Vertrou jou lewe aan die Here toe. Vertrou Hom en Hy sal vir jou sorg.

Ps 37: 5.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View November 2009 Issue >>
 

Wie Ondergrawe die Fondament van die Kerk?


Die Bybel is die fondament van die Kerk. Die vraag is: Waarom word die fondament van die Kerk van­dag van binne deur sommige teoloë ondergrawe? Dit maak tog geen sin nie! En hoe is dit dat mense wat graag as teoloë en geestelike leiers bekend wil staan, leerstel­lings verkondig wat die onderbou van hulle eie bediening ondermyn?


OPENBARE DEBAT

Na aanleiding van die openbare debat oor die liggaamlike opstan­ding van Jesus, is die volgende brief aan Die Burger se By geskryf: “Een ding staan soos ’n paal bo water: daar is etlike teoloë wat van­dag leerstellings ver­­­kondig wat lynreg in stryd is met die Belydenis wat hulle onderteken het.
Dit staan sulke teo­loë vry om die kerk te verlaat en ’n ander platvorm te vind waarvandaan hulle hul afwykende teologie kan verkondig, maar hulle het nié die reg om die kerk van binne te ondergrawe nie! Die kerk verloor lidmate wat hulle nie meer met die dwaalleer wat in die kerk posgevat het, kan versoen nie - teen ’n ont­stellende tempo. En dit gaan oor veel meer as net die opstanding. Die kernwaarhede van die Evangelie is almal in gedrang. Die kerklike leierskap se huiwering om die saak van dwaling in die teologie dring­end en pertinent aan te spreek, laat die vermoede ontstaan dat hulle sélf dalk ook al dié virus onder lede kan hê.
Hoe langer die kerk gaan probeer om dié saak in die doofpot te stop, hoe groter gaan die uittog word en hoe meer gaan getroue lidmate voel hulle wil nie langer dwaalleraars onderhou nie. Dis tyd om vir dwaalgeeste ’n streep in die sand te trek.” (Die naam van die betrokke kerk word hier weggelaat omdat dwaling nie tot een denominasie beperk is nie).


SKRIF VERDAG GEMAAK

Die probleem van dwaalleer in die kerk strek veel wyer as net dwaling oor die opstanding. Ten diepste gaan dit oor ver­dagmakery van die geloofwaardigheid en gesag van die Woord. As dít eenmaal gebeur, word die hele Skrif onder verdenking gebring en kan elkeen van die Bybel maak net wat hy of sy wil.

Billikheidshalwe moet genoem word dat nie alle skrifgeleerdes hulle aan dwa­ling skuldig maak nie, maar daar is ongelukkig ook baie wat teologies so ver afgewyk het dat hulle omtrent nie meer van ongelowiges onderskei kan word nie. Die dilemma is dat baie van hulle in opdrag van die kerk besig is om die predikers van die toekoms op te lei.


TEOLOGIESE VERROTING

  • Dit word des te meer kommerwekkend as ’n mens kyk na die volle afmetings wat teologiese verrotting alreeds by sommige teoloë aangeneem het:
  • Die ganse skeppingsverhaal word ver­werp, met inbegrip van Genesis 1 tot 14
  • Die bestaan van die duiwel word ver­werp
  • Die sondeval word bevraagteken
  • Die sondige natuur van die mens word bevraagteken
  • Die historisiteit van die Bybel word onder verdenking gebring
  • Monoteïsme word gesien as iets wat uit politeïsme ontwikkel het
  • Die inspirasie van die Skrif word effektief ontken
  • Wonderwerke word beskou as on­moontlikhede
  • Bybelse moraliteit word bevraagteken
  • Jesus se maagdelike geboorte word verwerp
  • Sy opstanding word bevraagteken
  • Die Bybel se leer oor die wederkoms word bevraagteken
  • Die ewige lewe en ewige verderf word afgemaak as onsin
  • Die uniekheid van die Bybel word ontken


SKRIF INTERPETASIE

Wat bly dus van die Bybel oor? Is dit regtig maar net nóg ’n godsdienstige geskrif wat in wese geen meer waarde bo enige ander geskrif het nie? Is alle godsdienste dan gelyk? Loop alle paaie na God? En wat van Jesus se stelling: “Niemand kom na die Vader, behalwe deur My nie.” (Joh 14:6)?
Het Jesus ons vir die gek gehou, of het die skrywers ons dalk be­drieg? Dit gaan in hierdie hele debat oor die vraag: ‘Hoe verstaan ons die Skrif?’ In hierdie verband is kontekstualisering ’n sleutelwoord. Dit beteken dus dat vir die regte verstaan van die Skrif dit van deur­slaggewende belang is om te weet wát die teks vir die mense van daardie tyd beteken het. Dit ís in der waarheid so dat die historiese konteks ons help om die teks beter te verstaan.


LIBERALE BRIL

Ongelukkig het kontekstualisering van­dag ’n ánder betekenis bygekry. Dit het tot gevolg dat die Skrif nou by monde van sekere Skrifgeleerdes soms lynreg in stryd is met wat daar werklik geskryf staan. Kontekstualisering beteken vir hulle dat ons vanuit ons huidige konteks die Skrif moet herinterpreteer.
Die Bybel word nou gelees deur die bril van die moderne mens, van wie baie sekulêre humaniste is! Vanuit ons hui­dige konteks word daar dan betekenis in die teks ingelees, iets wat dit nooit in die verlede gehad het nie. In dié proses word die Skrif dikwels nie verhelder nie, maar verduis­ter. Die ware betekenis van die teks raak verlore, want ons sien wat ons wíl sien en nie wat God vir ons deur die teks wil sê nie. Erger nog, dit weerspreek die Bybelse lering dat God gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde is.
Dit is onmoontlik dat enigiets wat in die verlede in die oë van die onveranderlike God verwerplik was, nou vir Hom aanvaarbaar kan wees. Wie met so ’n teologie werk, werk met die begrip van ’n verande­rende God – iets wat ten hemele skree!


MORELE MOERAS

Die klassieke voorbeeld is die pogings van sommige liberale teoloë om homoseksualisme uit die Bybel te regverdig. Hulle denkgimnastiek en spitsvondige verklarings maak onsin van alles wat die Skrif daaroor sê. Vir hulle klop die Bybel se duidelike uitsprake teen homoseksualisme nie met die hedendaagse aandrang op menseregte nie en daarom moet die Bybel hervertolk word om te pas by die moderne humanis se opvattings.
Ongelukkig eindig dit ook nie daar nie: die ganse Skrif - van skepping tot wederkoms - word só op losse skroewe geplaas. Alles in die Skrif word gemeet aan ons huidige, sekulêre en humanistiese verstaan van dinge en ons huidige opvatting van reg en verkeerd.
Dit het enórme konsekwensies vir die gánse kerk en ook die samelewing. Die filosoof prof. Willie Esterhuyse sê in sy boek ‘God en die gode van Egipte’: “God en geloof kan jou nie help om volstrek moreel te lewe nie. Dit bly ’n tastende soek. Relatiwiteit is al wat oorbly.” Van ’n God wat absolute wette aan ons voorskryf en gehoorsaamheid van ons eis, kan daar dus volgens hom geen sprake wees nie.

Miskien verklaar hierdie siening waarom SA in so ’n morele moeras verval het. Die mens wil oor homself God speel. Hy verdra nie meer ’n God wat vir hom voorskryf nie. Sy eie verstaan van dinge (sy ‘konteks’) maak die Skrif vir hom ongeloofwaardig en onbetroubaar. Van objektiewe en bindende morele waardes kan daar dus geen sprake meer wees nie; elke mens besluit vir homself.


IMPAK OP DIE SAMELEWING

Daar is nie so iets soos objektiewe, Godgegewe norme nie. Niemand is aan God aanspreeklik nie. Die mens sal sélf besluit hoe hy die Skrif wíl verstaan. Die mens sal God maak soos hý Hom wil hê. Dít is die konsekwensie van vandag se liberale Skrifbeskouing. Suid-Afrika is in ’n morele vryval. Christenskap het by baie in onguns verval nadat die demokratiese bestel in ’94 beslag gekry het. Ons is nou amp­te­lik ’n sekulêre staat. Ongelukkig het dit ’n morele vakuum veroorsaak en die gevolge is oral sigbaar.

Misdaad vier hoogty, geweld het ongekende en brutale afmetings aan­geneem, kinders word daagliks verkrag en vermoor, mense leef in vrees vir hulle lewens - selfs in hulle eie huise, VIGS rig verwoesting aan, barbaarse optrede het gangbaar geword, dwelmverslawing het epidemiese afmetings aangeneem, dissipline kwyn by die dag, onderliggende woede is oral aan die opbou, korrupte mense plunder die land kaal, selfverryking het mode geword, aanspreeklikheid het ’n stil dood gesterf, gesonde werksetiek het skaars geraak, werkloosheid bedreig die goeie orde, die landsadministrasie gaan sienderoë agteruit, infrastruktuur gaan ten gronde en die onderwys het ’n historiese laagtepunt bereik. ‘n Geslag jongmense is besig om groot te word sonder kennis van die Bybel. En dit voorspel beslis niks goeds vir die toekoms nie. Goddank vir ouers en onderwysers wat wél nog leerlinge in die Bybel onderrig!


WAAR LAAT DIT DIE KERK?

Die Bybel is nie nét die fondament van die Kerk nie, maar dit is ook die morele kompas van kerk en samelewing. As die Bybel die morele kompas van die Kerk is, is Jesus Christus die Ware Noord van die Kerk.
Die Skrif sê: (hou) “die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:1). Maar as die Bybel se Waarheid, betroubaarheid en gesag deur sommige geleerdes in die kerk bevraagteken word, verloor die Kerk die ‘ware noord’ uit die oog. Dan word die versoening in Jesus verduister en sien ’n mens die soort ont­stellende dwaling waarna hierbo verwys is. Dan verbeur die kerk die outoriteit om vir die samelewing morele koers aan te dui. Die Kerk se profetiese stem het té stil geword. Dáárom sien ons die morele verval van ons dag. Die agteruitgang in sommige kerke hou verband met die liberalisering van die teologie, soos wat in Europa ook gebeur het. Die Kerk se outoriteit is in direkte verhouding tot sy verbondenheid aan die Skrif, en sy verlies aan lidmate en invloed in die samelewing is ’n direkte konsekwensie van sy verlies aan vertroue in die Woord. Dit is nié die roeping van die Kerk om lidmate se vertroue in die Skrif te ondermyn nie. Ons hoef nie die Duiwel se bose werk vir hom te doen nie; “het God regtig gesê?” mag nóóit deel wees van die kerk se missie nie.


WAT IS DIE OPLOSSING?

Genadiglik is daar baie mense in Suid-­Afrika wat volhard in hulle geloof. En dit is opvallend hoeveel ‘gewone’ mense God gebruik om die krag van die Evangelie ’n werklikheid in duisende se lewens te maak. Die uitdaging vir ons almal is om mense te help om die Woord van God te herontdek. Die Woord moet die rigsnoer vir kerk en samelewing wees, want daarin is die volmaakte beginsels van God vir Sy kerk en Sy wêreld vervat. Daar is níks op aarde wat daarmee kan vergelyk nie. Ons sal wys wees om kennis te neem van wat die Here by monde van koning Hiskia vir die geestelike leiers van sy dag gesê het: “Luister na my, Leviete! Reinig julle en reinig die huis van die Here, die God van julle voorvaders. Vat die vuilgoed uit die hei­ligdom uit.” 2 Kron. 20:5.


GOD IS DIE ENIGSTE BRON

God is die Skepper en onderhouer van die ganse skepping. Hy het die natuurwette én die wette vir die menslike samele­wing in plek gestel. Dis ondenkbaar dat die menslike samelewing na behore kan funksioneer sonder Sy Woord. Hy is die Bron van die lewe. Aan Hom behoort die lof en die eer en die heerlikheid, tot in alle ewigheid. 

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication