Vertrou jou lewe aan die Here toe. Vertrou Hom en Hy sal vir jou sorg.

Ps 37: 5.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View May 2009 Issue >>
 

Wenners in Christus: Danie & Daleen Botha

 

Is Danie en Daleen Botha nog steeds wenners?

JUIG! het met die twee aan-die-brand-kinders van die Here gesels om uit te vind hoe hulle deesdae die lewe ervaar.

 

 Danie Botha is al as graad-een-pikkie op laerskool deur ‘n onderwyseres raakgesien, want sang en musiek was toe al reeds sy hartsbegeerte. Geen wonder dat hy, hoewel hy as leier op veral die sportveld uitgeblink het, hoofrolle in operettes vertolk het nie. Sang was mos sy eerste liefde!

 

Na sy universiteitsdae (PU vir CHO) werk hy by SANLAM en oornag het sy sangloopbaan vlerke gekry. Danie het nog nooit weer teruggekyk nie.

 

In 1993 het Jer 33:3 – “Vra My, en Ek sal jou antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel. Dit is nog vir jou ‘n geheim, en jy weet niks daarvan nie.” – die antwoord op sy soeke na sin in die lewe geword. Sedertdien spits hy hom in sy sangloopbaan daarop toe om die Evangelie van Jesus uit te dra en Hom te verheerlik. Sy musiek dra dus die boodskap oor die Gewer van hoop en lewenslus oor.

 

Hy is in 1991 met Daleen getroud en hul dogtertjie Danya is in 2004 gebore.

1.   Danie, waarmee hou jy jou deesdae doenig? Is daar ‘n nuwe CD in die vooruitsig?
Op hierdie stadium verdiep ek my in die Skrif. Ek wil regtig my kennis versterk omdat die aanslag teen die Kerk en God se Woord geweldig is. Die leuen het deesdae die waarheid geword en die Waarheid van die Skrif word deur die wêreld as die groot leuen gesien. Ek staan soms heeltemal verstom as ek sien wie dit is wat hierdie groot leuen van Satan onderskryf. As ons mense nie wakker is en die Woord van God ken nie, sal ons nie die vyand en sy strategieë herken nie – ons sal soos die vyf dwase maagde met ons lampies sonder olie betrap word.
Op musiekgebied is my nuwe dubbel-CD in Desember 2008 vrygestel en ek het ook ‘n DVD die lig laat sien. Ek beplan nie nog iets op dié gebied vir hierdie jaar nie.
 

2.   Daleen, jy is nie net vrou en ma nie, jy is ook Danie se bestuurder. Hoe hanteer jy dit en wat bring balans in jou lewe?
As ek baie eerlik moet wees: dit is vir my baie moeilik. Soms voel ek heeltemal oorweldig deur alles wat gedoen moet word, maar ek weet dat dit is wat ek moet doen. Die Here het lankal terug vir my gewys dat ek Danie se Aäron moet wees. Aäron en Hur moes Moses se hande in die lug hou tydens die geveg teen die Amalekiete. Sodra Moses se arms gesak het, het Israel die stryd teen hul vyande verloor. (Eks 17:8-15). Net so moet ek Danie se hulp en steun wees in alles wat hy doen. Dit beteken noodwendig dat ek moet saamtoer en dat ons ‘n baie besige lewe het. Maar omdat ek gehoorsaam aan Hom was, het die Here se seën nie uitgebly nie. Die enigste manier waarop ek egter balans in hierdie besige lewe kry, is deur elke oggend , baie vroeg, stil te word saam met die Here. Dan kry ek my krag, of bemoediging, of wat ek ookal op die spesifieke dag nodig het – aan Sy voete.  As ek die dag nié so begin nie, kan ek maar weet dinge loop nie daardie dag vir my soos wat dit behoort nie.
 

3.   Daleen, as vrou, wat is vir jou die grootste uitdaging in jul huwelik en hoe oorkom jy dit?
Ons is vanjaar 18 jaar getroud en vir my was die moeilikste om ons twee se wêrelde te versoen.  Dit het noodwendig opofferings gevra – ek moes sekere dinge van my eie lewe agterlaat en alles voluit saam met hom doen. Dis moeilik omdat die pas waarteen ons leef, baie vinnig is. Ek moes baie vinnig leer om by te hou. Reg aan die begin van ons huwelik was ons soms tot 6 dae per week weg van die huis af. En vir my, wat eintlik ‘n huishen en ‘alleenmens’ is, was dit ‘n baie groot aanpassing. Ek het egter gewéét dat dit is wat die Here van my vra en dat ek binne Sy wil is.
Wat dit vir my makliker maak, is die feit dat ek en Danie 100% saamwerk. Ons werksverhouding is regtig een van harmonie. Vakansietye is dit egter ‘n ander storie, want ek is die rustige een en Danie die energieke een wat alles ‘sonder brieke’ doen. Ons het gelukkig ons strategieë uitgewerk wat verseker dat ons albei ook ons vakansietye saam kan geniet.
 

4.   Danie, ons weet almal jy het vroeg in jou lewe al hierdie treffer, Wenners, gehad. Maar wat was tot dusver vir jou die grootste uitdaging in jou lewe?
Die grootste uitdaging vir my lê daarin om presies te sê wat die Here wil hê ek moet sê; selfs al het dit dan vir my persoonlik  ernstige gevolge. Ons Here het geen kompromieë aangegaan nie – Hy het God se Wil volbring, ongeag die koste. Die Bybel waarsku ons dan ook dat ons in hierdie wêreld altyd teenstand sal hê, veral as ons die onvervalsde Woord bring. In 1 Tim 1:5 staan daar: “Die doel van my opdrag is dat al die Christene daar vervul sal wees met liefde wat uit ‘n rein hart, skoon gewete en opregte geloof kom.” Ek het ervaar as ek die Woord, sonder kompromis, maar in liefde bring, die mense dit beter aanvaar. Maar daar is nie vandag plek vir die ‘sagte Gospel’ wat deur so baie gepredik word nie. Ek bring die Woord soos wat Hy wil hê – suiwer; gefundeer op Sy Woord.
 

5.   Is daar enige Skrifgedeeltes, Bybelkarakters wat vir spesiale inspirasie sorg en waarom?
Danie: Vir my is Paulus ‘n absolute bron van inspirasie juis omdat hy so ‘n spesiale ontmoeting met die Here gehad het en omdat hy daarna soveel teenstand en vervolging ervaar het. As ek soms voel dat ek dit bietjie moeilik het of dat dit nie gaan soos wat dit behoort nie, dan dink ek altyd aan die moeilike tye wat hy beleef het juis as gevolg van sy ywer vir die Evangelie. Paulus het onder baie moeilike omstandighede nooit opgehou om die suiwer Evangelie te verkondig nie. Dit is juis dan dat die woorde van Paulus vir my weer nuwe betekenis kry:  “Alhoewel ek menslike dinge eers as wins beskou het, beskou ek hulle, in die lig van wat Christus vir my gedoen het, nou as ‘n verlies. Ja, om Christus Jesus my Here persoonlik te ken, is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ‘n verlies beskou. Ter wille van Hom het ek alles as verlies afgeskryf. Ek beskou dit as gemors sodat ek Christus as wins kan verkry en een met Hom kan wees.”  Fil 3: 7-10.
Daleen: Joh 14: 1 – 3:
“Moenie ontsteld wees nie. Hou net aan om op God te vertrou en vertrou ook ten volle op My. In die huis van My Vader is daar sommer baie kamers. As dit nie só was nie, sou Ek dit aan julle gesê het. Ek gaan soontoe om vir julle plek gereed te maak. En as Ej gegaan en vir julle plek ingerig het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is.” Dis vir my die liefdesbrief wat die Bruidegom vir Sy bruid gelos het en dit is vir my die inspirasie om aan te hou en aan te gaan; selfs al is dit hoé moeilik. Daar is iets waarna ons kan uitsien, Hy het gegaan om ons plekkie vir ons te gaan voorberei.

6.   Is daar dalk planne om julle gesin uit te brei?
Die Here is vir ons ongelooflik goed. Ons moes aanvanklik 13 jaar wag voordat Danya daar was en toe, sonder dat ons dit beplan het, kry sy haar boetie wat sy so graag wil hê, in April. Sy is baie opgewonde en sy bid gereeld vir hom en vertel hom elke dag hoe lief sy alreeds vir hom is.
 

7.   In hierdie moeilike tye waarin ons op die oomblik leef - nie net hier nie, maar wêreldwyd – watter boodskap het julle vir die JUIG!-lesers?
Danie: Hier staan ek net weer op Sy Woord. Lesers moet vashou aan die Woord wat sê: “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen.” Fil 4:6. Hy sal vir ons sorg.
Daleen: In hierdie tye kan ons maar met alles na Hom toe gaan, ons verhouding met Hom word só intiemer en ons kan daarop staan dat Hy ons gebede hoor en verhoor. Die God van die heelal het Sy oog op ons. As ons na Ps 32: 7 en 8 kyk:
“U is vir my ‘n skuilplek. U beskerm my van teëspoed. U omring my met liedere van redding. Die Here sê: Ek sal jou onderrig en die pad wys waarop jy moet gaan. Ek sal jou raad gee, my oog sal op jou wees.” Dit gee weer perspektief, die regte perspektief op enige situasie.
 

8.   Hoe moet mense te werk gaan as hulle met julle in aanraking wil kom of julle vir optredes wil bespreek?

Die beste is om maar op ons webwerf te kyk of ons te e-pos of sommer direk te kontak. Die besonderhede is soos volg:

www.daniebotha.co.za; daniebotha@yebo.co.za

of 082 557 4822.

 

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication