Vertrou jou lewe aan die Here toe. Vertrou Hom en Hy sal vir jou sorg.

Ps 37: 5.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View July 2015 Issue >>
 

Gesag is deesdae so skaars soos hoendertande omdat respek blykbaar nie meer mode is nie. Ouers en onderwysers kla dat hulle nie meer gesag het nie. Die grondwet en die postmoderne kultuur het hulle van hulle gesag ontneem – of so lyk dit. 

Hoe het ons kultuur daarin geslaag om ge-sagsfigure belaglik en ongewild te maak? Hoe het oneerbiedigheid so aanvaarbaar geword? Daar is talle skuldiges, maar ek glo dat drie van hulle tot verantwoording geroep moet word: die massamedia, die humanis...en ons.

Massamedia se aanval op gesag
Een middag het ek televisie gekyk om die nuutste kinderprogramme te evalueer. Ek het op ’n program afgekom waarin kinders ’n gesagsfiguur van hulle keuse tot ’n kompetisie voor ’n gehoor kon uitdaag. As die kind wen, kan die pa, onderwyser, oom of afrigter in ’n vat vol jellie gegooi word; kan die kind hulle met ’n roomkoek of meelbomme bestook, of op enige ander manier verkleineer tot vermaak van die gehoor en kykers by die huis. Die dogtertjie was soos ’n gladiator aangetrek, terwyl haar pa, in ’n spinnekopkostuum, hulpeloos van die plafon gehang het. Natuurlik het sy gewen. Nadat sy haar pa vol room gespuit het, het sy die gehoor meegedeel waarom sy hom uitgedaag het: “Hy dwing my altyd om my kamer aan die kant te maak voordat ek mag televisie kyk!” Die gehoor het die pa uitgejou: “Sies! Skaam jou! Skaam jou!”

Op ’n volgende kanaal het ek ’n animasieprogram gesien: ‘Fairly odd parents: Join the haphazard adventures of Tommy, a clever kid at the mercy of his boring parents and evil babysitter – until he wishes himself a set of fairy godparents’. Tommy jok vir sy ouers, lag agter hulle rug en rol sy oë vir hulle. Tommy is in beheer van die huis terwyl sy ma buite beheer is en sy pa onder sy ma se duim is. Wat ’n gemors! Wat neem ons kinders elke dag in wanneer hulle ure voor die televisie sit en identifiseer met karakters wat so ‘n onaanvaarbare ingesteldheid het? Dink maar aan van die bekende gesinskomedies. In bykans elkeen is die pa ’n ruggraatlose pateet, die ma ’n selfgesentreerde heks en die slim, verstandige kinders hulle ouers in so ’n mate manipuleer dat jy amper die marionettoutjies na hulle pa se beursie kan sien.

Die humanistiese klem op regte ten koste van verantwoordelikheid
Pomp ’n hamster vol steroïde en jy sal ’n wollerige diertjie hê wat soos ’n uitgevrete rot optree. Dit is die uitwerking wat humanisme op ons kinders het. In plaas daarvan om hulle na verantwoordelike volwassenheid te begelei, maak dit hulle opgeblase deur hulle regte te oorbeklemtoon. Hulle word geleer waarop hulle kan aandring, en hoekom die lewe hulle meer skuld. Hulle hoef niemand se nonsens te verdra nie – soos byvoorbeeld ouers wat eise aan hulle stel of onderwysers wat perke stel. 

Wie vorm ons denke oor gesag?
Voorstanders dat outoriteit verdag en ongewens is, het ons denke gevorm. Die filosoof Jean-Jacques Rousseau se oom het hom op ’n dieet van Franse liefdesverhale grootgemaak, wat Jean-Jacques self erken het, nie gepas was nie. Hy het nie in die huwelik geglo nie en het vyf buite-egtelike kinders gehad wat hy in ’n weeshuis geplaas het sonder om eers uit te vind wat hulle geslag of geboortedatums is, of om hulle name te gee. Tog volg ons sy opvoedkundige raad! Hy het geglo dat ouers ’n destruktiewe invloed op hulle kinders het weens hulle emosionele betrokkenheid. Hy was oortuig dat die staat kinders beter kan grootmaak. Sy werk word steeds vandag wêreldwyd in sielkundige en opvoedkundige instellings voorgeskryf.

Henry David Thoreau (’n filosoof van die 19de eeu) en Arnold Gesell (stigter van die beroemde Yale Clinic of Child Development) het geglo dat kinders se slegte gedrag bloot ’n normale fase van ontwikkeling is. As ouers net die negatiewe gedrag stilweg toelaat, sal die kind dit op ’n natuurlike manier ontgroei. As ouers die gedrag weerstaan, vererger dit net die gedrag. Dit weerklink steeds in boeke oor ouerskap: kinders is stout omdat hulle ouers hulle nie verstaan nie. As ouers beter insig het en verdraagsaam is, sal hulle kinders vanself beter optree.

Die humanistiese koor
Rudolf Dreikurs het beklemtoon dat alle mense absoluut gelyk is. ’n Kleuter is gelyk aan haar pa – sy is net kleiner. Hy stel dit dat straf, sowel as beloning, onvanpas is. ’n Mens kan op stuk van sake net ’n ondergeskikte straf. Hy glo dat ouers geen reg het om enigiets van die kind te vereis nie. Die kind het die reg om self te besluit wat goeie gedrag is. Wangedrag is volgens hom net die kind se poging om in beheer te wees in reaksie op die ouers se poging om hulle gesag op die kind af te dwing.

My vraag is: hoe kan ’n benadering wat die kind nooit dwing om iets te doen wat hy nie wil doen nie, hom vir volwassenheid voorberei waar ons daagliks dinge moet doen wat ons nie wil doen nie? Baie ander stemme sing saam in die humanistiese koor. Artikels ontmoedig ouers om die woord “nee” te gebruik en dat konflik vermy moet word. Die artikel, ‘“No” is not for children: Three principles of respectful discipline’ deur Dawn Fry is ‘n kwellende artikel. Ek is bekommerd dat ouers haar sal glo omdat dit so aanloklik klink om nooit “nee” te se nie. Ek verberg soms my “nee”, maar ek sal dit nooit uit my woordeskat verwyder nie. Sê die lewe ooit “nee” vir ons kinders? Natuurlik – gedurig. Daarom moet ons hulle leer sodat hulle “nee” vir ’n antwoord kan aanvaar.

Volwasse leiding noodsaaklik
’n Ouer se plig is om die kind te begelei weg van wat sleg is na wat goed is, juis omdat dit nie ’n maklike pad is nie. Dit verg dissipline, wat bemoediging, onderrig, ’n rolmodel, vermaning en beloning insluit, maar soms ook tug. En dit is alles harde werk!

Ons kan nie met ’n benadering saamstem wat die “regte” van die kind eerste stel nie (wat sou impliseer dat die kind toegelaat moet word om sy keuse uit te oefen, selfs as dit tot sy eie nadeel is). Ons benadering moet wees om te erken dat die kind nie die beste keuse kan uitoefen of die beste weergawe van hom-/haarself kan word sonder volwasse leiding nie.

Toegerus met God se Woord
Dit is ons eie skuld wanneer ons nie weet wat God se Woord oor gesag en ouerskap sê nie, en dan deur die massamedia en heersende populêre kultuur aan die neus rondgelei word. Dit moet ons dan nie verbaas dat ons gesag vol gate is nie. 

Laat ons onsself toerus met beginsels van gesonde gesag. Dit skep ’n liefdevolle en veilige omgewing waarbinne ons kinders kan leer om binne daargestelde perke te kan funksioneer, grense te respekteer en met die vryheid te leef van dié wat die “ja’s” en die “nee’s” van die lewe kan hanteer.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication