Jesus het daarop gereageer: Ek verseker jou, as iemand nie van bo (opnuut)gebore word nie, kan Hy die Koninkryk van God nie sien nie.

Joh 3:3.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View June 2015 Issue >>
 

Rabbi Jonathan Cahn, hoof-rabbi by die Beth Israel Worship Center in Wayne, New Jersey, is tesame met ander Joodse en Christen-leiers, sakemanne en hooggeplaaste militêre amptenare uitgenooi om die Verenigde Nasies toe te spreek oor die verskerpte vervolging van Christene in die Midde-Ooste en ander dele van die wêreld.
Sewentig jaar gelede (1945), is die Derde Ryk se konsentrasiekampe bevry. Tydens die bevryding het die Geallieerde Magte die dorpenaars van die nabygeleë dorpies gedwing om deur die kampe te loop en die ondenkbare afgryslikhede waartoe Nazisme gelei het in die gesig te staar.

Die sonde van versuim
Vir die meeste mense wat in daardie dorpe naby die kampe gebly het, trouens, vir baie mense in die res van Duitsland, was dit nie so onverwags nie. Dit was alombekend dat daar jag gemaak is op die Jode en dat hulle in veewaens na konsentrasiekampe gestuur is, waar aaklighede en waarskynlike dood op hulle gewag het. Die inwoners het dit geweet, maar het niks gedoen om dit te keer nie. Hulle was immers nie self in gevaar nie. Waarom sou hulle hulle gemak, veiligheid, en welsyn vir diegene waag wat wel in gevaar is?
Toe hulle egter in die lente van 1945 deur daardie kampe stap, is hulle gedwing om nie net die boosheid van Hitler en Nazisme in die oë te kyk nie – maar ook hulle eie boosheid. Want, per slot van sake was dit hulle skuldige aandeel wat die kritieke en beslissende faktor was. Sonder hulle swyende medepligtigheid, sonder hulle sonde van versuim en selfbelang sou die massamoord van ses miljoen mans, vroue en kinders nooit kon plaasvind nie.

‘n Dowe oor vir hulpgeroep
In 1964 het ’n jong vrou, Kitty Genovese, in die stad waar hierdie byeenkoms belê is, haar woonsteldeur genader toe sy deur ’n man met ’n mes aangeval is. Die jong vrou is ’n halfuur lank  brutaal aangerand. Ten minste 12 mense het haar gille gehoor, of gedeeltes van die aanval gedurende daardie 30 minute gesien, maar die meerderheid het niks gedoen om haar te help nie.
Party was nie seker waaroor die gille buite hulle geslote vensters gaan nie, maar hulle het nie die moeite gedoen om uit te vind nie. Buite was dit koud en hulle was gemaklik in hulle warm woonstel. Een buurman wat die aanval gesien het, het gewonder of hy selfs die moeite moet doen om ’n ander buurman te vra om die polisie te bel. Sy verweer: “Ek wou nie betrokke raak nie.” As gevolg van die bystanders van hierdie stad is Kitty Genovese se lewe gewelddadig buite haar woonsteldeur kortgeknip.

Christene vandag se slagoffers
En tans, terwyl ons in die stad van die bystanders van daardie misdaad vergader is, vind ’n ander misdaad net buite ons vensters plaas. Sewentig jaar nadat die bystanders van Nazi-Duitsland deur die doodskampe van die volksmoord gestap het, is daar nog ’n stroom slagoffers wat na hulle dood gelei word.
Weer eens behels dit ’n sataniese boosheid van haat, geweld en sadistiese wreedheid. En weer behels dit ’n onskuldige bevolking wat uitgesonder is om uitgewis te word – die volgelinge van Jesus, wêreldwyd bekend as ‘Christene’. Diegene wat geleer is om, wanneer hulle geslaan word, die ander wang te draai; wanneer hulle gevloek word, te seën; en wanneer hulle vervolg word, hulle onderdrukkers te vergewe. Hierdie groep is verreweg die mees vervolgde godsdiensgroepering ter wêreld, verdruk, geteister, gejaag en vermoor – mans, vroue en kinders – die lammers ter slagting van die moderne wêreld. 

Die wêreld ‘gesuiwer’  van Christene
Ons is hier in die mees eerbiedwaardige vergaderplek van die nasies byeen, waar konings, leiers, ambassadeurs en afgevaardigdes vergader om internasionale kwessies te bespreek, terwyl Christene vervolg word binne die grense van 60 van daardie nasies deur hulle eie regerings, of deur diegene in wie se midde hulle woon – van Noord-Korea, Iran, Afganistan, Sirië, Nigerië, Irak, Pakistan, Viëtnam tot Indonesië en baie, baie ander lande. 
In Noord-Korea word Christene gevange geneem, na werkskampe gestuur, gemartel en vermoor vir die misdaad om in besit van ’n Bybel te wees. In Nigerië is hele bevolkings van Christen-dorpies uitgemoor. In Orissa, Indië is 70 000 Christene gedwing om uit hulle huise te vlug. In Sirië is 80 000 Christene uit hulle huise, en ek haal aan, “gesuiwer”. In Indonesië het Moslems 10 000 Christene om die lewe gebring.

‘n Bloedbad van onskuldige lewens
En nou, na bykans 2 000 jaar, bestaan die gevaar dat van die mees antieke Christengemeenskappe – van die Kopte van Egipte tot die Nestoriaanse en Assiriese gelowiges van Sirië, tot die Chaldeeuse en Assiriese gelowiges van Irak – uitgewis gaan word. Dit is volksmoord. Namate die boosheid van ISIS en sy bondgenote oor die Midde-Ooste uitbrei, word ’n antieke beskawing stelselmatig uitgeroei; die bevolking sterf, word gekruisig, onthoof en lewend in hulle geboortegrond begrawe. Die ‘Vicar van Baghdad’ het hierdie jaar vertel hoe ISIS vier Christen-kinders beveel het om Jesus te verloën en Mohammed te volg. “Nee,” het die kinders gesê, “ Ons is lief vir Yeshua...Hy was nog altyd by ons gewees.” Dít was die laaste woorde wat die kinders ooit geuiter het omdat ISIS hulle onthoof het.

Waarom bly die wêreld stil?
Ons hoor van die verhale van die vroeë Christene wat Romeinse arenas binnegelei is om deur wilde diere verskeur te word. En ons verwonder ons hoe barbaars en onbeskaafd daardie tye was. Ons wonder wat ons sou doen as ons daar was. As ons toe geleef het en die lewens van die onskuldiges kon red, sou ons hulle red?
Die waarheid is dat ons tans in sulke tye leef. Meer Christene is tydens die moderne era vervolg, vermink en vermoor as in enige ander tydperk. Elke jaar word duisende Christene van hulle menswaardigheid ontneem, gemartel en vermoor, en meer as 100 miljoen Christene leef in die skadu van vervolging. Dit is die moderne era wat die mees onbeskaafde en barbaarse tye oplewer. Wat doen ons wanneer Christene weggelei word om verslind te word?

Jou stilswye laat hierdie barbaarse slagting toe
Hierdie einste instansie, die Verenigde Nasies, het die Universele Verklaring van Menseregte aanvaar wat verklaar dat elkeen die reg het om “sy godsdiens of oortuiging in lering, praktyk, aanbidding en nakoming daarvan uit te leef.”
In die Wêreldspitsberaad se uitkomsdokument van September 2005, paragraaf 139, het die Verenigde Nasies verklaar dat dit die internasionale gemeenskap se verantwoordelikheid is om bevolkings van volksmoord, etniese suiwering en vergrype teen die mensdom te beskerm. Die vraag moet dus gevra word, “Waar is al die resolusies? Waar is al die troepemagte? Waar is al die optrede wat geneem is om die mees vervolgde mense op aarde te beskerm? Waar is die universele uitroepe daarteen? Daar heers ’n eienaardige en immorele stilte, dieselfde eienaardige en immorele swye wat toegelaat het dat 6 miljoen Jode aan die dood uitgelewer is.

Die bevordering van boosheid
Ons moenie dieselfde fout van die vorige eeu begaan nie. Boosheid bly nooit net waar dit is nie. Dieselfde duisternis wat 6 miljoen Joodse lewens verwoes het, kan meer as 60 miljoen lewens wêreldwyd vernietig.

Passief teenoor verdrukking
Die Christen is nou die teiken, en is toenemend in gevaar. As ons nie afreken met daardie boosheid wanneer dit andere in verre lande teiken nie, sal ons verseker daarmee moet afreken wanneer dit ons hier ter plaatse teiken.
Geen beskawing kan homself as moreel bestempel as dit nie die weerloosstes beskerm teen dit wat daarop uit is om hulle te verslind nie. Geen nasie kan homself as goed bestempel as hy agteroor sit en niks doen terwyl magte van die bose die onskuldiges vermoor nie. Niemand kan homself ’n Christen noem as hy passief van die kantlyn af toekyk terwyl diegene wat die naam van die Messias dra, verdruk en vir hulle geloof vermoor word nie.

Dink aan diegene wat ly
As ons geloof geskoei is op hoe gemaklik en voorspoedig God ons in hierdie wêreld kan maak; as ons ons doof hou vir die hulpgeroep van diegene wat nóg gemaklik nóg voorspoedig in hierdie wêreld is – ons broers en susters wat opgesluit is en vir hulle geloof gemartel word – hoe kan ons die naam ‘Christen’ dra? Op die Oordeelsdag sal ons gevra word: “Waarom het jy niks gedoen om hulle te red nie?” Wat sal ons antwoord wees?
Daar staan in die boek Hebreërs: “Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is...” Dus, terwyl ons in ons lugversorgde huis op ons rusbank voor ons televisiestel sit, hou ons ons broers in gedagte wat op die klipvloere van gevangekampe sit waar hulle vir hulle geloof ly? Hulle sou aan ons sê: “Moenie van ons vergeet in ons lyding nie.” “Dink aan ons.” “Onthou ons wanneer ons vyande kom om ons lewens te neem.” “Moenie vergeet dat ons geleef het en dat ons ons lewens vir ons geloof en om Sy Naam ontwil neergelê het nie.” 

Moenie skuldig bevind word nie
Ons durf hulle nie vergeet nie. Ons moet hulle onthou. En ons moet hulle help. Wat sou jy doen as ’n bende misdadigers in jou buurt die huis langsaan oorgeneem het en jou bure as gyselaars aanhou? Wat as hulle jou bure elke dag onderdruk, verneder, slaan, mishandel, martel en planne maak om hulle dood te maak – pa, ma en kinders?

Wat as jy elke aand deur jou venster hulle gedempte gille om hulp kon hoor, maar niks gedoen het nie? Jy het nie pogings aangewend om hulle te red nie. Jy het nie ander bure vertel en saam met hulle planne beraam om te help nie. Jy het nie eens die moeite gedoen om die polisie te bel nie. Hoe sal jy uiteindelik hieroor beoordeel word? Die antwoord is onvermydelik: jy sou skuldig bevind word, immoreel; jy sou as boos veroordeel word.

Wat sal jy doen?
Wat as hierdie mense nie langsaan nie, maar verder af in die straat gewoon het. Wat as hulle ’n dorp verder gewoon het, ’n nasie verder, of ’n oseaan ver? Sou dit ’n verskil maak? Wysig of verminder geografiese ligging op enige manier die aanklag en vereiste vir moraliteit? Nee. As mans, vroue en kinders dus wêreldwyd tans gevange gehou, geslaan en gemartel word, en in gevaar staan om doodgemaak te word terwyl ons daarvan bewus is en hulle veraf gille hoor, maar verkies om niks daaraan te doen nie, hoe sal ons op die ou end beoordeel word? Ons sal ook as skuldig en immoreel veroordeel word. Ons sal as boos veroordeel staan.
Daar staan geskryf dat ons op die Oordeelsdag aanvaar of veroordeel sal word deur die goeie of slegte dade wat ons aan God gedoen, of nie gedoen het nie. Wanneer ons Hom vra: “Wanneer het ons goed aan U gedoen?” of “Wanneer het ons teen U gesondig?” Sal Hy antwoord: “Toe julle dit aan die geringste van hierdie broers aan my gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”
Daarom, as ons weier om betrokke te raak en hulle, die minste van Sy broers, te help, wat doen ons? Ons weier om die Messias te help. As ons ons doof hou vir hulle hulpgeroep, hou ons ons doof vir die hulproep van die Messias.
En op daardie dag, sal Hy vir ons sê: “Toe My dorpie in Nigerië afgebrand is, hoekom het jy niks gedoen om My te help nie? Toe Ek ’n gevangene in ’n werkskamp in Noord-Korea was, waarom het jy van My vergeet? Toe ISIS gekom het om My gesin uit te moor, waarom het jy ons nie gehelp nie? Toe Ek gemartel is, toe Ek onthoof is, toe Ek lewendig begrawe is, toe Ek gekruisig is, waarom het jy My uitroepe om hulp geïgnoreer? Waarom het jy My laat vergaan? Gaan weg van My af, Ek het jou nooit geken nie.”
Wanneer daardie dag kom, laat niemand van ons sê dat ons die hulproep van God gehoor het en niks gedoen het om Hom te help nie. In die duur van hierdie sessie, sal meer mense aangerand word, meer lewens kort geknip word.
As dit jou gesin was wat op die randjie van uitwissing staan, as dit jou lewe was wat op die punt staan om geneem te word, as dit jou kindjie was wat hulle gaan onthoof en daar was mense wat kon help, maar het gekies om dit nie te doen nie, wat sou jy dink? Laat ons dan die enigste regte en morele ding doen wat ons kan doen. Soos dit in die Skrif sê: “Red dié wat na hulle dood toe gesleep word.”
Moenie in die annale van die geskiedenis opgeteken word, en onder die oordeel van God val as die bystander wat die boosheid gesien het, maar niks gedoen het om dit te stop nie; wat die gille van die Kitty Genovese’s van hierdie wêreld gehoor het, maar gekies het om hulle buite jou deur te laat sterf nie; wat gekyk het hoe veewaens die onskuldiges aan hulle dood uitgelewer het en gekies het om te swyg. Moenie skuldig staan aan nog ’n volksmoord nie.
Maak jou venster oop en hoor die hulpgeroep. Maak jou deur oop en stap by jou huis uit. Maak jou hart en jou lewe oop en doen wat dit ook al is wat jy moet doen om hulle te red.
Jesus Messias roep uit! Jesus Messias word lewend begrawe! Jesus Messias word onthoof. Jesus Messias word gekruisig...weer ’n keer! Red Hom! Bevry diegene wat aan die dood uitgelewer word! Om Hemelsnaam...doen wat reg is!

Wat kan jy doen om te help?
Die media vertel ons van die skade wat ISIS, regeringstroepe, anti-regeringstroepe en minstens nog meer as tien ander tipies fanatiese groepe in Sirië aanrig. Ons sien die onthoofdings en lees die berigte van nóg vyftig of tagtig of honderd mense wat doodgeskiet is. En dit is waar. Maar, daar is ook ‘n ander storie. Die storie waar Jesus Homself deur middel van drome en visioene aan tienduisende Siriërs openbaar. Stories van Bybelstudiegroepe wat ontstaan, duisende bekerings (letterlik), genesings en wonderwerke wat plaasvind. Ons hoor van honderdduisende Christene wat uit die land vlug, maar te midde van die pyn en chaos is daar ‘n totaal nuwe Kerk besig om tot stand te kom.
Baie van ons bid, maar ons hoor selde dat God ons gebede beantwoord. Daar is konsensus dat daar gedurende die afgelope tien jaar wêreldwyd meer Moslems tot bekering gekom het as gedurende die vorige 1 400 jaar. Wat ons in hierdie generasie sien gebeur, het geen ander generasie voor ons aanskou nie.
Die verhale van die ervarings van ontwortelde mense in die vlugtelingkampe in Jordanië, Libanon en Turkye, is absoluut hartverskeurend. Tog is dit terselfdertyd wonderlik om te hoor van die toevloed van gelowiges vanuit ’n Moslem-agtergrond in die kerke. Tans is die grootste kerk in Libanon ’n nuutgestigte kerk van sulke gelowiges vanuit ’n Moslem-agtergrond. Wanneer mense gevra word waarom hulle na Jesus toe kom, sê hulle dit is omdat die werklikheid van die stelsel waaronder hulle voorheen was, duidelik blootgelê is en in teenstelling daarmee ook die werklikheid van die liefde en genade in Jesus Christus. Hulle getuig dat die liefde en barmhartigheid van die Christene hulle oortuig dat Jesus die weg is.
Daar is byvoorbeeld die getuienis van ’n sjeik wat die Sharia-wet aan ISIS-soldate geleer het. Hy het ontnugter geraak deur alles en na ’n naburige land gegaan op soek na iemand wat hom van Jesus kon vertel. Hy het tot bekering gekom en is nou besig om sy eie mense te evangeliseer. In ’n ander geval het ekstremiste ’n Bybelstudie saam met ’n groep mense begin wat ISIS steun. Toe hulle gevra is waarom hulle die ‘Injil’ (Nuwe Testament) bestudeer, het hulle verduidelik: “Al wat ons ken, is haat, oorlog en woede. Geen liefde nie, geen genade nie. Maar die bestudering van die ‘Injil’ (Evangelie) oor Isa (Jesus) het begin om die brandende honger in ons harte te stil...” 

Hoe kan jy betrokke raak?
1. Daar is niks belangriker vir jou om te doen as om te bid nie. Niks is belangriker nie. Die heel grootste rede vir die groot hoeveelheid bekerings onder Moslems in die Midde-Ooste en Noord-Afrika is die buitengewone toename in die hoeveelheid gebed vir Moslems oor die afgelope 25 jaar. Daar is baie gebedsinisiatiewe waar daar vir Moslems gebid word. Een daarvan is M5. M5 behels ‘n e-pos wat twee keer per week uitgestuur word wat mense versoek om twee keer per week vir minstens vyf minute lank vir Moslems te bid. Stuur ‘n e-pos aan m5@jwipn.com en vra dat jou naam op die adreslys geplaas moet word. (e-pos slegs in Engels beskikbaar.)

2. Jy kan finansieel gee. Die geld sal geneem word na bedieninge in Jordanië en Libanon wat direk met Siriese vlugtelinge werk.

Rekeningnaam: Refugee Support
ABSA Spaarrekening: 905 6716 585
EFT Takkode: 632005

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication