Maar die man wat julle in die verwarring bring, wie hy ookal mag wees, God sal hom straf

Galasiers 5:10

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View June 2008 Issue >>
 

Sien God se Tekens in die Natuur

Angus Buchan toer die land deur en spreek ons Nasie toe oor die feit dat jy jou verhouding met Hom moet regmaak: jou sonde los en God se plan vir jou lewe moet volg; Jannie Pelser het in die vorige JOY! gedeel hoe ʼn nuwe hart in dié dae nodig is, en onlangs het Ds. Elsa Meyer ‘n wonderlike ervaring met die Here gehad.  JOY! het haar genader en gevra om die getuienis met ons lesers te deel.

“Aan die einde van 2007 tydens ‘n uitreik na die Oos-Kaap, was Emmi (een van die spanlede) by Jeffreysbaai.  Terwyl die uitreikspan op die strand gestap het, het sy gevoel sy moet ’n klippie en ’n skulpie optel. ’n Paar weke later kom Emmi die oggend vroeg by my aan met die klippie en die skulpie.  Sy vertel toe vir my hoe sy in haar gesprek met die Here ervaar het dat ek die klippie in die see moet gooi.  Wanneer ek die klippie in die see gooi, moet ek in die geloof verklaar dat die berg van ongeloof in ons land sal plek maak vir geloof.  Sy het ook ervaar dat ’n vloedgolf van reiniging oor ons land sal spoel.
 
Die spannetjie mense wat ná die Oos-Kaap-konferensie saam met my was, het saam gebid.  Ons het so diep as wat ons kon in die see ingegaan en die klippie ingegooi.  Toe ons later uitstap op die strand, het ek gelei gevoel om te verklaar:  ‘Here,  U verwyder ons hart van klip en U gee ons ’n hart van vlees.  U skryf U wet op ons harte!  Dit doen U vir al 14 bevolkingsgroepe in ons land.  Amen.’
 
Op daardie stadium het die Here my daaraan herinner dat ons met elkeen van die Ester-uitreike ’n bepaalde area van ons land en sy mense aan Hom toegewy het.  In Mpumalanga en die Noordelike Provinsie was dit die grond.  Daar was al soveel bloedvergieting en oorlog as gevolg van die sug na grondbesit!  Vreemd genoeg, was daar daardie naweek brande oor die hele land.  Dit het gebrand van Piet Rietief af tot by Graskop, in Natal en die Wes-Kaap.  Tydens die Wes-Kaap-konferensie het ons God se mense opnuut aan Hom toegewy – die Kerk en elke ander godsdiens en anti-godsdiens,  sal erken dat Jesus Christus die Here is!  In die Vrystaat het ons gepleit dat al 14 bevolkingsgroepe van ons land sal leer om God bo nasionalisme lief te hê.  In die Oos-Kaap het ons verklaar dat die Afrika-godsdienste en animisme  sal plek maak vir ’n lewende verhouding met God en ons het in die Gees ’n deur oopgemaak na Afrika.
 
Ons het egter nooit die water van ons land opnuut aan die Here toegewy nie.  Terwyl ek so uitstap op die strand, het ek gelei gevoel om te verklaar:  ‘Here, ons wy ook die water aan U toe.  Elke poel en spruit,  elke rivier en dam,  elke ondergrondse en bogrondse waterbron en die see sal aan U toegewy wees.’  
 
Die volgende oggend is ons terug Pretoria toe.   Dit het begin reën en die see het opgestoot oor die strandgebied aan die Oos-Kaap.  Die inwoners van Buffelsbaai, waar ons die klip in die see gegooi het, was vir dae lank van die buitewêreld afgesny.  Toe die water terugtrek en die strand weer oop was, het ons gasvrou oral op die strand hartvormige klippe opgetel. Sy het ‘n paar vir my aangestuur.  ’n Vriendin van my dogter vertel dat hulle die vreemdste klippe op Plettenbergbaai-strand gesien het:  klippe in die vorm van ’n hart! By die Daniël-konferensie het ‘n man na my toe gekom en gesê: ‘Ek moet vir jou kom vertel dat ek ‘n hartvormige klip op Bloubergstrand opgetel het.’   Toe ons die klippe sien, het ons besef dat God ’n teken gegee het,  dat hy die hart van klip uit ons land se mense sal verwyder.  Ons was oorstelp.
 
Vroeg in 2008 het die Vrouebediening se bestuur by die Here gesit om Sy aangesig te soek vir die jaar.  Terwyl ons by die Here was, het Emmi gesê sy ervaar dat die Here ’n verbond met ons wil sluit.  Hy wil hê dat ons moet verklaar dat ons Hom bo alles sal liefhê.  Ek het onmiddellik geweet dat hierdie verbond en die gebeure rondom die klippe verband hou.  God sal die hart van klip uit die mense se harte haal, maar Hy vra dat ons Hom bo alles sal liefhê!  My hart het vinniger begin klop.  Nie van opgewondenheid nie, maar van vrees. ’n Verbond is ’n ernstige saak! ‘n Verbond het veral een baie gewigtige kenmerk:  dis ’n onverbreekbare ooreenkoms.  Wie ’n verbond verbreek, gee die ander persoon die reg om sy lewe te neem. Jy sien,  ‘n verbond werk as volg:  Wanneer twee mense in antieke tye ’n bindende ooreenkoms wou aangaan, het hulle ’n verbond gesluit.  Dan het hulle ’n dier/diere geslag as teken dat dié een wat die verbond verbreek, ook doodgemaak sou word. ’n Verbond is tot die dood toe.
 
Toe God in Genesis 15 met Abraham ’n verbond gesluit het, het Hy maar liewer vir Abraham aan die slaap gemaak en alleen tussen die karkasse van die oopgesnyde diere deurgegaan as bewys dat Hy by die verbond sou hou.    God was Abraham genadig.  Abraham sou dit nie regkry om sy lewe lank aan God getrou te bly nie.  God sou egter altyd aan hom getrou bly.  Daarom het God alleen tussen die dooie diere deurgegaan – vir altyd sou Hy Abraham se God wees.
 
Op daardie stadium het ek begryp dat hierdie ’n ernstige saak is.  As ek belowe om God bo alles lief te hê,  beteken dit dat ek bereid moet wees om alles wat in die pad daarvan staan,  af te lê en prys te gee.  Ek weet dat ek voorheen seker al ’n honderd keer gesê het dat ek God bo alles liefhet, maar hierdie keer sou Hy my op my woord neem.  Ek sou hierdie keer nie wegkom met leë woorde nie – hierdie is ’n verbond!

Ek het geworstel:  Here, sal ek hierdie verbond kan hou?  Here, hoe gaan ek dit regkry om U bo alles lief te hê?  Here, nou is dit maklik,  maar wanneer daar swaar tye en moeilike keuses kom,  sal ek onthou wat ek vandag belowe het?

Ek het ‘n besluit geneem:  ek sou nie my emosies en vrese toelaat om my gedrag te bepaal nie.  Ek sou hierdie verbond met God aangaan, ongeag die gevolge. Vir die volgende paar dae het die worsteling in my binneste voortgeduur.  Tot die Here die Sondagoggend, vroeg,  voor ligdag,  my vrese kom haal het en vir my verduidelik het:  ’n verbond het nie te make met hoe gehoorsaam jy aan My is nie.  ’n Verbond hou nie verband met hoeveel goed jy reg doen en hoeveel foute jy maak nie.  ’n Verbond is ’n verhouding: Ek en jy.  Ons twee loop nou saam die pad.  Ek gaan jou leer om My meer lief te hê!”
 
Hebreërs 10:16. “Dit is die verbond wat Ek met hulle na daardie dae sal sluit, sê die Here. Ek sal My wette in hulle harte gee, in hulle verstand sal Ek dit skrywe.“

Met dié getuienis kan ons almal saam die Here vra om ons harte van klip te verwyder en vir ons harte van vlees te gee. Kom ons verklaar saam dat die berg van ongeloof in ons land sál plek maak vir geloof en dat die vloedgolf van reinging in ons land sal voortduur.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication