Maar nou se die Here: Draai met volle oorgawe terug na my toe! Vas, huil en treur! Moenie julle klere skeur omdat julle hart seer is nie, skeur julle harte!

Joel 2:12,13

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View May 2009 Issue >>
 

Verskeur deur Egskeiding

 

Ek het ’n brief van ’n jongmeisie ontvang wat haarself bloot net “Verwonde hart” noem. Dit lui as volg:

 

“MOET DIT ASSEBLIEF NIETEKEN NIE! AG PAPPA, MOENIE DAARDIE VORMS TEKEN NIE!”

My pleitdooie moes grootliks tot my pa se las bygedra het, maar, met die pen ferm in sy hand, het hy voortgegaan en sy naam op die finale vorms geteken.

Daarmee was my wêreld vernietig en ek ook, want op daardie dag het iets in my kinderhartjie doodgegaan. ’n Kind? Ja, ’n kind! In jare wel, maar die kind wat by haar pa gepleit het, sou nooit weer ’n sorgvrye dogtertjie wees nie. Want my ma en pa was geskei. Dit was ’n groot wêreld en ’n haatlike een. Wat dit vir die volwassenes beteken het, weet ek nie, maar vir my was dit ’n storie wat net nooit weer vertel kon word nie. Vir ons kinders was ons huis die wêreld, met Mamma en Pappa as baie belangrike dele van dié wêreld. Maar daardie wêreld het net skielik verkrummel. Soos ’n storm wat skielik kom vernietig en jou dan los om die stukke bymekaar te maak. Ons huis is op sy kop gekeer. Die ergste was dat die twee wat ons lewens verwoes het, juis die twee was wat ons veiligheid en lewe was! Van nou af was die gesin verdeel. Ek moes kies tussen my ma en my pa – ek kon nie albei hê nie, alhoewel ek albei liefgehad het en wou hê albei moes my liefhê. Hulle was elkeen vir my so nodig; hoe kon ek my rug op die een draai en sê ek kies die ander?

 

LIEFDE VIR ALBEI

Ek onthou nagte wat ek siek was en my ma by my gesit het – hoe sy my gevoer het en na elke behoeftetjie omgesien het. Sy moes my tog sekerlik liefhê. Wanneer iets my gepla het, het ek altyd na haar toe gegaan en haar verduidelikings het nog altyd die vrese bestry. Ek het ’n groot geloof in my ma gehad. Ek kon egter nie my pa se liefde vir my en die plek wat ek in sy hart gehad het, betwyfel nie. My broers sou my dikwels na hom stuur om te vra as hulle ‘n gunsie wou hê, wetende dat hy my selde iets geweier het. Hierdie spesiale band wat ek met hom gehad het, was miskien omdat ons so eenders was – ons het mekaar verstaan. Ek het die diepste respek vir hom gehad – maar hoe kan ek dit nou vergelyk met dit wat ek vir my ma gevoel het? En hoe kan ek ‘n besluit neem wat my van een van hulle sou skei?

Dit was die prys van egskeiding en die gevolg – die kinders moes betaal!

Ek pleit ter wille van die kinders by ouers wat nog steeds die koste bereken. As julle hulle onderwerp aan die absolute smart om te kies tussen die twee ouers wat hulle liefhet, dan moet iets wonderlik in hul harte doodgaan weens die onnatuurlike stryd wat hierdie keuse meebring.

Jare het nou al verloop, maar ek sidder nog by die terugdink aan die dag wat ek die huis verlaat het – saam met my ma. My pa het vreeslik gehuil, maar het toe net gestaan en staar. Ek het dikwels gewonder wat toe deur sy kop gegaan het. Hy het so hard gewerk om te doen wat reg is vir sy gesin en nou was alles daarmee heen. Was ’n deel van sy smart die feit dat hy sy enigste dogter verloor het? (Vaderloos?) Het hy gedink aan wat kon wees? By my is daar geen onsekerheid oor wat kon wees nie: hulle kon ’n wonderlike suksesvolle huwelik gehad het indien hulle bereid was om daaraan te werk – indien beide of selfs net een, bereid was om persoonlike gevoelens op te offer.

 

SELFSUGTIG EN HARTKOPPIG

So ver terug as wat ek kan onthou, onthou ek hoe hulle baklei het. Soos met alle gevegte, het dit ontstaan as gevolg van selfsug en hardkoppigheid, met albei wat weier om kop te gee vir die ander. Belaglike raad is: “Skei as julle nie kan klaarkom nie; dit sal soveel beter wees vir die kinders.” (Beter om ses kinderharte te breek as vir een of twee om die klein wondjies te dra? Beter dat die slag ses jong lewetjies tref, lewetjies wat nog nie oud genoeg is om te weet waarom hulle van mekaar geskei moet word nie?)

Bitter protes en trane was verniet, want egskeidingshowe neem glad nie kinderhartjies in ag wanneer uitspraak gegee word nie. Ma en Pa moes ‘vry’ wees, maar nie ons kinders nie. Ek het ’n slaaf van wanhoop geword. Die bakleiery? Dit het minder geword, maar die trane van gebroke kinders het die plek daarvan ingeneem, en ek, om maar net een te noem, het verlang om die bakleiery te hoor. Dit sou dan ten minste beteken dat ek my ma en pa teruggekry het.

 

HARTSPLEIDOOI

Hierdie storie is my eie. Hierdie pleidooi kom uit my eie hart, alhoewel my broers ook hulle stories sou kon skryf. Ons bure in die klein dorpie waar ek grootgeword het, sou dan hulle dele kon byvoeg. Dit is miskien net ’n té bekende storie – Pa te besig om die klein dingetjies te doen wat so belang-rik is en wat sy ses- en agtjarige seuntjies afgeskeep het. My broertjie het na sy ma verlang, maar sy verlies het uiting gevind in gemeenheid – hy het ’n probleemkind op skool geword. My tienerbroers het met die gereg gebots en hulle moes selfs een nag in die tronk deurbring. Ek het toe al besef dat selfs dít deel van die prys van egskeiding was wat die kinders moes betaal.

Miskien het ’n dogter haar ma meer nodig as wat seuns het. Ek het egter die meeste gely. Die skok van ‘die dag’ is onuit-wisbaar in my geheue ingeprent, maar dit was nog maar net die begin van die bitter porsie wat ’n ‘egskeidingskind’ moes sluk. Met my pa uit my lewe geruk, my broers weg en my hart meer as ooit tevore ver-knog aan my ma, was dit ’n onuitspreeklike en geweldige skok om my ma in die arms van ’n ander man te vind. Op daardie oom-blik het ek absolute eensaamheid ervaar. Ek het my pa verloor, en nou, nou is my ma in die arms van ‘n ander man!

Hierdie ontdekking het my verander en verbitter gelaat. Emosies wat wegge-sluit was, het nou uitgebars en ek het gehuil sonder ophou. Die bitterheid het dit onmoontlik gemaak om in liefde en vrede met my ma te praat. Hiermee saam die een oorweldigende idee: sy behoort aan my en my pappa! Ek het opgegaan in die idee dat ek haar moes terugwen van die een wat ek gevoel het, ons hartseer veroorsaak het. ’n Botsing moes kom. Eendag het ek my ma en die man saam met ander vriende in die voortuin gevind. Blinde wanhoop en slui-merende hoop het van my besit geneem. Vir my het dit in ‘n hofsessie ontaard – met ’n kind as die aanklaer en die bure as die jurielede. My desperaatheid het net uitgekom: ons nood aan Pappa, ons nood aan die huis wat ons moes agterlaat – “Asseblief Mamma, laat ons net teruggaan en weer gelukkig wees.” Kunstenaars kan menslike swaarkry skilder, maar nie die kwas of die pen kan die oomblik vasvang wanneer ’n kind besef hy/sy het die geveg vir haar/sy ma se liefde verloor nie. Die een dag was sy nog die liefdevolle ma en die volgende dag was sy die vreemdeling wie se enigste gevoel skynbaar die afkeer in haar ‘onredelike’ dogter en haar gedrag was. Die bure het probeer troos en help, maar hulle woorde kon nie die troos bring nie. Ek het gefaal en geen mislukking was nog ooit so fel nie. Ek was in absolute skok en op pad terug na my ou huis toe.

 

WANHOOPSPUT

’n Paar weke vantevore nog was ek in hierdie huis – gelukkig en vol selfvertroue. Maar toe ek die agterwerf instap, was daar geen blydskap in my hart nie – geen afwagting of gretigheid nie. Pappa het my by die deur ontmoet en was baie dankbaar dat ek teruggekom het, maar moes, tot sy ontsteltenis, uitvind dat dit nie dieselfde dogtertjie is wat nou teruggekom het nie. Skok en hartseer maak dat vreugde verdwyn, en daarmee saam verdwyn alle glimlaggies ook. Hy het probeer, maar kon my nie uit die put van wanhoop kry nie. Ek het gehuil totdat daar nie meer trane was nie. Daar was niks wat aan my wonde gedoen kon word nie. Toe ek hoor dat my ma weer getroud is, het bitterheid my oorspoel. Ek het hard en rebels geword. Die geloof wat deur my ma vernietig is, het veroorsaak dat ek geeneen kon vertrou nie, selfs nie eers my pa nie. Ek het gevoel almal was teen my – niks het meer saak gemaak nie. Toe Pappa my aangespreek het daaroor, het ek gedink hy het ook teen my gedraai en ek het teen hom ook begin rebeleer.

 

SKADU UIT VERLEDE

Ek het by hom weggeloop en by enigeen gebly wat vir my plek gehad het. Later het baie wrede omstandighede gemaak dat ek weer moes teruggaan na my ma en haar man toe. Ek moes vir hulle soos ‘n skadu uit die verlede gewees het en ek moes met die besef leef dat ek nie welkom was daar nie. En tog het my hele wese gesmag daarna om liefde te ontvang. Wrede argumente – ’n haatoorlog – het tussen my en die indringer begin.

Ek het baie gely en was die    meeste van die tyd alleen; daarom het ek naderhand ’n vrees vir mense begin kry. ’n Senu-ineenstorting moes volg.

Ek wens ek kan die hand van elke ouer wat daaraan dink om te skei, neem en hulle saam met my terugneem in die vallei waardeur ek moes kom. Indien die seer van ’n onskuldige kind, die bittere skok op ’n broos lewetjie, die trane van die verworpe, misplaasde kind in die howe as getuie geroep kan word; dan sal geen kind nodig hê om ooit weer daardie haatlike pad te stap wat begin met die ondertekening van daardie finale egskeidingsvorms nie. Dank God dat my lyding my uitgebring het by my Redder, en stadig, baie stadig, het ek weer begin lewe.

 

HUWELIK KÁN WERK

Sedert ek getroud is, het dit een keer gelyk of ek ook gaan faal, net soos my ouers. Maar deur opoffering en liefde kon ek bewys dat die huwelik kan werk en kan hou. My wonderlike man en liefdevolle kinders is my prys nadat ek, soos Job, geskuur moes word. Baie mense sal nou sê: “Maar my geval is anders.”

Ek glo dat elke huwelik kan werk indien man of vrou daarvoor sal veg tot die bitter einde. Myne het nie oornag in ‘n suksesverhaal verander nie, maar elke poging was die moeite werd en dit deur opoffering van my eie gevoelens. Ek het eienskappe in my man na vore gebring wat ek nie geweet het bestaan nie. God alleen ken die vreugde wat ek nou ervaar vir elke slag wat ek geveg het – met myself – en nie met my man nie. Ek moes leer om te gee eerder as om te neem, om te glimlag al het my hart gerebelleer, en om stil te bly en toe te laat dat God vir my praat. Dit was egter die moeite werd as die beloning in ag geneem word – een van die gelukkigste huwelike in die wêreld.

Uit ervaring weet ek dat egskeiding nie die antwoord is nie – opoffering is. Jy wat aan egskeding dink – ek pleit by jou, dink aan my storie. Hou jou kind vas in jou arms en spaar hom dít wat ek moes verduur en nie kan vergeet nie.” Hierdie brief het my aan die hart gegryp. Dit waarsku teen die kleinste saadjie van selfsug; dit vra om andere voor die eie ek te stel en dit waarsku dat ‘n mens nie heilige instellings, soos die huwelik, sommer net ligtelik kan opneem nie. Dit laat my daarna verlang dat elke huis ‘n gelukkige een sal wees en dit laat my onwrikbaar glo dat God kan waar ons nie kan nie.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication