Rentmeesterskap of eienaarskap
Dit maak nie saak hoe min of hoe baie jy besit nie, God besit alles. Om te verhoed dat materialisme wortelskiet, moet jy besef dat jy ’n rentmeester van God se eiendom is.
As jy probeer om die waarde van jou lewe te bepaal volgens wat jy besit, het jy reeds misluk, omdat die hele idee van eie-naarskap op ’n fondasie van sand gebou is. Jy besit nie werklik enigiets nie. Alles wat jy besit, behoort aan God.
Wanneer ons vasklou aan ’n ingesteldheid van eienaarskap en eiegeregtigheid, beïnvloed dit ons perspektief oor ‘teruggee’ aan God. Soms dink Christene omdat God die eerste 10% besit (tiende), die ander 90% aan hulle behoort. Die doel van die tiende is nie om ’n winsdelingskema met God te deel nie.
God stel daarin belang hoe jy alles bestuur wat Hy jou skenk. Ons kan hierdie mynveld van materialisme vermy as ons onsself as rentmeesters beskou van alles wat ons besit, in plaas van om eienaars daarvan te wees. “Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here.” Ps 24:1.

Moenie bo jou vermoëns leef nie
Om op krediet te leef en dan nóg geld te leen om meer besittings aan te skaf, is die verskriklike valstrik van materialisme.
Toe kredietkaartmaatskappye besef dat mense op materiële vlak met mekaar meeding en tot sukses gemotiveer word deur die jaloesie van hulle bure, het sommige van hierdie maatskappye advertensies bedink wat hierdie drang uitbuit en aanmoedig.
As Christene moet ons ons prioriteite in plek stel en skatte in die Hemel opgaar en nie op aarde nie. God waarsku teen skuld; let wel, ek sê nie God verbied dit nie, maar skuld sal jou aan ander gebonde hou. Jy sal nie vry wees om die wil van God te doen nie.

Beskikbaarheid versus onbeskikbaarheid
Mense wat finansieel oorbelas is en ten opsigte van hulle be-roep en vryetydsbesteding oorlaai is, sal hulleself nie sommer beskikbaar stel vir diens aan God nie. Hoe sou jy Jesus se woord in Lukas 14:16-4 interpreteer as jy rentmeesterskap, tevredenheid, beskikbaarheid, eienaarskap en krediet in gedagte hou?
Die uitgenooide gaste wat in die gelykenis genoem word, was meer in ander belange geïnteresseerd as om die fees by te woon. Deur hulle toegewyde verbintenis met hulle eie agendas het hulle hulleself onbeskikbaar vir die fees gestel. Stel teenoor hierdie onbeskikbaarheid God se uitdaging in 2 Kronieke 16:9: “Die Here het Sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” As ons harte verteer word deur materialisme of om ’n groter bankbalans te bekom, kan God ons nie vir Sy doel gebruik en versterk nie.
Deur Sy genade skenk God jou soveel dinge in hierdie lewe en Hy verwag van jou om daarna om te sien sonder om daaraan verknog te raak. In die woorde van Joe Stowell, “The real point of materialism is not how much we have, but what has us.”

JAMES M. PEARSON is die outeur van die boek, ‘Minefields in the Marketplace’.

 

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication