Jesus het daarop gereageer: Ek verseker jou, as iemand nie van bo (opnuut)gebore word nie, kan Hy die Koninkryk van God nie sien nie.

Joh 3:3.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View April 2016 Issue >>
 

Wie word nie geruk deur brandende universiteitskampusse en betogende studente nie. Woede, sinnelose geweld, bevreesde ouers wat hulle kinders uit koshuise kom haal...

Hoe diep is die Evangelie ingemessel in my?

Op sosiale media soos Facebook en Twitter loop gemoedere hoog. “Veg terug!” skree baie. “Vlug!” sê ander. “Bid!” roep die meeste gelowiges uit. Terwyl ek op televisie gesien het hoe twee kampusse waar ek klasgee aan flarde geruk word, het ek opnuut gewonder wat staan ’n gelowige in ’n tye soos hierdie te doen? En terwyl ek my eie emosies hieroor ondersoek, wonder ek hoe diep die Evangelie van Christus regtig in my eie hart ingemessel is.

Wat het Christus gedoen, en wat doen ek?

Wat nou gemaak, noudat ons teruggedruk word tot by ons heel basiese behoefte aan oorlewing en veiligheid? Ons hou daarvan om armbandjies te dra wat vra: “What would Jesus do?” Maar ons ken tog die antwoord hierop, want ons weet vanuit die Bybel “What Jesus did!” Miskien is ons net te bang om dit te erken, want dan moet ons dit ook doen. 

Dalk is ons nie veel anders nie as diegene oor wie die bekende Deense Christen-filosoof, Søren Kierkegaard, (1813-1855) geskryf het: “The matter is quite simple. The Bible is very easy to understand. But we Christians are a bunch of scheming swindlers. We pretend to be unable to understand it because we know very well that the minute we understand, we are obliged to act accordingly.” 

Ons is die biddende weermag van die Hemel

Die Bybel is glashelder daaroor dat navolgers van Jesus Sy voltydse getuies, Sy sout en lig in die wêreld is. Ons is die reukweerders, die vredemakers, die biddende weermag van die Hemel wie se “wapens” bekers koue water en genesende woorde en dade is. 

Ons is geroep om lig en hoop te weerkaats, ook nou dat die land plek-plek brand. Ons het nie die “luukse” om vanuit ’n “veilige afstand” alles te aanskou en soos die priester en die Leviet in die gelykenis van die jammerhartige Samaritaan kopskuddend oorkant die pad verby te stap nie. Ons is pad-oorstekers en verskilmakers.

“Moenie bang wees nie, dit is Ek!”

Ons mag eerstens nie toelaat dat oorlewings-emosies, soos vrees en woede ons lewens nou oorheers nie. Dit pas nie by navolgers van Jesus nie. Telkens, soos nou weer, roep Christus ons toe: “Moenie bang wees nie; dit is Ek!” Jesus is in ons midde. Hy loop steeds bo-op die stormwaters. Daarom is dit ons roeping om ons harte te bewaar sodat ons nie, soos baie ander rondom ons, deur rou emosies aangedryf word nie. Anders gaan ons hoop en geloof soos mis voor die son verdwyn.

Medewerkers van God

Tweedens moet ons pro-aktiewe vredepraters wees. Waar gemoedere hoog loop, moet ons mense kalmeer met die liefde van Christus. Reik uit na ander. Praat sommer ook met die mense daar by die kasregister in die winkels, of met die petroljoggies, maar praat hooptaal. Wees ’n medewerker van God om sy vrederyk hier op aarde te laat wen.

Vredemakers en brugbouers

Derdens moet ons vredemakers wees soos Jesus van ons verwag in Matteus 5. Steek die pad oor na mense van ander tale en kulture. Wees aktiewe brugbouers op die pad na versoening. Kyk woedendes, wat net wil brand en seermaak, ’n slag in die oë, maar doen dit met ’n beker koue water in die hand. Doen goed in Jesus se Naam. Onthou die kragtige woord van die Here in 1 Petrus 2:15 dat dit die wil van God is, dat ons deur goed te doen, ’n einde bring aan die kwaad wat gepleeg word deur mense sonder insig. 

Om te ly wanneer ons goed doen...

Om te ly terwyl ons goed doen, is genade van God (1 Pet 2:20-21). Juis hiervoor is ons geroep, volgens Petrus. Jesus het vir ons gely en vir ons hierin die voorbeeld gestel. Petrus gaan trouens so ver om lyding ter wille van die Evangelie, direk aan die wil van God te verbind. In 

1 Petrus 3:14-18 hoor ons dat dit beter is om te ly wanneer ons goed doen en binne God se wil is, as wanneer ons oortree. 

Is ons bereid om te ly?

Dalk is dit nou die tyd vir lydingsklere. Dalk is die groot toets vir ons geloof in hierdie dae of ons bereid sal wees om, binne die gevaarsones van die lewe as deel van God se wil, vanaf veiligheid na diensbaarheid te verskuif. Is ons regtig bereid om saam met Jesus lyding te verduur sodat ander gered kan word en die vrede van Christus kan seëvier?


PROF STEPHAN JOUBERT is die stigter van ekerk, ’n professor in teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, Universiteit van Noordwes en Radboud Universiteit te Nijmegen. Vir meer inligting: www.ekerk.org, of info@ekerk.org

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication