Ek skaam my nie vir die Evangelie van Christus nie,want dit is n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, in die eerste plek vir die Jood, maar ook vir die nie-Jood..

Rom. 1:16

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View August 2015 Issue >>
 

Manne, dit is die Wêreldbeker! Dit is die hoogtepunt vir alle rugbyspelers wêreldwyd – die wedloop om die William Webb Ellis-trofee. 

 

Wat was jou belewenis om as ’n Springbok aan so ’n geleentheid en skouspel te gaan deelneem?

â–  Pierre: Dit was wonderlik. Om jou land te verteenwoordig is spe-siaal.  Dit is lekker om te sien hoe die wêreld byeenkom om rugby te ondersteun! ’n Mens leer ook baie van ander kulture en oor die land waar dit plaasvind!

â–  Jannie: Dit was beslis die hoogtepunt van my rugbyloopbaan. Ek was nie aanvanklik in die wedloop nie, maar het op ‘n wonderbaarlike wyse by die agterdeur ingeglip.

â–  Ollie: Dit was van skooltyd af een van my doelwitte en ek het my vrou belowe dat as ek in die Wêreldbeker speel, raak ons verloof! Dit was ’n groot voorreg om daaraan deel te neem. Die hele toernooi voel onwerklik en begin eers werklik met die uitkloprondtes.

 

Is die voorbereiding vir so ’n Wêreldbeker anders as om net in nog ’n Viernasiesrugbykampioenskap te speel waar die All Blacks en die Wallabies ook tog jou opponente is?

â–  Pierre: Dit is baie dieselfde, maar tog ook baie intensiewer. Baie aandag word aan detail be-stee en om jou plan reg uit te voer. Ons ken die Aussies en All Blacks al goed, so ander spanne bied ander uitdagings.

â–  Jannie: Ja, ek het in die Drienasiestoernooi gespeel, maar die Wêreldbekertoernooi is net iets anders. Voorbereiding was ook straks anders, want ek het ook onder twee verskillende afrigters gewerk. Eers Carel du Plessis en toe Nick Mallett. Hulle het uiteenlopende afrigtingstyle gehad. Ons het beslis meer tyd gehad om vir die Wêreldbeker voor te berei as met die Drienasies. Dit maak ook ’n verskil.

â–  Ollie: Jy het meer tyd om voor te berei en jou kondisionering is baie beter omdat jy soveel tyd gehad het om fisiek en geestelik optimaal gereed te wees. Jou tegniese ontleding is ook baie intenser.

 

Dink julle dat die klimaat- en weersomstandighede op die Britse Eilande ’n negatiewe invloed kan hê op die speelstyl van die Bokke, en dalk ons rats, vinnige agterspelers kan neutraliseer?

â–  Pierre: Nee glad nie.

â–  Jannie: Ja en nee. Ja, die weersomstandighede kan ‘n rol speel wat dit noodsaak om aan te pas. Nee, want baie van ons spelers speel reeds vir lang tydperke oorsee en daardie ervaring kan gedeel word met spelers wat nie so gewoond daaraan is nie. Rugby is vandag ‘n globale sport waar spelers oral in die wêreld speel en aan verskillende omstandighede gewoond is.

â–  Ollie: Die toestande behoort ons te pas en die velde is baie goed voorberei; ek verwag geen negatiewe invloed op ons spelers nie. Nat weer is gunstig vir groter spelers en ek dink dit sal ons bevoordeel.

 

Julle drie Springbokke was almal by so ’n Wêreldbekertoernooi betrokke, hoe belangrik is jou rol as Christenrugbyspeler in die span? Hou julle selgroepsessies gedurende hierdie toernooi? Wat is die formaat van so ’n sessie?

â–  Pierre: Spangees en eenheid is belangrik asook ons afhanklikheid van God. Ons het een keer per week selgroep gehad, waartydens ’n gasspreker dit gelei het, soms het ek dit self gefasiliteer. 

â–  Jannie: Ja, ons het tydens die Wêreldbeker selgroepe gehad. Daar was ook geestelike leiers wat met ons kom gesels het. Dit was, en is belangrik, want alles verloop nie noodwendig volgens plan nie en dit is lekker om mekaar met Skrif te bemoedig. Ons het nie spesifieke spelers gehad wat die groepie gelei het nie, ons was almal deel daarvan. Ek onthou hoe ons voor die wedstryd teen Engeland meer as 20 spelers en afrigters saam was toe dominee Cassie Carstens met ons kom gesels het. 

â–  Ollie: Ek dink dit is belangriker om jou identiteit in Christus te verstaan, dan sal jy al die vrugte vanself uitleef wat almal sal beïnvloed.

Hoe belangrik is jou persoonlike verhouding met die Here vir jou? Is dit iets privaat, of is dit ’n lewenswyse vir jou?

â–  Pierre: My verhouding met die Here is alles vir my – dit seën my hele lewe: my huwelik, kinders, rugby en besigheid. Dit is so belangrik om dit ’n prioriteit in jou lewe te maak. 

â–  Jannie: Dit is baie belangrik vir my. Ek besef elke dag dat daar geen manier is dat ek sou kon funksioneer as dit nie vir die Here se leiding is nie. Hy is die rots waarop ek staan en my anker in die lewe. Ek deel dit graag met mense, want almal het ‘n boodskap van hoop nodig. Dit is al wat ons het – hoop.

â–  Ollie: Dit beïnvloed alles in my lewe. Dit is ’n lewenswyse, maar vir my tog ook baie privaat.

 

Almal vra die vraag: Bid julle dat julle sal wen? Wat dan as die ander span ook so bid? Aan wie se kant is God dan as albei spanne sou bid?

â–  Pierre: Ons vra die Here se seën op wat ons doen en bid vir beskerming teen beserings. Ons bid dat die beste span sal wen – God is lief vir almal, maar jy moet verdien om te wen.

â–  Jannie: Ja, dit ‘n interessante vraag. Op die ou einde moet ons onthou dat God nie ‘n aannemer van die persoon is nie (hy tref geen onderskeid nie) en dat Sy son op almal sal skyn. Die vraag is eerder of ons die Here gaan dank in tye van voorspoed sowel as teëspoed? Ek onthou hoe Joost van der Westhuizen juis die manne ná die wedstryd wat ons teen Australië verloor het (1999-semifinaal), byeengeroep het om te bid. Ek kan nie sy presiese woorde onthou nie, maar dit was iets soos: “Manne kom ons sê dankie vir die Here dat ons tot hier in die toernooi gevorder het. Ons bid nie net wanneer ons wen nie, ons moet ook kan dankie sê vir die geleentheid om rugby te kan speel.” 

â–  Ollie: Nee, ons bid meestal vir beskerming, vrywaring van beserings en dat die wedstryd tot eer van God sal geskied. Ek bid ook die krag van die Bloed oor die veld om enige demoniese en toordery te ontwapen. God sal by die span wees wat eensgesind is.

 

Dink julle dat ons Bokke ’n kans het om die Wêreldbeker huis toe te bring, selfs na ’n baie gemiddelde Super 15-reeks?

â–  Pierre: Ek glo so. Elke span het uitdagings en hoe jy daardeur kom, sal bepaal wie wen.

â–  Jannie: Ja, ek dink dit is moontlik. Ek onthou dat ons ’n bietjie gesukkel het in die aanloop tot die Wêreldbeker in 1999. Selfs tydens die eerste paar groepswedstryde het ons nie oortuigend gespeel nie. Daar is egter ’n trots wat saam met die aantrek van daardie boktrui kom, wat veroorsaak dat spelers meer gee as ooit tevore. My verwagting is dat dit hierdie keer ook nie anders sal wees nie. Ek verwag dat ons sterker sal word namate die toernooi vorder en die spelers mekaar vind, en wanneer die uitklopwedstryde kom, sal die Springbokke daar wees om te kompeteer.

â–  Ollie: Ons het ’n baie goeie span en as ons die semi’s gaan maak, sal ons moeilik wees om te klop. Die gemiddelde ouderdom van ons beginspan is egter ’n bietjie hoog na my smaak.

 

Die gemoed van die Suid-Afrikaner is tans maar baie negatief, dink julle as ons die Wêreldbeker wen, soos in 1995 en 2007, dit ’n positiewe invloed op ons mense in Suid-Afrika sal hê?

â–  Pierre: Dit sal help, maar ek dink die probleme in Suid-Afrika het groter geword as wat sport kan verlig, ons moet na toe God draai.

â–  Jannie: Ja, dit is darem ongelooflik hoe sport ‘n nasie kan saambind. Ek was in 1995 op Ellispark toe ons Nieu-Seeland geklop en die Webb Ellis-beker gewen het. Dit was “amazing”! Wat my nog meer verstom het, was hoe mense buite die stadion aan lamppale gehang en die oorwinning gevier het. Die stories wat mense deel oor waar hulle in 1995 was, is wonderlik. Dit bind mense saam.

â–  Ollie: Dit sal verseker weer nasietrots bou, maar die onderliggende probleme sal net met uiterste gebed en harde werk van almal af verander.

 

Watter boodskap het julle vir ons lesers in Suid-Afrika?

â–  Pierre: Draai na die Here toe Suid-Afrika! Die Here sal jou rus en leiding gee en ons land herstel.

â–  Jannie: Die Bybel sê dat waar daar eenheid is, daar is God se seën. Kom ons staan in eenheid saam en vertrou God vir ‘n suksesvolle Wêreldbeker, maar vir meer as dit, vir eenheid in ons land en Sy be-skerming. 

â–  Ollie: Matteus 6:28-33. Moenie “worry” nie!

 

Laastens, jou voorspelling...Wie gaan in die finaal speel, en wie gaan die Wêreldbeker hierdie jaar wen?

â–  Pierre: Moeilike vraag! Suid-Afrika natuurlik! 

â–  Jannie: Daar is altyd een of ander verrassing in die Wêreldbeker. Dit sal heelwaarskynlik weer die geval wees. Dit maak dit vir my moeilik om te sê wie in die finaal teen Suid-Afrika gaan speel. Is ek te positief? Nee, hoe kan ek ooit teen die Springbokke wees? Ek was dan self een gewees. Go Bokke!

â–  Ollie: Ek sal nog die semi’s voorspel, maar dit is waar ek stop! Bokke teen All Blacks – semi 1, Wallabies teen Franse – semi 2.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication