Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?

1 Korintiers 4:7

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View March 2015 Issue >>
 

Teen dié tyd weet almal dat die fliek, ‘50 Shades of Grey’, mense na die teaters laat stroom het – ook sommige Christene.  ’n Onlangse stukkie Facebook-kommentaar van my het, soos die tieners sê, ‘viral’ gegaan.  Mense het mekaar aangeval; die hoofkarakter, Christian Grey, verdedig; hulle verhouding met Jesus probeer regverdig; en sterk uitsprake gelewer onder meer dat sulke boeke glad nie hulle verhouding met God of hulle huweliksmaats beïnvloed nie.  My keel het effe toegetrek om te sien hoe kinders van die Here in geestelike blindheid meegevoer word.  Hierdie artikel volg miskien ’n bietjie in die stilte ná die storm, maar ek voel steeds sterk daaroor om tog iets van my hart af te kry.

‘Wie is ons om te oordeel’ – die slagspreuk van ons tyd
Die titel van die fliek kondig reeds die waarheid aan – grys – die kleur van kompromie.  Dit laat my dink aan wat die Woord ons oor  louheid leer – iets wat God uitspuug.  Die verstommendste was die mense se aggressiewe kommentaar: “Wie is jy om my te oordeel?” 
Enige gesprek oor reg en verkeerd, sonde of nie, hetsy die geselsie by die werk, tussen vriende, of op sosiale media, bevat die woorde: Wie is ons om te oordeel…Elke mens maak sy eie keuses…Jy kan nie vir my besluit wat reg en verkeerd is nie. 

Die Woord soos dit ons pas
Het ons as Christene in ons eiewaan van menseregte, dalk die punt bereik dat nóg mense nóg God ons mag oordeel?  Lees ons God se Woord soos dit ons pas?  Is daar iets in ons diepste wese wat voel: Wie is die Heilige Gees om ons te oordeel?  Wat wil redeneer dat elke mens God se Woord tog lees en interpreteer soos hy wil, of hoe? 
Die hartseer saak is dat as iemand op sonde in sy lewe gewys word, almal na God se Woord gryp wat sê dat nie eers Jesus die prostituut veroordeel het nie; dat die een sonder sonde die eerste klip moet gooi – ’n lekker wegkruipvers om in sonde aan te karring.  Miskien moet ons onthou dat Jesus die prostituut vergewe het sonder oordeel, maar dat Hy haar ook gemaan het om dit nie weer te doen nie.

Die engel van die lig
As ons nie toelaat dat God se Woord ons gees, ons denke, keuses en leefstyl aanspreek en verander nie, sal die satan altyd tot ons manier van dink en leef toegang hê. 2 Tim 2:26 praat van die strik waarin ons trap – vir die satan om dan met ons te maak soos hy wil.  Hy kom in die gedaante van ’n liefdesverhaal van die onskuldige meisie wat weggevoer word deur ’n man in beheer. 
Die sterk intrige verblind ons vir al die boosheid van die BDSM (Bondage Discipline Sadomasochism) wat plek-plek plaasvind en die buitehuwelikse seks, om maar ’n paar te noem. As Christene moet ons so geoefen wees in die Waarheid dat die leuen homself ontbloot. 
As ons egter bereid is om so ’n bietjie van die leuen te verdra ter wille van die mooi storielyn, beweeg ons op die terrein waar die strik lê en wag.

Die spreekwoordelike padda in die warm water
Dit verg nie ’n Einstein om te sien hoe die wêreld die grense van wat reg en verkeerd is kort-kort verskuif nie.  Ons word omring deur sagte pornografie en kom dit nie eers meer agter nie. 
Homoseksuele verhoudinge word in elke tweede sepie en rolprent aangeblaas.  Buite-egtelike seks is die norm en saambly voordat ons trou, word nie meer veroordeel nie.  Is ons so gekondisioneer dat ons al in kookwater swem?

Sondige leefstyl geregverdig
Is die ligte vermaak van BDSM in die boek en fliek die begin van gewelddadige seks wat geregverdig word en eersdaags deur meer paartjies getoets gaan word in ’n soeke na iets nuuts vir die slaapkamer? Ons het reeds bekendes in ons land wat openlik in koerante en tydskrifte van hulle BDSM-leefstyl praat.

Een kleur van waarheid teenoor skakerings van sonde
My hart huil oor ons verslapte grense, ons louheid, ons selfregverdiging.  Bowenal huil my hart oor die gees van wellus wat ons kinders verteer – ’n gees waarvoor ons as volwassenes die deur oopmaak in die naam van avontuur en romanse.  Here, help ons!  Gee ons ’n gees van onderskeiding.  Gee vir ons die moed om U Woord te volg, ’n soeke na reinheid wat U Woord sal toelaat om ons te louter en te vorm, ons te weeg en ons te laat weet as ons te lou of te grys is.  As kind van die Here kies ek nie enige van die 50 skakerings van leuens, sedeloosheid of rebelsheid nie. Ek kies een kleur van Waarheid!

GRETHA WIID
is ’n verhoudingskenner, gasspreker en skrywer.  Volg haar op facebook of twitter

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication