As jy dit doen, sal die lig vir jou deurbreek soos die nuwe dag. Jou genesing sal spoedig herstel. Hy wat jou red, sal voor jou uitgaan, die heerlikheid van die Here sal jou van agter beskerm.

Jes 58:8.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View July 2009 Issue >>
 

Die 'Eks'-Faktor

 

Op my troudag is ek met die man van my drome getroud. Maar ... my nuwe man was nie die man wat ek in my drome as dogtertjie en tiener gekoester het nie! Die man van my kinder- en tienerdrome het sonder die bagasie van ‘n eerste vrou en kind gekom. Die man met wie ek getroud is, Scott, is geskei as gevolg van sy eerste vrou se ontrouheid.

In die ses jaar van ons huwelik het sy eerste vrou op vele geleenthede ingemeng en sodoende die harmonie tussen ons versteur. Sy het Scott op sy selfoon geskakel en aangedring daarop om hom alleen te sien. Sy het ‘toevallig by ons aangekom’ as ek nie by die huis was nie. Sy het ook baie dikwels iets aaklig oor my gesê – maar altyd op ‘n baie ‘vriendelike’ manier.

Ek het probeer om aangenaam te wees, maar sy het skynbaar nie daarin belanggestel om my op dieselfde manier te behandel nie. Maar toe sy onbeskofte dinge oor my huwelik begin sê, het ek haar laat weet dat haar opmerkings onvanpas is. Haar reaksie? ‘Sy sal vir my bid!’

 

GETROUD MET BAGASIE

Daar is ‘n ou spreekwoord wat sê as jy trou, trou jy ook met die familie. Die werklikheid is egter as jy trou met iemand wat reeds voorheen getroud was; dan moet jy ewe skielik ook die geskiedenis, die kinders en die pos wat nog steeds vir die vorige vrou aankom, hanteer.  Hierdie huwelike bied unieke uitdagings en soms ook onverwagte jaloesie, vergelykings en onseker-hede wat dikwels ‘n paartjie uitmekaar kan laat spat. Dit is hoekom dit veral belangrik is dat jy en jou huweliksmaat verenig bly ten spyte van en teen die inmenging van die ‘eks’-faktor. Indien jy met die ‘eks-faktor’ sukkel: hier is 4 strategieë wat jou huwelik sterk sal hou.

 

1. BID VIR DIE VORIGE HUWELIKSMAAT

Dikwels as my man se ‘eks’ snedige aanmerkings gemaak het, wou ek bid soos Dawid in Ps 3:8 – “Staan op Here! Bevry my tog, my God! U het al my vyande op die kakebeen geslaan, die tande van die goddeloses het U gebreek!” Ongelukkig is dit nie die beste keuse nie. Om God te vra om vuur en swael te laat neerkom, mag dalk aanvanklik goed voel, maar dit is beslis nie die toepaslikste plan van aksie nie.

Jesus, aan die anderkant, het ons gevra om só te bid: “Maar Ek sê vir julle, julle moet julle vyande liefhê en bid vir die wat julle vervolg.” Matt 5:44. Vra God om die ander persoon te seën, omdat, al is dit dan vir geen ander rede nie, sy/hy na die beeld van God geskape is, of omdat sy/hy die ouer van jou stiefkind is.

Bid dat die persoon wyse ouerbesluite sal neem. Bid dat God vrylik in die ‘eks’ se lewe sal werk. Bid dat jou hart (sluk-sluk) sal versag en dat jy God se liefde sal uitleef – ook teenoor dié persoon.

Ek het gevind dat wanneer ek vir Scott se ‘eks’ bid; dan koester ek aangenamer gedagtes oor haar. Indien ek God dan toelaat om aan die verhouding te werk en Sy wil te laat geskied, is ek minder geneig om deur haar inmenging ontstel te word. Ek kan dit nie verklaar nie; ek weet net dat dit beslis werk!

Dit is egter nie net kitsgebede nie – soms kos dit ernstige, tydrowende gebede wat met vas gepaard gaan. Die belegging is egter die moeite werd.

 

2. VERHOED DIE VERGELYKINGSTRIK

Sommige huweliksmaats is veral daarop ingestel om beter as die ‘eks’ in alles te wees. In die proses gee hulle toe aan jaloesie of gevoelens van vernedering indien hulle voel dat hulle iewers tekort skiet.

Een vrou, Sara, het ‘n gewigsprobleem. “Troy se eks is maer en stylvol, ek nie. Ek vereis ‘lae onderhoud’. As ek myself hoegenaamd toelaat, dink ek by myself: ‘Wil Troy my dalk maerder hê?’ Wens hy dalk dat ek meer ‘n ‘trofee-vrou’ moet wees?” Vergelykings tussen jou en die ‘eks’ laat jou onseker voel – hanteer dit onmiddellik. Erken jou onsekerhede, bid daaroor, skryf daaroor in jou joernaal, maar moenie toelaat dat dit jou gedagtes domineer en jou huwelik verwoes nie.

Ek weet uit eerstehandse ondervin-ding!  Daar was tye dat ek misleidende gedagtes gekoester het: ‘Het Scott se vorige vrou dit beter gedoen?’ ‘Vergelyk Scott my met haar?’

Dit het ‘n groot verskil gemaak toe Scott my verseker het: “Dit het ek nie in my eerste huwelik gehad nie – ek het nooit enige rede om jou te wantrou nie.”

Glo jou huweliksmaat as die dinge gesê word. Dit is meer as baie waarskynlik dat hy/sy jou nie met die ‘eks’ vergelyk nie. Indien dit wel gedoen word, is dit nie jou probleem nie, maar jou maat s’n! Jy hanteer net dit wat jy kan verander. Dit is waar 2 Kor 10:5 so belangrik is: neem daardie negatiewe gedagtes gevange in gehoorsaamheid aan Christus.

 

3. STEL DUIDELIKE GRENSE

Indien jy met die ‘eks’ te doene het, beperk die gesprekke tot die huidige of die kinders.  Indien die ‘eks’ begin uitvis oor of ontoepaslike kommentaar lewer oor jou, jou maat of jou huwelik, of selfs so ver gaan om die verlede op te diep – moenie verder gesels nie. Eindig die gesprek net daar – op ‘n baie hoflike manier!

Maak verder ook seker die ‘eks’ verstaan dat daar geen geheime tussen jou en jou maat is nie. Dit is belangrik dat sy/hy sal besef dat:

jou huwelik nie sy/haar saak is nie;

jy en jou maat ‘n span is.

Indien telefoonkontak ‘n probleem is, probeer gerus e-poskontak of per brief – laat jou maat egter altyd eers die inhoud lees. Scott vertel my van elke keer wat sy ‘eks’ bel of met hom kontak het, asook presies wat sy gesê het. Hy vra my om te luister na elke selfoonboodskap – dit bou die vertroue tussen ons omdat ek weet hy steek niks vir my weg nie. Onthou om grense te stel beteken nie dat jy onbeskof is nie; dit is slegs om ferm te wees oor wat aanvaarbaar is en wat nie. Jy kan nog steeds met grasie optree sonder om verskonend te wees.

 

4. OEFEN VERGEWENSGESINDHEID

Vir jare kon ek Scott se vrou vergewe net om haar weer te sien moeilikheid maak in ons lewens. Ek sal waarskynlik altyd hieraan moet werk – om te vergewe. Ek verstaan Petrus se vraag aan Jesus: “Here, hoeveel maal moet ek ‘n medegelowige vergewe wat iets teen my gedoen het? Selfs tot sewe maal toe? Nee, verseker Jesus hom, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe!” Matt 18:21,22.

Dit mag dalk moeilik wees om te bid: “God help my om hom/haar lief te hê,” omdat, om baie eerlik te wees, dit ‘n reuse stap is. Jy kan ook bid dat God jou empatie vir die ’eks’ sal gee. Empatie is al ‘n stappie nader aan vergewensgesindheid...

 

DIT GAAN NIE OOR MY NIE

Nadat ek vir jare haar gedrag dopgehou het, het ek besef  Scott se ‘eks’ se gedrag het niks met my te doen nie. Dit het my gehelp om dinge nie persoonlik op te neem nie. Miskien blameer die ‘eks’ in jou verhouding  jou vir alles wat sleg is, of begin selfs ‘n skinderstorie oor jou.

Onthou – die beste manier om hierop te reageer is deur grasie, volwassenheid en vriendelikheid – selfs al voel jy glad nie daarna nie. God verstaan verhoudings; Hy verstaan dat mense mekaar nie altyd op Goderende, vriendelike en liefdevolle maniere hanteer nie.

Maar Hy vereis dat ons nog steeds  respekvol teenoor ander, selfs ‘ekse’, sal optree, want uiteindelik is ons verantwoordelik vir ons eie reaksies en nie vir die ‘eks’ s’n nie.

 

INDIEN MAN- OF VROULIEF NIE  AAN BOORD IS NIE.

Sommige maats  verstaan net eenvoudig nie dat die ‘eks’ ‘n kwessie is nie, of erger nog, weet dit, maar doen niks daaromtrent nie. Indien jy in hierdie situasie is, daar is hoop. Oorweeg hierdie strategieë:

 

STEL JOU SAAK; BLY DAN STIL.

Deur te kerm en dan te hoop dat die saak sal aandag kry, werk eenvoudig nie.

 

NOEM ELKE INSIDENT WAT VOORVAL.

Indien die ‘eks’ onaangenaam raak, noem dit heel saaklik aan jou maat. Vra dan wat jy volgende keer moet doen as dit gebeur.

 

WEES BAIE VERSIGTIG OM SAKE IN EIE HAND TE NEEM.

Dit kan sake net versuur. Selfs al is jy reg, is dit beter om nie betrokke te raak nie.

 

HOU ‘N JOERNAAL.

Dis ‘n goeie manier om van jou gevoe-lens ontslae te raak. Hou rekord indien jy dalk bewyse gaan benodig.

 

BID VIR JOU HUWELIKSMAAT.

Vra God om jou maat se oë oop te maak vir die situasie en vra ook vir raad hoe om dinge te hanteer.

 

HOU JOU EMOSIES IN TOOM.

Kies jou argumente baie versigtig – dis nie die moeite werd om jou huwelik te verwoes oor die ‘eks-faktor’ nie.

 

FOKUS OP DIE POSITIEWE DINGE IN JOU HUWELIK.

Jy het jou maat liefgekry. Vind die goeie eienskappe (selfs al is onderskeiding nie een daarvan nie), en geniet hulle.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication