Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in Sy Naam die lewe kan he.

Joh. 20:31.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View May 2016 Issue >>
 

“Om hierdie rede sal ek julle altyd aan hierdie dinge herinner, al weet julle dit en al staan julle reeds vas in die waarheid wat aan julle bekend gemaak is. Ek ag dit immers my plig om julle aan te spoor deur julle hieraan te herinner so lank as ek nog lewe. Ek weet dat my dood nie meer ver is nie. Ons Here Jesus Christus het dit trouens duidelik aan my bekend gemaak. Daarom sal ek my daarvoor beywer dat julle ook ná my heengaan altyd hierdie dinge sal onthou. Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons Hom in al Sy majesteit gesien. Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe die Allerhoogste Majesteit gesê het: ‘Dit is My geliefde Seun oor Wie Ek My verheug.’ Die stem uit die Hemel het ons self gehoor toe ons saam met Hom op die heilige berg was. En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig. Hierdie boodskap is soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in Sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte. Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig”. 2 Pet 1:12-21

Ek wil ’n boodskap oordra wat met die fundamentele dinge verband hou, asook die dinge in die Skrif wat vir ons vastigheid gee. Die aanhaling hierbo is ’n uiters belangrike Skrifgedeelte. Ek hoef jou seker nie daaraan te herinner dat jou geloof sterk kan wees en so opreg as kan kom nie, maar as dit misplaas is, sal dit op ’n ramp uitloop. Dit geld op alle lewensterreine. 

Misplaasde geloof is niksseggend

Die geskiedenis is besaai met die gevolge van misplaasde geloof. Ons hoor van mense wat sê dat hulle ’n sterk geloof het – amper asof vanuit ’n soort vae oortuiging dat dinge reg sal verloop en ’n goeie uitkoms sal verseker. ’n Sterk geloof is niksseggend as dit verkeerd gerig is nie.

Ons hoor en lees van leiers en kultusse wat mense mislei, en baie opregte en eerlike mense bekoor het – mense wat hulle lewens toegewy het, hulle besittings verkoop het, hulle alles gegee het, hulle tyd opgeoffer het – net om uit te vind dat dit die verkeerde besluit was, wat toe ook rampspoedig geëindig het. Al hierdie mense het vas geglo en was toegewyd aan wat verkondig is. Sommige mag selfs meer opreg en eerlik wees in hulle geloof as party Christene, maar die uiteinde sal tragies wees, vol ontnugtering.

Die Skrif leer ons dat dit nie slegs die grootheid of die opregtheid van ons geloof is wat deurslaggewend is nie, maar eerder dít waarin ons ons geloof plaas. Dit is wie, of waarin ons glo, wat regtig saak maak en op die ou einde deurslaggewend is. Geloof kan so sterk wees soos jy wil, maar as dit op leuens en dwaling gegrond is, is dit sonder hoop en lei dit tot niks...

Die grondslag van geloof

Uit die Skrifgedeelte is dit duidelik dat Petrus se dood naby was. Hy skryf in vers 14 dat sy dood nie meer ver is nie. In vers 15 praat hy van sy heengaan, en dit is duidelik dat hy vir die laaste keer wil seker maak dat hierdie mense se geloof in die regte Een is, en dat hulle gewortel en gevestig is in die waarheid.

Soos wat dikwels gebeur het, was daar vals leermeesters in hulle midde wat leerstellings begin verkondig het wat so goed geklink het, en baie beloof het. Hoewel Petrus die gelowi-ges geloof het, benadruk hy hoe belangrik dit is om in die waarheid gegrond te wees, en sê hy dat hy hulle nog een keer daaraan wil herinner sodat hulle hierdie dinge altyd sal onthou.

In wese herinner hy hulle aan die grondslag van hulle geloof, waarin hulle hoop gesetel is, en wat hulle lewens verander het – dít waaroor die Christelike geloof gaan, en hoe ons seker kan wees dat dit die waarheid is.

Dit is sy laaste poging – en wanneer dit iemand se laaste woorde is, neem ’n mens kennis daarvan. Te midde van die vervolging, met al die dwaalleer en onsekerheid, en die toenemende druk, sê Petrus: broers en susters, dit is waaraan julle moet vashou; dit is wat julle geloof anker; dit is die grondslag.

Die eerste ding waaraan hy hulle herinner, is dat hulle geloof in werklike, feitelike, historiese gebeure geanker is.

Petrus verduidelik dat ons geloof in Jesus volkome redelik is. Ongeag van wat die wêreld, filosowe en ongelowiges mag sê, is dit heeltemal aanvaarbaar om gelowiges te wees. Hy sê: “Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en Sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons Hom in al Sy majesteit gesien.”

Ons geloof is rasioneel

Ek vind dit insiggewend dat Petrus vir oulaas hulle aandag op die redelikheid van hulle geloof gevestig het. En as volgelinge van die Here Jesus is ons dankbaar vir die verseke-ring wat God deur Sy Gees in ons harte plaas. Ons is dankbaar vir die vreugde, die bergtop-ervarings, die vrede wat God deur Sy Gees in ons harte plaas. Ons is dankbaar dat ons kan bely ons weet ons behoort aan God, omdat Sy Gees mét ons gees getuig. Dit is kosbaar en wonderlik. Maar as die druk toeneem, en dit lyk of niks wil uitwerk nie, kan ons nog steeds getuig dat ons geloof volkome redelik is. Dit is wat Petrus doen.

Die verskil tussen glo, en glo in Jesus

Iemand het eendag vir my gesê: “jy het daardie tipe geloof, maar ek nie.” Mense glo op verskillende maniere. ’n Mens hoor: “Wát jy glo is nie belangrik nie, solank jy net glo.” Ek hoop almal verstaan dat dit absolute onsin is. Die Christelike geloof gaan nie oor lekker gevoelens nie. Dit gaan nie oor filosofieë en idees nie. Dit is ook nie ’n soeke na ’n soort finale waarheid en doel nie. Dit is nie een van baie opsies wat jou help om die lewe te kan hanteer nie, of wat jou na rykdom en sukses lei nie. Die Christelike geloof is ’n historiese geloof. Dit is gegrond op – en word bevestig deur – ware historiese gebeure wat plaasgevind het. Dit draai daarom om jou oë op Jesus te hou, wat regtig gelewe het, regtig gesterf het, en regtig opgestaan het. Mense word nie geroep om te glo nie, maar om in Jesus te glo! En daar is ’n gróót en belangrike verskil...

Petrus herinner hulle, te midde van die vervolging en swaarkry dat hulle in die waarheid geanker moet bly. Die Apostel Paulus skryf iets soortgelyks in sy brief aan Timoteus: 

“Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op Wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou.” 2 Tim 1:12.

Ons geloof is die vervulling van ’n menigte profesieë. Dit was nie versin deur een of ander ghoeroe op ’n heuweltop nie. Dit is eg. Dit het met regte mense te make. Dit is hoekom, wanneer jy die Bybel lees, jy op mense sal afkom met gebreke, mense wat hulle geloof in werklike situasies uitleef. Jy sal van hulle worsteling en mislukkings lees, en ook van hulle oorwinnings. Dit is nie die een of ander vreemde stelsel of snaakse geloof nie. Ons staan by die waarheid dat Jesus werklik geleef het.

Omstandighede bepaal nie ons geloof nie

Petrus skryf in sy eerste brief: “In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God.” 1 Pet 3:15.

Daar is ’n goeie rede vir die hoop in ons. Ek het ook my afdae. Ek beleef goeie én slegte tye. Ons hou almal van die bergtop-ervarings, maar ons almal het ook al die donker dieptes beleef. Daar gebeur dinge wat ek moeilik verstaan, maar dit verander nie een oomblik wat ek glo nie. Dit is nie my geloofsbelewenis van die oomblik wat saakmaak nie, maar eerder die Een in wie ek glo.

Waarin moedig Petrus hulle aan om hulle geloof te plaas, selfs as hulle vervolg word? Nie in een of ander verhaaltjie wat deur ghoeroes en verhoogkunstenaars aanmekaargeflans is nie, maar in die waarheid van God, soos dit deur Jesus Christus geopenbaar is.

Die tweede ding waaraan hy hulle herinner, is dat hulle geloof gebaseer is op die getuienis van die Apostels.

“...met ons eie oë het ons Hom in al Sy majesteit gesien.” Hierdie gelowiges is deur Paulus en Petrus onderrig. Hulle het wonderlike verhale van Jesus se lewe, Sy lering en Sy wonderwerke gehoor. Hulle is oor Sy dood en opstan-ding ingelig. Petrus sê dat sy onderrig hieroor nie berus op ’n tweedehandse storie wat hy iewers gehoor het nie, maar op die feit dat hy ’n ooggetuie was. 

Die Evangelies verwoord almal getuienisse van ooggetuies van die dood en opstanding van Jesus Christus. Ooggetuies is in enige geregshof van onskatbare waarde. Petrus kon ’n lang lys maak van wonderwerke wat hy Jesus gesien doen het. 

Hy kon vertel hoe Jesus op water geloop het, water in wyn verander het, duisende mense gevoed het – maar in hierdie gedeelte praat hy van die lewensverande-rende ontmoeting wat hy gehad het. Petrus het God hoor sê: “Dit is my geliefde Seun oor Wie Ek My verheug.” Die gebeure in die lewe van Jesus het in die openbaar plaasgevind, en om dit te ontken, is om historiese feite te ontken.

Die derde ding waaraan hy hulle herinner, is dat hulle geloof deur God belowe en gewaarborg is.

Dit is ’n historiese feit. Daar word van al hier-die dinge gepraat in profetiese Geskrifte. Ongeag al die ander dinge waarop ons staan – die waarheid, die Woord, die wonderwerke, die ooggetuies – staan ons op die feit dat Jesus al die profesieë vervul het. Die Ou Testament is oor ’n tydperk van 1 000 jaar geskryf. 

Daar is honderde profesieë wat verband hou met die Messias, en Jesus het almal vervul. Jesus het self in Matteus 5:17 gesê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.” Dwarsdeur die Skrif sien ons die vervulling van profesieë.  Die  profetiese woord bewaarheid.

Dit is wiskundig onmoontlik vir Jesus om toevallig, of deur bedrog, al hierdie profesieë 

te kon vervul. Die Skrif wys na Hom heen. Onthou gerus hierdie dinge wanneer mense oor Hom twyfel: Die geskiedenis bevestig Sy bestaan; ons het ooggetuies se weergawes, en die profete van ouds bevestig herhaaldelik dat Jesus die Here is. 

Pas dit in jou lewe toe. Ons beleef almal uitdagings. Die lewe kan veeleisend raak, en in stryd met sommige teologiese denkrigtings wat die rondte doen, is ons nie van die lewe se uitdagings gevrywaar nie. Ons toekoms kan dalk selfs vervolging insluit. Om by ons Christelike geloof te staan, gaan toenemend moeiliker word, maar te midde van alles – wat is ons anker? Waarin lê ons krag? Waar kom ons hoop vandaan?

Ons het ’n historiese geloof, gebaseer op die weergawe van betroubare ooggetuies, en bevestig deur die vervulling van profetiese geskrifte.

As Christene moet ons sterk staan. 


Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication