Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in Sy Naam die lewe kan he.

Joh. 20:31.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View February 2016 Issue >>
 

Marilize de Clercq is ’n gewilde persoonlike stilis en beeldkonsultant (‘image consultant’). Sy is was ‘n paar keer op Top Billing, waar sy raad gegee het oor mode en stilering. Hoewel haar lewe van buite prentjiemooi en volmaak mag lyk, moes sy diepe droefheid en verlies in haar lewe verwerk.

Marilize, hoe het jy tot bekering gekom?

Danksy ’n diep liefdesteleurstelling! Ek het net in my Christelike vriende se raad belanggestel, ek wou nie met enigiemand anders daaroor praat nie. Hulle het my bygestaan en terwyl ek so gehuil het daardie aand, was dit asof God vir my sê: “Wag vir jou trouman”. Ek het besluit ek wou nooit weer daardie pyn ervaar nie, ek gaan wag. 

Een van daardie vriendinne nooi my toe saam na Urben Edge-kerk in Durbanville (ek is nou al 11 jaar lank daar). Ek was in daardie stadium ’n kulturele Christen, jy weet, grootgeword in ’n Christen-huis, maar nooit self die teenwoordigheid van die Here geken nie. Ek kon nie wag vir die pastoor om op te hou preek sodat ek my hand kon opsteek en Jesus aanneem nie. 

Hoe het dit jou lewe verander? 

Dit het my denkwyse verander. Ek mis niks van my lewe voor my bekering nie. Daar is nie ’n dag wat ek terughunker om by die klubs uit te hang nie. Ek is agt maande later gedoop en is later ook in die Heilige Gees gedoop omdat ek meer wou hê; ek wou graag in tale bid. 

Vertel ons van jou man, Chris. Hoe het julle ontmoet?

Hy het ook in ’n Christen-huis grootgeword. Hulle was in ’n charismatiese kerk en hy stap al van hoërskooldae af ’n pad met die Here.

Ons was al 28 toe ons ontmoet het. Na my bekering het ek geweier om sommer weer ’n verhouding aan te knoop, nie voor ek geweet het dit is my trouman nie. Chris het dieselfde gevoel as ek. Ons wou wag totdat God die regte persoon oor ons pad bring. 

Chris was by His People in Somerset-Wes, maar hy het vriende in Durbanville gehad wat hom vertel het van hierdie Christenmeisie wat hy moet ontmoet. Gelukkig het hulle niks vir my gesê nie en my eendag oorgenooi toe hy ook “toevallig” daar was. Hy het my toe soos in die ou dae soos ’n ware heer die hof gemaak. 

Wat bewonder jy van jou man?

Ek het jare gelede ’n gebedslysie met 49 punte opgestel van al die eienskappe wat ek in ’n man soek. Toe ek vir Chris ontmoet, het ek al van die lysie vergeet wat êrens in my Bybel weggesteek is. Toe dit eendag uitval en ek dit lees, was ek verstom. 

Hy het elke eienskap gehad wat ek neergeskryf het. Eerste op die lysie was: Lief wees vir die Here. Hy is intelligent, passievol, liefdevol,  hy plaas altyd ander se belang eer-ste en hy is baie lojaal, ‘n man van sy woord – en hy kan kosmaak! 

Julle het Gia, julle ongebore babadogtertjie op nege maande verloor. Wat het gebeur? 

Ek het ’n volmaakte swangerskap gehad. Ons het altyd vir ons dogtertjie gebid, lewe oor haar uitgespreek en wanneer ek so in die kar gery het, het ek altyd lekker met haar gesels. Dit was ’n vreugdevolle swangerskap. 

Op 39 weke het ek wakkergeskrik en kon haar glad nie voel nie. Ek het dadelik geweet iets is verkeerd. Toe die dokter sy sê sy is jammer...het ek gegil: “Jesus, I love you!” Ek weet dit was nie ek nie, dit was ’n geloofstelling wat ek moes maak. Chris het op die grond gesit en huil. Dit is ’n seer wat net die Here verstaan. Dit voel asof jou gees uitmekaar geskeur word. My hart het fisiek gepyn. 

Daardie selfde dag het ek onder narkose geboorte gegee. Toe ek my oë oopmaak, het hulle haar vir my gebring. Ek onthou net hoe mooi en fyn sy was. Die oorsaak kon nie bepaal word nie, maar ek weet God het Sy redes, Sy doel daarmee. 

Ek moes egter vrede maak dat Gód weet wat die beste is; dat Hy geweet het sy gaan nooit saam met ons sou wees nie. Daar is nie ’n dag wat ek haar nie mis nie. Ek kan nie wag vir die dag wat ek my dogtertjie weer gaan sien nie.

Hoe het jy dit verwerk?

As ek nie die Here geken het nie, sou ek dit nie oorleef het nie. Ek kon nie verdra om naby ander swanger vroue of mammas met babas te wees nie. 

God se Woord sê: “Ek is met jou”. Hy is dieselfde God gister, vandag en môre. Ek moes vrede maak met God se woord. God het my daardeur gedra. Worshipmusiek het ook baie gehelp. Ek het mense vermy en net op my bed gelê en worshipmusiek geluister. Ek moes toelaat dat die waarheid voortdurend oor my spoel. Ek moes my gedagtes gevange neem en dit onderwerp aan die waarheid. Die musiek het my baie hiermee gehelp.

En Chris, hoe het hy dit verwerk?

Ek was baie bekommerd oor hom. Hy het ’n hele paar terugslae in daardie maand beleef en sy gemoed was op ’n laagtepunt. Ek het die Here gesmeek om asseblief op ’n baie spesiale manier tot hom deur te dring. 

’n Tydjie voor Gia se stilgeboorte het my man gevoel dat hy ’n baie duur kitaar vir die worshipleier moes koop (en dit anoniem skenk). Tydens  die week wat alles met Gia gebeur het, moes hy toe hoor dat die kitaar foutief is en teruggeneem moet word na die vervaardigers om herstel te word. Hy was so teleurgesteld en het die instrument by die worshipleier laat haal. 

Chris het die oggend ná ek gebid het met die ou gesels oor sy nuwe kitaar en gemaak of hy niks weet nie...toe sê hy vir Chris: “Waarom sou ek teleurgesteld wees? Dit was nooit in die eerste plek myne nie, dit was ’n geskenk van God af.” God het die man se antwoord gebruik om tot Chris deur te dring en te help om Gia se dood te verwerk. Chris kon insien dat Gia ook maar net vir ons geleen was. Hy het skielik besef dat ons op niks geregtig is nie, alles is deur genade aan ons geleen deur ’n liefdevolle Vader. 

Dit het ons albei se perspektief op die lewe verander. 

Dit is nie maklik nie, die pyn is steeds daar, jy leer om met die seer saam te lewe, maar God het my geseën met ’n wonderlike seuntjie. Ek was sewe maande ná Gia se geboorte  swanger met Christian,  en die vreugde wat my seuntjie bring, maak 

dit beter. 

Was jy bang tydens jou tweede swangerskap?

Ek was verseker bang, maar het geleer om God te vertrou met die swangerskap. Ek moes daagliks my vrese laat gaan, maar ek het dit deur God se genade gedoen. Ek het toe besluit, selfs al sou God nooit weer iets vir my doen nie, ek Hom nog steeds sal aanbid. 

Hoe het jy by stilering uitgekom?

Mense het gedink ek was onverantwoordelik om so ’n beroep aan te pak, maar  God het my pad gelyk gemaak. Ek het eers by AAA School of Advertising gestudeer, maar kon net nie nie heeldag in ’n kantoor sit nie. 

As student het ek altyd in klerewinkels gewerk en was van kleins af lief vir klere en mode. My eerste blootstelling aan stileringwerk was as ’n assistent vir Isabella Niehaus. Daarna het ek vir twee jaar lank by Fabiani as ‘n persoonlike stilis gewerk. Ek het vir al die rykstes klere gekoop en pakkies rondgedra, en baie geleer hoe om met mense te werk. Mense wat ek ken, het my genader en gevra of ek hulle nie kan help om klere te koop nie. En so het ek op Top Billing beland om ‘make overs’ te doen, wat gelei het tot wat ek nou doen en geniet.

Kan ‘n mens jouself mooi aantrek met gewone kettingwinkelklere?

Ja, verseker. Vir my gaan dit nie oor die winkel nie, maar oor die kleure en die klere wat by jou pas en dus sal enige winkel kan werk. Ek kyk na jou liggaamsvorm en werk daarvolgens. Dit hoef nie altyd die duurste klere te wees nie. Ek leer mense om op uitverkopings te koop. 

Wie is meeste van jou kliente?

Van tieners tot Ouma. Ek het selfs kliënte van Kakamas af. Ek werk met mans en vrouens. Ouers stuur ook graag hulle tieners na my. Daar is ook baie ma’s wat graag ’n ‘make over’ wil hê. 

Wat is jou raad aan iemand wat nie weet wat om aan te trek nie?

Kies iets wat jou gelukkig, gemaklik en goed laat voel. As jy voor jou kas staan, moet jy mal wees oor elke kledingstuk daarin, jy moet voel asof dit jou persoonlike boutique is. Hoekom hou jy dit andersins?

Watter raad het jy vir diegene net nie hou van hoe hulle lyk nie ? 

Ek het altyd die swakste selfbeeld gehad en ek het eers op 28 vrede gemaak met hoe ek lyk en wie ek is. Ek kry baie te doen met vrouens met ’n lae selfbeeld. Ek laat hulle fokus op wat vir hulle mooi is van hulleself. Dan kyk ons na watter klere hulle kan dra. Ek leer hulle net om na die regte kleur en klere te kyk en dan kyk hulle anders na hulleself. ʼn Mens moet ophou fokus op die negatiewe en  fokus op die positiewe.


Marilize is ook beskikbaar as ’n spreker. Kontak haar by www.marilizedeclercq.co.za

Fotograaf: www.claudiadenobrega.co.za 


Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication