As jy dit doen, sal die lig vir jou deurbreek soos die nuwe dag. Jou genesing sal spoedig herstel. Hy wat jou red, sal voor jou uitgaan, die heerlikheid van die Here sal jou van agter beskerm.

Jes 58:8.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View January 2016 Issue >>
 

Teen die einde van verlede jaar was die Universiteit van Stellenbosch (US) in ’n taalstryd gewikkel nadat die rektor, prof. Wim de Villiers, en die bestuur van die universiteit ’n eensydige aankondiging uitgereik het wat sou behels dat Engels van vanjaar af die primêre taal van kommunikasie en administrasie by die US sou wees – wat Afrikaans as akademiese en administratiewe taal sou relegeer.

Die raad van die (US) het egter daarna ’n mosie vir meertaligheid aanvaar wat beteken dat, hoewel die akademiese aanbod in Engels uitgebrei sal word, Afrikaans steeds as gelyke akademiese en administratiewe taal behoue bly terwyl Afrikaans en Engels parallel by die US sal funksioneer.

Heelwat is hieroor gesê, hier volg drie interessante bydraes:

Prof Hermann Giliomee

“Geniet die oorlog, die vrede sal veel erger wees.” Hierdie woorde is deur ‘n lid van die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) geuiter tydens ‘n sewe-uur-debat op ‘n toekomstige taalbeleid.

‘n Baie lelike vrede sou uitgebreek het, sou die universiteit se topbestuur daarin geslaag het om hulle voorstel deur te voer dat Engels die primêre medium van onderrig en kommunikasie en die verpligte medium van bespreking by al universiteitkomitees en byeenkomste word. Sou Afrikaans uit die klaskamers en komiteekamers verdryf word, sou dit tot ‘n bose teenreaksie lei.

Op die ou end het reg geskied en is daar besluit om die 50-50-beleid vir Afrikaans en Engels te behou. Wat niemand in 1994 kon voorsien nie [...] was dat Afrikaanssprekende akademici en topuitvoerende bestuur die voortou sou neem om die gebruik van Afrikaans stelselmatig te beperk nie. 

Deur hulle eng voortsetting van hulle eie individuele of korporatiewe belange, het hierdie groep nie aanspreeklik gevoel teenoor studente, ouers, kliënte of die Afrikaanse gemeenskap nie. – Prof Hermann Giliomee

Alec Hogg

Afrikaans is onder volgehoue ​​aanslag. Sy antagoniste, onder leiding van die groep, Open Stellenbosch, glo hulle optrede is geregverdig. Agter die retoriek is die vergelding vir die apartheidsregering se idiotiese 1976-poging om die taal dieper in Soweto se skole in te dwing. Dat die onluste waartoe dit gelei het byna 40 jaar gelede plaasgevind het, blyk van geen belang te wees vir die wraaksoekers nie, want volgens enige rasionele ontleding, kan dít die enigste motief wees agter die poging om die taal uit die geestelike hart van die volk, aan die Universiteit Stellenbosch te verwyder. Afrikaners is uiters belangrike bydraers tot die gesondheid van die Suid-Afrikaanse ekonomie, verskaf die grootste deel van private inkomstebelasting en speel ‘n groot rol om die land aan die gang te hou. Hoewel baie Afrikaners geëmigreer het, het die meerderheid hulleself verreweg tot ‘n langtermyntoekoms in die land van hul voorva-ders verbind. Dit is irrasioneel om hulle* taal en die instellings wat hulle gestig het en hulle na aan die hart lê, aan te val. –Alec Hogg, Biznews.com 

*Afrikaans is nie net die Afrikaner se taal nie. Die meerderheid Afrikaanssprekendes is nie wit nie. Van die 6,8 miljoen Afrikaanssprekendes is net 2,7 miljoen wit. Bruin Afrikaanssprekendes verteenwoordig 50%; wit Afrikaanssprekendes 40% en swart Afrikaanssprekendes 9%, met die res uit ander groepe (Sensus 2011). Dit beteken dat meer as 60% van die Afrikaanse gemeenskap nie wit is nie. Daar is meer Afrikaanssprekendes uit die bruin be-volkingsgroep as wit. –Red

 

Gerrit Komrij

Gerrit Komrij, ‘n Nederlandse literêre kritikus, het daarop gewys dat ‘n [Afrikaanse] elite besig is met die afsit van Afrikaans se ledemate ten spyte van die feit dat die liggaam gesond en springlewendig is. Hy bevind dat sover dit die toekoms van Afrikaans betref, die grootste bedreiging vir Afrikaans, Afrikaanssprekendes self is. 

12 leuens wat almal glo

1. Baie min mense in Suid-Afrika praat Afrikaans. Daarom is dit beter om na Engels oor te skakel 

Verkeerd. Afrikaans, met 6,8 miljoen sprekers, is die derde grootse taal in Suid-Afrika ná Zoeloe (11,5 miljoen) en Xhosa (8,1 miljoen). Engels (4,8 miljoen) word deur slegs 9,6% van Suid-Afrika se bevolking as moedertaal gebruik (Sensus 2011).

2. Afrikaans het nie ’n plek in Suid-Afrika nie omdat dit ’n “witmanstaal” is

Verkeerd. Die meerderheid Afrikaansspreken-des is nie wit nie. Van die 6,8 miljoen Afrikaanssprekendes is net 2,7 miljoen wit. Bruin Afrikaanssprekendes verteenwoordig 50% (3,4 miljoen); wit Afrikaansprekendes 40% (2,7 miljoen) en swart Afrikaanssprekendes 9% (602 100), met die res uit ander groepe (Sensus 2011). Dit beteken dat meer as 60% van die Afrikaanse gemeenskap nie wit is nie.

3. Dit is beter om Afrikaans af te skaf en na Engels oor te skakel, want Afrikaans was die taal van die onderdrukker

Engels was die taal waarin die wreedste slawehandel en koloniale uitbuiting in Afrika plaasgevind het. Die Nazi-geskiedenis is in Duits gepleeg. Tog word Engels en Duits as tale nie vir hierdie verlede gestraf nie. Waarom vandag die meerderheid Afrikaanssprekendes, wat bruin is en aan die ontvangskant van Apartheid was, straf?

4. Afrikaans hoort nie in Afrika nie want dit is nie ’n inheemse taal nie

Afrikaans se wortels is Westers maar met sterk invloede van Asië (Maleisië) en Afrika. Behalwe dat Afrikaans na die Afrika-kontinent gernoem is, word dit nêrens anders in die wêreld gepraat nie. Hoe kan dit dan nie ’n inheemse taal wees nie? Die oneerlikheid van mense wat so sê is dat hulle dan ten gunste van Engels is, wat blykbaar as koloniale en Europese taal in Afrika hoort.

5. Vir die langtermyn oorlewing van oorwegend Afrikaanse universiteite is dit beter dat die universiteit Engels word, want Afrikaans het ’n kwynende mark

Volgens die SAOU het 54 000 wit, bruin en swart Afrikaanssprekendes in 2011 matriek geskryf. Hiervan het 36 000 universiteitstoelating gekry waarvan 29 000 hulle by universiteite ingeskryf het. Dit regverdig twee tot vier kampusse wat Afrikaanse klasse aanbied.

6. Afrikaans is nie tegnies genoeg ontwikkel as ’n akademiese taal nie.

Net vyf tale het in die twintigste eeu ontwikkel tot die hoogste vlak, nl: Hebreeus, Katalaans, Indonesies, Hindi en Afrikaans. Meer as 450 vakwoordeboeke en terminologielyste in Afrikaans is ontwikkel vir byvoorbeeld die mediese, rekenaar, ruimte, en baie ander velde. Vyf Suid-Afrikaanse universiteite bied nog klasse in Afrikaans aan. Afrikaans word as vak by Nederlandse, Poolse, Russiese, Amerikaanse, Belgiese en vele ander universiteite aangebied. Die internasionale erkenning van Afrikaans blyk uit die feit dat byvoorbeeld Microsoft, Google en Nokia, Afrikaans as een van hulle keusetale aanbied.

7. Engels is ’n internasionale taal – daarom is dit dom om in Afrikaans te wil studeer

Internasionale navorsing het bewys dat onderrig in jou moedertaal altyd die beste is. Die Chinese studeer in Mandaryns; die Duitsers in Duits en die Franse in Frans. Die Duitse ekonomie is die sterkste in Europa en hoewel min Chinese Engels praat of verstaan, is hulle wetenskaplik ver voor baie ander lande en het reeds verskillende ruimtetuie die ruimte ingestuur.

Naas Engels is Afrikaans die enigste Suid-Afrikaanse taal wat ook internasionaal verstaan word. In die res van die wêreld is daar 24 miljoen mense wat Afrikaans verstaan, in byvoorbeeld lande soos Nederland, België en Suriname. Dit is nie die geval vir die ander Suid-Afrikaanse tale nie.

8. Die voorstander van Afrikaans is anti-Engels

Voorstanders van Afrikaans is nie anti-Engels nie. Engels is belangrik en maak baie deure oop – veral internasionaal. Daarom behoort Engels as vak deur studente tot op universiteitsvlak geneem te word – verkieslik verpligtend. Afrikaanse studente wat in Afrikaans studeer het, doen baie goed in die buiteland waar hulle dikwels in Engels moet werk. Navorsing bewys dat studente beter vaar as hulle moeilike begrippe in hul moedertaal, byvoorbeeld Afrikaans, aanleer (Kathleen Heugh). Omdat hulle Engels as taal ken, kan hulle kommunikeer en goed vaar in ’n Engelse wêreld. Daar is ’n groot verskil tussen Engels bemeester as taal, teenoor Engels as enigste taal van onderrig in alle vakke.

9. Om Afrikaans as onderrigtaal by ’n universiteit te gebruik, is teen die grondwet

Art 29 (2) van die grondwet: “Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Ten einde...hierdie reg te verseker, moet die staat alle redelike alternatiewe... met inbegrip van enkelmedium oorweeg...”  Van die 36 universiteitskampusse in Suid-Afrika is slegs twee nog oorwegend Afrikaans. Dit beteken dat die meeste kursusse daar nog van die begin tot die einde in Afrikaans voltooi kan word. Is twee oorwegend Afrikaanse kampusse te veel gevra?

10. ’n Taal kan nie tot niet gaan nie

Baie tale het reeds uitgesterf. Tans is daar 1 500 tale wat met minder as 1 000 mense wat dit praat, op die grens van uitsterf is. Afrikaans is ’n Germaanse taal. Van die 22 Germaanse tale het 10 reeds verdwyn. Tale kan dus tot niet gaan.

11. Solank ’n taal nog gepraat word, kan dit nie tot niet gaan nie

As ’n taal nie meer in die hof, in die parlement, in die skool, in die universiteite en in die ekonomie gepraat word nie, verloor dit status en is daar min aansporing vir ouers om hul kinders daarin groot te maak. Binne drie geslagte kan so ’n taal tot niet wees. ’n Taal begin dus tot niet gaan as hy sy amptelike of hoë taalfunksies verloor. Gaan slaan na hoe Oksitaans, Wallies, Skots-Gaelies en ander tale agteruitgegaan het nadat hulle hulle hoë taalfunksies verloor het.

12. Afrikaans sluit uit en gee aanstoot

Moenie enkele gevalle veralgemeen en op alle Afrikaanssprekendes van toepassing maak nie. Afrikaans durf nie die turksvy in die Suid-Afrikaanse taalboord wees nie. Die manier waarop die “taalstryd” gevoer word, sal dit bepaal. Dit is in die belang van al Suid-Afrika se tale dat Afrikaans die stryd voortsit. Die bekende Afrikaanse skrywer Chris Barnard het gesê: “As Engels die oorhand (in Suid-Afrika) kry, is dit meer as net Afrikaans wat in die slag gaan bly. Tien inheemse tale gaan verdwyn. Die enigste uitheemse taal (Engels) gaan bly en al elf dele van die koek kry, miskien ’n hoflike windjie breek en verder stap Afrika in.”

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication