Maar die Woord van die Here, dit bly vir ewig. En hierdie Woord is die Evangelie wat aan julle verkondig is.

1 Pet. 1:25.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View August 2016 Issue >>
 

Ek het 12 jaar lank in Nieu-Seeland gewoon voordat ek en my gesin na Suid-Afrika teruggekeer het en ek raai mense aan om nie oorhaastig na ander lande te emigreer nie, veral nie sonder vaste werksvooruitsigte nie. Moenie geflous word om te dink dat ander lande nie soortgelyke probleme as Suid-Afrika beleef nie.

So, jy het genoeg gehad

Jy het uiteindelik genoeg van Suid-Afrika gehad – die dalende rand, toenemende misdaad en korrupsie, en beurtkrag het jou laat afsit na daardie emigrasieseminaar, op soek na die utopie van groener weivelde, wat hulle belowe in die buiteland te vinde is. Voordat jy daardie lewensveranderende besluit neem om te emigreer, staan ’n paar oomblikke af en lees verder.

Na Nieu-Seeland en terug

Ek en my vrou het in 2000 saam met ons agt maande oue dogtertjie na Nieu-Seeland geëmigreer en vir 12 jaar lank daar gewoon. In 2012 het ons met ons vier kinders terug verhuis na Suid-Afrika (ja, daar ís televisiestelle in Nieu-Seeland). Moenie ’n fout maak nie, ons het die lewe in Nieu-Seeland baie geniet, en het selfs burgerskap van die land ontvang. Maar namate ons kinders grootgeword het, het ons besef dat ons hulle ook die geleentheid wou gun om ons geboorteland te ervaar – waar ons uitgebreide familie woon – sodat hulle ook in ons waardes en kultuur kon deel. 

Misdaad kom wêreldwyd voor

Ek moet erken, ons het probleme in Suid-Afrika, maar waar is daar ‘n land wat nie probleme het nie? Selfs Eerste Wêreld-lande het hulle porsie probleme.

Die eerste keer dat daar by my huis ingebreek is, was in Nieu-Seeland in 2004, en in dieselfde jaar is my beursie en selfoon uit my kantoor gesteel. My tienerniggies is in ‘n parkeerterrein van ’n winkelsentrum in Auckland aangerand en beroof.

Byna elke jaar is daar tragiese voorvalle van geweldsmisdaad. Onlangs is ‘n paar Nederlandse toeriste verkrag toe hulle deur die Nieu-Seelandse platteland gereis het.

Geweldsmisdaad is aan die toeneem; so moenie dink dat misdaad net tot Suid-Afrika beperk is nie – dit kom wêreldwyd voor, en veral in die lande waarheen ons Suid-Afrikaners geneig is om te emigreer, naamlik Engeland, Amerika, Nieu-Seeland en Australië.

Die media in daardie lande berig nie breedvoerig oor hierdie voorvalle nie, want hulle weet dat dit ’n negatiewe uitwerking sal hê op die toerisme en immigrasie, wat hulle nodig het vir hulle ekonomieë om gesond te bly.

Die anderkant van emigrasie

Ek skryf teen die agtergrond van talle Suid-Afrikaners wat deur die regerings- en emigrasieagentskap-pe van hierdie lande mislei word, wat ‘n rooskleurige prentjie van die lewe daar skilder – en nie heeltemal eerlik is nie.

Ek bied graag die anderkant van emigrasie, vanuit my ervaring, wat jy nie van duur agente sal hoor nie, sodat jy ’n ingeligte keuse kan maak.

As jy nie ‘n werksaanbod het voordat jy emigreer nie, raai ek jou aan om te wag. Moenie die agent glo wat sê dit is maklik om een ​​te kry nie. Immigrante ondervind oor die algemeen groot probleme om werk te kry, en jou Suid-Afrikaanse kwalifikasie word dikwels nie erken nie, wat vereis dat jy meer moet doen om dit geakkrediteer te kry alvorens jy in aanmerking kan kom vir ‘n werksvisum.

Dit neem alles tyd en haal jou meer koste op die hals en moenie dink dat daar nie xenofobie, rassisme en diskriminasie is nie. Ek en my gesin en vriende het dit eerstehands ervaar.

Ons is selfs deur sekere werkgewers meegedeel as ons nie na hulle pype dans nie, ons afgedank sal word, wat daartoe kan lei dat ons werksvisum beëindig word en ons gedeporteer word. Immigrante word dikwels deur die plaaslike bevolking geboelie. Hulle word as ‘sagte teikens’ beskou en is dikwels slagoffers van misdaad.

Hierdie lande toon ook ‘n hoë voorkoms van depressie en geestesversteuring as gevolg van ‘n aantal faktore: beperkte sonlig, finansiële probleme, en lang werksure. Die lewenskoste is duur. Dikwels bestee jy 70 tot 80 persent van jou salaris aan huur en verblyfkoste.

Jou vermoë om te spaar is minder omdat jou besteebare inkomste minimaal is, wat daartoe lei dat baie immigrante meer as een werk het, net om kop bo water te hou. Gevolglik is daar minder vrye tyd.

Vra jouself af hoekom die meeste jong volwassenes uit Nieu-Seeland na Australië emigreer? En hoekom emigreer Australiërs na Europa?

In Nieu-Seeland mag die media nie verslag doen oor selfmoord nie en, statisties is dit die land met een van die hoogste vlakke van selfmoord ter wêreld. Hoekom is dit die geval as die gras dan so groen is? Sielkundiges meen die isolasie daarvan om in ‘n vreemde land te wees sonder familie, vriende en ’n bekende lewenstyl, is ‘n belangrike faktor in sielkundige stres omdat jy jou ondersteuningsnetwerk verloor en jy dit weer van nuuts af moet opbou wanneer jy emigreer.

Wat my die duurste te staan gekom het, was om nie by die huis te wees toe my ma in Suid-Afrika oorlede is nie; ek was nie in haar laaste lewensjare daar vir haar nie. Dit moet alles oorweeg word omdat die meeste van ons uit hegte families kom.

Goeie Raad

• Dink goed daaroor voordat jy gaan

• Doen jou huiswerk deur eers daar vakansie te gaan hou en ge-reeld aanlyn te lees oor hulle nuus, weer, werksvooruitsigte en navorsing te doen oor die land se immigrasievereistes.

• Moenie op die agent se woord staatmaak nie

• Moenie gedryf word deur vrees nie.

• Wees duidelik waarom jy wil emigreer en weeg die voor-en nadele op.

• Jy en jou gesin moet in ooreenstemming wees. As jy om die een of ander rede onseker is, wag liewer.

• Wees voorbereid om verandering te verwelkom. Baie mense het daarin geslaag om suksesvol te emigreer, maar dit neem tyd en baie geduld.

• Wees voorbereid daarop om eers agteruit te boer voordat jy vorentoe beweeg met betrekking tot jou inkomste, werk, en lewenstandaard.

• En laastens, as jy emigreer, moet Suid-Afrika asseblief nie beswadder nie – baie mense doen dit om emigrasie te regverdig. Dit is nie gepas nie.

 

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication