Vra My, en Ek sal jou antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel. Dit is nog vir jou n geheim, en jy weet niks daarvan nie.

Jer 33:3.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View July 2015 Issue >>
 

Drie gewapende Taliban-rebelle het verlede jaar ’n gebou in Kaboel binne-gebars en drie Suid-Afrikaners en twee Afgaanse burgers in die Afgaanse hoofstad vermoor.

Dr. Hannelie Groenewald se man, Werner, en hulle twee tienerkinders, Jean-Pierre (17) en Rode (15), is doodgeskiet in die gebou wat as hulle kantoor en woning gedien het.

Hannelie het die Saterdagmiddag laat vanaf haar werk by ’n mediese kliniek by die huis aangekom, en is nie toegelaat om naby die toneel te kom nie. Christen-medewerkers het haar kom haal en ingelig oor wat met haar gesin gebeur het en na hulle huis geneem vir die nag. 

Die gebou het aan die brand geslaan nadat die Afgaanse polisie ’n RPG 7 na die huis afgevuur het om te verseker dat al die aanvallers dood is. In die brand is al die gesinsdokumente en besittings verbrand wat Hannelie met slegs die klere aan haar lyf gestrand gelaat het.

Ek het die voorreg gehad om Hannelie ’n paar maande ná hierdie tragedie te ontmoet. Ek is geraak deur haar kalmte en vasberadenheid om voort te gaan met haar werk vir die Here. Hier volg ’n uittreksel van ons gesprek...

Wat het in Kaboel gebeur?
Die inligting wat in koerante gepubliseer is direk ná die aanval, is nie feitelik korrek nie. Werner is onder in die kelder van die huis (konferen-siekamer) doodgeskiet waar hy met ‘n opleidingsessie besig was. Een van die aanvallers het na die kelder beweeg waar Werner en verskeie Afgane was en twee aanvallers het boontoe na ons wooneenheid gegaan en die kinders met AK-47’s en 9 mm pistole in my seun se kamer afgemaai. Werner se aorta en femorale arterie is raakgeskiet. Hy het nooit die geleentheid gehad om boontoe te gaan en ons kinders te probeer beskerm nie.  Die kinders se liggame is deur ‘n wonderwerk van God bewaar, omdat die hele wooneenheid tot as verbrand het. Die vlamme het egter geen skade in my seun se kamer aangerig nie. Die vuur en vlamme het sy kamerdeur tot as verbrand, maar het net daar gestop. 

Het die Afgaanse polisie of weermag jou bygestaan? Is iemand al in hegtenis geneem?
Ek het geen hulp van die Afgaanse polisie ontvang nie. Hulle het my nie eens tydens die ondervraging op die aand van die aanval ingelig dat my hele gesin uitgewis is nie. 

Die liggame is eers vier dae ná die aanval verwyder en na die forensiese departement geneem. Die yskaste daar was baie swak, en ek moes veg om hulle liggame gedeeltelik gebalsem te kry. Niemand wou my help nie. Een Afgaanse dokter het ná ure se wag, aangebied om te help, indien ek hom sou bystaan om my mense se liggame te balsem. Dit was ‘n skok, maar ook helend omdat ek tydens die balseming besef het dat al drie my geliefdes genadig nie gely het nie. Hulle liggame was stukkend...Terwyl ek daar gestaan het, het ek die voorreg gehad om die Boodskap van redding en verlossing deur geloof in Jesus, aan my Amerikaanse medewerker te deel, asook aan die Afgaanse dokters wat teenwoordig was.

Die Afgaanse inligtingsdienste het my gevolg totdat ek Kaboel verlaat het. Die Suid-Afrikaanse polisie het ’n moorddossier oopgemaak, maar nadat ek my verklaring afgelê het, het daar niks van gekom nie. Niemand is in hegtenis geneem nie en ek twyfel of dit ooit in die toekoms sal gebeur.

Wat het julle in Afganistan gaan doen?
Ons het in 2002 ’n roeping van die Here ontvang om Sy hande en voete in Afganistan te wees. Werner was die nasionale direkteur van Partnership in Academic Development (PAD) en was onder meer betrokke by die leierskaps- en gemeenskapsopleidingskursusse en Engels-as-tweede-taal-klasse (ESL).

My eerste verantwoordelikheid was teen-oor Werner en ons kinders. Ek het die kinders tuis onderrig en Werner in sy bediening ondersteun. Ek was ook by die gemeenskaps-ontwikkeling vir Afgane betrokke sowel as oriënteringskursusse vir nuwe Christen-werkers van die buiteland. Ek was altyd gereed met ’n bord kos of ’n koppie koffie en koek vir buitelandse besoekers.

Dit was ’n uitdaging om die balans te behou tussen my pligte by die huis en die groot aanvraag na die dienste van ’n Westerse dokter. Ek het ’n klein kantoortjie by die huis gehad waar ek pasiënte behandel het nadat die dag se skoolwerk afgehandel is. Ek het voorskrifte uitgereik, en soms is ’n pasiënt wat nie die medikasie kon bekostig nie, ’n geldjie in die hand gestop. Twee tot drie keer per week het ek by ’n Afgaanse kliniek gewerk wat op Wes-terse pasiënte gefokus het. Die salaris wat ek daar verdien het, was genoeg om ons Afgaanse kantoorwerkers te betaal. 

Het julle veilig gevoel in Afghanistan?
Omdat ons ’n duidelike roeping van God ontvang het, het ons geweet dat ons ’n mandaat het om in Afganistan te woon en te werk. Ons het geweet dat ons gekies het om in ’n gevaarlike land te gaan werk en mense moet beslis nie met hulle gesinne in Afganistan gaan werk en woon, tensy hulle ’n duidelike roeping van God ontvang het nie. Ons het geweet dat ons gehoorsaamheid ons duur te staan kon kom. Ons moes bereid wees om ons lewens neer te lê. Ons moes bereid wees om aan ons “selflewe” en ons menslike behoeftes te sterf en Jesus te volg. Die lewe daar was moeilik, dit was nie ’n vakansie nie. Omdat ons geweet het dat ons daar moet wees, het ons nie in vrees geleef nie. Ons lewens en veiligheid was in God se hand en ons het geweet as iets met ons gebeur, sal dit wees omdat God ’n groter doel daarmee het. [Werner het gesê: “Ons sterf net een keer...dit kan net so wel vir Jesus wees.”] Ons het so normaal moontlik probeer leef. Ek het my eie kar besit en het gaan inkopies doen. Werner en Jean-Pierre het vroeg in die oggende gaan fietsry om fiks te bly vir fietsrykampioenskappe in Suid-Afrika. Die lewe was egter baie meer beperk vir my en Rode omdat ons vroue in ’n Moslem-land was. Vir ’n tienermeisie was haar lewe en fisieke vryheid erg ontwrig en dit het baie vrae in my gemoed laat ontstaan.

Dit is ’n verskriklike ervaring wat die meeste mense sou vernietig. Wat het jou gehelp om jou geloof te behou?
In Afganistan het ek juis weens die uiters moeilike omstandighede geleer hoe om sonder voorbehoud op God te vertrou. Ek moes leer om met my hele hart op Hom te vertrou – in Sy liefde vir ons. Die lewe dáár het my vir hierdie vurige beproewing voorberei. 

Ek het nie antwoorde vir al die moeilike kwessies van die lewe nie, maar ek vertrou 100% op die Here. Hy het die antwoorde, Hy sien die groter prentjie. Terwyl ek in Afganistan gewoon het, het ek ’n diep, intieme liefdesverhouding met God ontwikkel wat ek vir niks sal verruil nie.

My diep geloof, kinderlike vertroue en ervaring van God se grootheid, goedheid en wonderbaarlike ingryping deur die jare heen in talle situasies in ons lewens, het my gehelp om uit die as op te staan. Dit is asof God my ’n kykie in Sy perspektief oor die gebeure gegee het; ek het geleer om nie te fokus op dit wat ek om my sien nie, maar om na Christus te kyk. Hy is altyd in beheer. Hy is nie onverhoeds deur die aanval betrap nie.

My verhouding met Christus het ingrypend verdiep oor die laaste ses maande. Ek het die krag en vertroosting van die Heilige Gees in my lewe ervaar. Ek ervaar hom as ’n God wat waarlik Sy beloftes nakom, ’n God wat voorsien en ’n Vader van liefde.

Wat is jou planne vir die toekoms?
God het my gelei om nie na die sekulêre mediese sektor terug te keer nie. Ek bly in Sy diens. Of dit in die toekoms geneeskunde sal insluit, en of dit weer buite die grense van Suid-Afrika sal wees, weet ek nie. Hy sal my lei wanneer die tyd reg is. Voorlopig weet ek dat ek ’n getuienis het om in die wêreld uit te dra. Mense wat louwarm in hulle geloof geword het, moet hulle harte weer na die Here keer, want daar is baie min tyd oor voor Sy wederkoms. Mense moet gereed wees vir die uitdagendste tye ooit wat voorlê, swaarkry wag op die mensdom.


Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication