God is nie n mens dat Hy sal lieg nie.

Num 23:19a.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View January 2010 Issue >>
 

Kreatief, Sensitief, Proaktief – Retief! Eksklusiewe Onderhoud!

Retief Burger is ‘n aanbidder in sy wese, maar vir hom gaan dit oor soveel méér as net liedjies. Sy musiek vind aanklank by ‘n wye spektrum Afrikaners omdat dit opreg en modern is. Hy is egter nie net ‘n aanbiddingsleier nie, maar glo dat God hom geroep het om mense te lei na die hart van die Vader.

Hy het ook ‘n passie om nuwe leiers op te rig wat oor alle kerk- en generasiegrense saamwerk vir een doel: om God bekend te maak en vir Sy eer te leef!

WAAR KRY JY JOU TALENT VANDAAN?
“Watse talent? My pa het in die Kraaie-koor gesing in Wilgenhof-koshuis en ons is ook aan musiek blootgestel van kleins af. My broer en albei my susters is ook musikaal. Almal het in kore gesing; my sussie het dwarsfluit gespeel, my broer die trompet en my jonger sussie het my in st. 5 leer kitaar speel.

EK HOOR JY HET 'GEBRY' TOE JY KLEIN WAS?
Ek is die jongste van die 4 kinders en ek het dit by my broer en jongste sussie aangeleer. Hulle altwee bry nog steeds. Ek het dit in my eerste jaar na skool verleer toe Hettie Brittz as spraakterapeut my daarmee gehelp het. Dit was nogal ‘n wonderwerk, want ek het dit binne drie maande afgeleer.

WANNEER IS JY GERED?
Ek glo my ma het my op vierjarige ouderdom na die Here toe gelei, maar my finale oorgawe was 28 September 1994 op ‘n CSV-kamp in Winkelspruit. Ds. Dirkie van der Spuy het die boodskap gebring oor hoe om van jou bagasie ontslae te raak. Ek het met groot ‘issues’ gesukkel in daardie tyd en kon dit alles by die kruis gaan neerlê. Ek het werklik alles daar oorgegee.

Van daar af het ek betrokke geraak by ons skool se CSV, gehelp om aanbidding te lei en geestelik meer gegroei. Ek het ingeskakel by ‘n selgroep met die naam Sion, waar ander jong mense my help fondasies lê het. Ons gemeente (NG Suid­oos-Pretoria) se jeuggroep, onder leiding van Immanuel van Tonder, het my ook baie bygestaan.

WANNEER HET JY BESEF JY WIL VOLTYDS SING?
Dit was ‘n baie natuurlike proses. Ek het nooit hierdie ambisie gehad om ‘n voltydse musikant te word nie. Op skool het ek gehelp met lofprysing en aanbidding op verskeie plekke en na skool het ek by C-Kruis (‘n bediening deur die uitvoerende kunste) aangesluit en het daar vir die eerste keer saam met ‘n orkes gespeel.

Ons het twee albums in daardie tyd opgeneem onder die naam Anoetic en my liefde vir musiek het gegroei. My primêre passie is nog steeds leierskap en lering in die plaaslike kerk, alhoewel ek in hierdie seisoen van my lewe baie op musiek fokus.

WATTER UITDAGINGS MOET JY IN DIE BEDRYF IN DIE GESIG STAAR?
Ek dink die uitdaging is om ‘n mens se oorspronklike onskuld en afhanklikheid te behou. Dis ook maklik om te bedien vanuit roetine en nie vanuit ‘n plek van oorvloed nie. Die verhoog bly ‘n gevaarlike plek, ver­al as mens weet die Here deel Sy eer met niemand nie.

Trots en onafhanklikheid is altyd ‘n versoeking. Daarom is die uitdaging om binne gesonde verhoudings in my plaaslike gemeente en familie te bly, waar vriende méér as net ‘n verhoogpersoonlikheid ken.

HOEKOM IS LOFPRYSING EN AANBIDDING DIE GENRE WAAROP JY FOKUS?
Dis vir my regtig moeilik om te sing en mense kyk net vir my, bedoelende vermaak. Ek bly maar net ongemaklik daarmee. Ek sal eerder mense in aanbidding wil lei, sodat hulle ‘n eerstehandse ontmoeting met die Here kan hê - en nie ‘n ontmoeting met Retief nie. Die liedjies wat ek skryf, kom uit my binnekameraanbiddingstye saam met die Here en daarom val dit binne die lofprysing en aanbidding-genre.

SKRYF JY ANDER MUSIEK OOK?
Ek skryf wel, maar bitter min.

IS JY INGESKAKEL BY 'N GEMEENTE? IS DIT VIR JOU BELANGRIK?
Verseker - Every Nation in Pretoria-Oos is my huis waar ek aktief dien en betrokke is op baie meer terreine as net musiek. Ek glo kunstenaars kan nie in onafhanklikheid bedien nie. Dit is bitter gevaarlik. Kunstenaars word dikwels net vir hulle vaardigheid erken en daar word baie maal min na hulle karakter gekyk. ‘n Plaaslike gemeente wat ‘n kunstenaar reg hanteer (ek weet ook baie kunstenaars word verkeerd in gemeentes hanteer), sal in liefde meer waarde aan die persoon sélf heg as aan sy vaardigheid. As ‘n kunstenaar nie werklik geken word in ‘n geestelike familie nie, kan hy maklik agter sy gawe wegkruip en onverantwoordbaar leef.

VERKLAAR JOU FILOSOFIE RONDOM 'BLESSENG' VS 'BUILDING'?
My gawe, of dit nou my musiek, aanbiddingsleiding of prediking is, is primêr nie méér as ‘n tydelike seëning nie. Dit wentel gewoonlik rondom ‘n gebeurtenis of ‘n eenmalige optrede. Daar is geen manier hoe ek langtermyn impak kan maak nie. Alhoewel ek glo die Here gebruik dit ook om groot werk in mense se lewens te doen, wil ek nie ál my tyd en energie daarin sit nie. Daarom glo ek dat ek plaaslik moet bou. Daarmee bedoel ek dat ek doelbewus ‘n handjie vol mans dissipel en help groei na volwassenheid in Christus.

Dit doen ek binne die konteks van my plaaslike gemeente waar ek langtermyn bou om kerkplanters en leiers op te rig. Daardeur stort ek iets van myself in iemand in wat ook weer iemand anders op sy beurt kan dissipel. Om saam met ‘n plaaslike gemeente só doelbewus vanuit dissipelskap te bou, is vir my die naaste aan Jesus se opdrag in Matt 28.

AS JY VOOR 'N GEMEENTE STAAN EN AANBIDDING LEI, WAT VISUALISEER JY?
Wanneer ek aanbidding lei, is my primêre fokus om die mense in aanbidding te lei en nié om my eie persoonlike tyd van aanbidding te hê nie. Partymaal is dit moeiliker as ander kere, afhangende van die gehoor se persoonlike verhouding met Jesus en die kerk se aanbiddingskultuur.

Party mense moet net meer begelei word om te verstaan waaroor dit gaan en in daardie gevalle fokus ek meer om hulle te help. Alhoewel ek werklik sing wat ek glo en uit my hart aanbid, is dit nie asof ek altyd hierdie groot openbarings en visioene sien nie. Tog moet ek byvoeg dat die Here my gereeld verras wanneer ek net ‘n spesiale oomblik met Hom het. Maar somtyds is dit ‘n keuse en ‘n daad van gehoorsaamheid omdat ek glo die Here is waardig om aanbid te word, ongeag my gevoelens en omstandighede.

WAT OMTRENT MUSIEK MAAK JOU SO OPGEWONDE WANNEER JY MET JOU TALENTE EINTLIK ENIGIETS KAN DOEN WAT JY WIL?
Musiek gaan reguit na ‘n mens se hart toe en op een of ander onverstaanbare manier verander dit mense se lewens radikaal en help dit hulle om met die Here kontak te maak.

Ek geniet ook wat ek doen verskriklik baie en omdat musiek deel is van my wese, kan ek nie ophou sing nie. Ek hou ook van lering en een van die beste maniere om Bybelse waarhede vas te maak, is deur mu­siek. Ons onthou ‘n liedjie baie makliker as ‘n preek.

WAT IS JOU TOEKOMSPLANNE?
Wat presies in die toekoms gaan gebeur, is onduidelik, maar ek wil met elke tree die Here vertrou en Hom gehoorsaam. Musiek is ‘n groot deel van my lewe, maar leierskap en lering binne ‘n plaaslike gemeente bly my passie. Daarom gaan ek minder toer en fokus om te bou binne ‘n plaaslike konteks. Om doelgerig dissipels op te rig en verlore mense te bereik, bly my eerste roeping. Ek sal bly liedjies skryf, solank die Here my inspireer en dit salf. Ek wil net nóóit CD’s opneem net omdat daar ‘n mark daarvoor is en dit van my verwag word nie. As die Here my nie soontoe lei nie, dan wil ek dit nie vanuit die vlees doen nie. Ek is opgewonde oor die toekoms, en sien uit na wat die Here wil doen.

HET JY IETS OP DIE HART AANGAANDE AANBIDDING IN DIE KERK SPESIFIEK?
Ek dink dit is ‘n opwindende tyd in ons land se geskiedenis, omdat daar ‘n groot ople­wing in kerke is t.o.v. lof en aanbidding. Nuwe liedjies word orals geskryf en die vloei van kreatiwiteit hou net nie op nie. Jy stap by enige Christelike winkel in en daar is ‘n magdom lof- en aanbidding-cd’s om van te kies. Maar daar is ‘n baie groot gevaar wat ook daarin opgesluit is.

Die gevaar van ‘worship con­­su­me­rism’ en die fokus op die kunstenaar as glanspersoonlikheid is alreeds ‘n realiteit. Om tussen ware aanbidding en geldmaakfoefies te onderskei, raak al hoe moeiliker. Ek dink dit is hier waar gesonde teo­logie, karakterbou binne ‘n gees­telike familie, aanspreeklikheid en motiewe wat getoets word, so belangrik is. Elke kunstenaar en platemaatskappy moet eerlike vrae vir hulleself beantwoord: soos hoekom ons doen wat ons doen. Die Here ondersoek die motiewe van ons harte en laat nie met Hom speel nie. Ek word gereeld in myself hiermee gekonfronteer en het ‘n paar betroubare geestelike leiers wat my gereeld hierdie moeilike vrae vra. Hierdie vraag is vir my eintlik so gevaarlik, want ek weet die Here gaan ons eendag aanspreeklik hou hieroor.

VERLANGE NA SY KOMS
Mag ons in alle egtheid die hart van die Here bly soek, woordgefundeerde liedjies skryf vanuit ons verhouding met die Here en eenvoud en egtheid najaag in die be­dryf. Ander positiewe aspekte is die FLAM webtuiste wat bladmusiek en nuwe liedjies so vrylik aan gemeentes beskikbaar stel. Dit gee ook plattelandse gemeentes geleent­hede om nuwe musiek in hulle dienste te akkomodeer. Ek glo die talent onder ons jeug is fenomenaal met nuwe baanbrekers wat die rigting aandui vir die pad vorentoe.

Ek glo in die toekoms gaan al hoe meer liedjies geskryf word wat ons gaan aanmoedig om na verlore mense uit te reik, armes te help en ook om na die natuur om te sien. Die mandaat van die Kerk ‘om uit te gaan’ sal al hoe meer in nuutgeskrewe lirieke na vore kom. Ek glo ook dat die openbaring van Christus en die verlange na Sy koms in ons musiek gaan reflekteer. Kruiskulturele albums wat kerkeenheid en versoening verteenwoordig, gaan ook al hoe meer in albums verskyn.”

AANBIDDING IN GEES EN WAARHEID

Retief se nuutste album, ‘Oorgegee’, is onlangs vrygestel. Die opname is deur derduisende aanbidders bygewoon en was uitsonderlik, aangesien baie mense van regoor die land die akoestiese weergawes van die liedere voor die tyd van die internet kon aftrek en aangeleer het.

Gevolglik kon almal die Here die dag van die opname in Gees en Waarheid aanbid, en dít sien jy so duidelik op die DVD. Die nuwe liedere neem elke individu saam op ‘n persoonlike reis van oorgee aan die Een wat waardig is om al ons lof te ontvang. Die boodskap van ‘Oorgawe’ is een wat mens nou wêreldwyd op albums raakhoor en met musiek soos dié, is dit een wat jy saam, uit jou hart kan bedoel.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication