U Woord, Here, staan vir altyd vas in die hemel.

Ps. 119:89.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View February 2017 Issue >>
 

Wanneer ’n mens deur Wanda Bam se CV lees, kan dit nogal intimiderend vir ’n gewone sterfling wees – pastoor se dogter, gospelsangeres, televisie-aanbieder, outeur, hoof van die kunstedepartment by Moreletapark en tans aanbieder en programbestuurder by Kaapse Kansel, om maar net ’n paar te noem. Tog is sy baie eerlik oor die onvolmaaktheid van haar oënskynlik perfekte lewe. In haar boek, Wilderniswenke vir Vroue, vertel sy van geweld in die huwelik, haar eerste man se selfdood, haar egskeiding vyf jaar gelede, en haar broer se dood. Maar, moet vir geen oomblik dink dat dít haar definieer nie. God het voorwaar alles nuut gemaak en word verheerlik deur die oorwinning en heling waarvan Wanda se lewe getuig. Ek het by Kaapse Kansel by haar gaan inloer.

Wanda, was jy altyd so oop en eerlik?

My ouers was in die bediening en ek dink ’n mens leer onbewustelik dat jy ’n verantwoordelikheidslagie moet handhaaf as jy in die publieke oog is of as jy ’n pastoor se kind is. My ma het altyd gesê: “Onthou net jy is ’n voorbeeld vir die gemeente se dogters.” Dit was altyd die refrein – wees perfek. Ek het dus eers later in my lewe geleer om eerlik met myself en met ander oor slegte dinge in my lewe te wees.

Jy sê jy het as kind ervaar dat jy perfek moet wees. Was jy bewus van die druk wat dit op jou geplaas het?

Nee, glad nie. Dit was van kleins af ingeburger. 

Tog het ek my kinders nie so grootgemaak nie, ek het altyd vir hulle gesê:” Dit is belangrik dat julle moet wees wie julle is.” 

Was daar ’n punt in jou lewe waar jy besluit het jy gaan nie meer daarna streef om perfek te wees nie? 

Dit het lank geneem. Met die skryf van Wilderniswenke is ek vir die eerste keer met ’n oorsig oor my lewe gekonfronteer. Op agt was ek so lief vir God dat my hart wou bars as ek oor Hom dink; toe ek by lof-en-aanbiddingsbediening betrokke raak, was dit ’n verligting om daaraan uiting te kon gee en ek het altyd voorbeeldig gelewe, maar die Here het geweet hierdie dogtertjie wat so lief vir Hom is, gaan verkeerde keuses maak en alles behalwe perfek wees; Hy het egter ook geweet dit gaan my relevant maak. 

Toe ek dus met my onvolmaaktheid gekonfronteer word, het ek pynlik besef ek is nie meer die ‘perfekte’ dogter [van God] nie. ’n Mens kliek nie jy word groot met ’n gevoel dat jy ’n voorbeeld moet stel nie, jy ontdek dít die dag wanneer jy ’n fout maak en jy ervaar dat die terugvoer van ander mense verander – dadelik. Vriende begin anders optree. Die kerk behandel jou anders. Daar is skielik ’n nuwe stel reëls wat geld. Dit alles sê vir jou: “Jy is nie oukei nie.” Dit is waar ek dit fel, hard en duidelik beleef het. 

Het jy baie van hierdie tipe verwerping ervaar?

Nee, gelukkig nie. Ek het baie genade beleef van Radio Kansel se ouens en van ds. Dirkie van der Spuy; mense wat nog steeds in my geglo het. 

Jy praat van die geweld in jou eerste huwelik asook jou egskeiding van jou tweede man. Watter positiewe lewenslesse kon jy hieruit leer? 

Die gesinsgeweld was grotendeels as gevolg van my man se posttraumatiese stresversteuring (PTSV) weens dinge waaraan hy blootgestel is tydens sy diensplig. As gesin het ons die ‘pose’ gehou. Al twee my dogters is geleer om te lieg – ek sê dit soos dit is. Hulle is geleer dat hulle vir niemand kan vertel wat vanaand hier gebeur het nie. 

Ek moes ’n punt bereik waar ek vir myself in die spieël kon kyk en sê: “Wat was my aandeel?” As jy dit nie kan doen nie, moet jy nie vir my sê jy het deur iets gewerk nie. Jy moet daar uitkom, en dan besef jy, daar is dinge wat jou kinders by jou aan-geleer het. Ek moes vir my dogters om vergifnis vra omdat ek hulle, in sekere opsigte, ‘verkeerde waardes’ geleer het. Dit is nooit aanvaarbaar as ’n man vir die eerste keer net hard aan jou vat nie; jy mag nooit trou omdat jy iemand nodig het nie; jy moenie jou man ‘nodig’ hê nie. Rolprente en liedjies leer ons: “Ek kan nie sonder jou lewe nie”; “You complete me”. Dit is ’n vals verwagting, ’n leuen. 

As jou identiteit in jou man gevestig is, gaan jy met verwronge verwagting die huwelik in. As hy jou teleurstel, moet jy kan aangaan, as die vuishoue geval het, moet jy helder kan dink en hulp kry. Moenie jok daaroor nie, moenie dit wegsteek nie, kry hulp. Vir jouself en vir hom.

Lees die res van die artikel in die Feb/Mrt uitgawe van JUIG!

 

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication