Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in Sy Naam die lewe kan he.

Joh. 20:31.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View March 2010 Issue >>
 

Afrikaans Word Bedreig

Afrikaans word deesdae hewig aangeval. Van die politieke arena tot universiteite en selfs die kerk het tot die stryd toegetree. Dit wil voorkom asof ons multi-kulturele gemeenskap Afrikaans nie meer wil aanvaar nie.

TAAL OPENLIK AANGEVAL
In Februarie hierdie jaar het die Jong Kommunisteliga in Christiana, Noord-Wes, in ‘n memorandum (*22 Februarie 2010) geëis dat hierdie ‘wrede taal’ uit alle skole geban moet word (Noord-Wes is ‘n hoofsaaklik Afri­kaanse gebied).

Hoërskool Ermelo moes hul saak om as Afrikaanse hoërskool voort te bestaan in die Hooggeregshof verdedig (*Oktober 2009). In Stellenbosch vind tans ‘n hoogs omstrede taaldebat plaas aangesien daar vanuit vele geledere oproepe gedoen word om met Afrikaans as onderrigmedium weg te doen. As gevolg van die aandag wat die saak in koerante geniet, is dit ook duidelik dat godsdiensonderrig in skole deesdae as ongrondwetlik beskou word.

Dit is hartseer om te sien dat die negatiwiteit teenoor Afrikaans nie net deur ander taalgroepe is nie, maar selfs ook vanuit ons eie geledere. Ten einde polities korrek te wees, doen baie Afrikanerleiers afstand van hul Afrikaanse erfenis.

AFRIKANER-ERFENIS DEESDAE ONAANVAARBAAR
Selfs al het die Afrikaner grootliks tot die vestiging van ons gemeenskap bygedra en vir baie waardevolle vooruitgang (ook op Christelike gebied) gesorg, is die geskiedenis van etlike gruwels en vergrype wat onder die vorige regering plaasgevind het daarvoor verantwoordelik dat baie Afri­kaners, veral die jeug, hulself van hul erfenis distansieer.

Baie mense het Christenskap ( in teenstelling met kerk of geloof) aangeval en afgeskryf a.g.v. die sterk houvas wat die NG Kerk (as ‘n geheel) onder die vorige regering gehad het. Daardeur het hulle afvallig geword aan die Woord van God, die Bybel, as die Waarheid. Ons weet dat God baie verskillende tale en volke geskep het en dat die Afrikaner ‘n baie besliste plek in Sy hart en Koninkryk het.

BYBELSE PERSPEKTIEF

Wat is egter die Bybelse perspektief oor taal en kultuur in ‘n Christen se lewe? Het taal en kultuur enigsins nog plek in die lewe van ‘n Christen? Is ons nie almal gelyk voor God nie?

Paulus sê in 1 Kor 5:17 die volgende: “Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!” Sou dit beteken dat daar afstand gedoen moet word van alles wat eie is aan die Afrikaner?

KULTUUR BLY IN DIE SLAG

Die definisie van ‘kultuur’in die HAT (*Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) lui soos volg: “Die ganse geestelike besitting van ‘n volk of groep op elke lewensterrein; die geesteslewe; die beskawingstoestand van ‘n groep.” Die kultuur van enige volksgroep sluit dus beide godsdiens en taal in, maar dit strek ook wyer – dit is die dinge wat oorbly nadat jy vergeet het wat jy opsetlik geleer het.

Met ander woorde, dit is die waardes wat inherent deel is van ‘n individu of groep. Deur enige van die komponente wat die basiese bestanddele van ‘kultuur’ vorm, af te breek, of waardeloos te maak, word jou identiteit, dit wie jy is, van jou geroof. Ons Afrikaners is juis só gevorm en deel van Afrika gemaak omdat God met ons ‘n baie besondere plan gehad het.

MODERNE JEUG SE GODSDIENSBELEWING

Die geloofsekerhede van die verlede bestaan nie meer nie en word sterk be­vraagteken. Baie jongmense besluit reeds op hoërskool dat hulle niks meer met die tradisionele kerk te doen wil hê nie – die lewenstyl van ‘jy mag nie’ vind hulle in die tydsgewrig waar alles aanvaarbaar is, te benouend. Hulle is doodgelukkig om sonder God en Sy Gebod voort te leef. Ander jongmense weer, wat in die tradisionele Afrikaanse kerke opgegroei het, besluit om op ‘n stadium in hul jongmenslewe by ‘n charismatiese groep (dikwels in Engels) te aanbid.

Van die redes wat aangevoer word waarom hulle aanvanklik dié kerke ver­kies het, wissel van ‘lekkerder musiek’ tot ‘gemakliker kleredrag’ tot ‘nie so styf en formeel nie.’ Híér word baie van hulle radikaal aange­raak, word weergebore en is dan aan die brand vir die Here en Sy werk. In die pro­ses word hul kultuur op die agtergrond geskuif, sommiges ontken dit selfs, en daar word slegs gefokus op die verkondiging en uitlewing van die Goeie Nuus.

TAALVERMENGING IS AAN DIE ORDE VAN DIE DAG
Die taal wat deesdae deur jongmense, en al hoe meer ook deur volwassenes, selfs op professionele vlak, gebruik word, is ligjare verwyder van ‘suiwer’ Afrikaans.

Stap op enige Afrikaanse skoolgrond of universiteitskampus rond en dit kom voor asof jongmense ‘n taal van hul eie het waardeur hul kommunikeer. Deurspek met Engelse en kruwoorde, wat enkele jare gelede geheel en al taboe was in enige situasie, spoel dit gemaklik oor jonges se lippe. Selfs ouers val hierby in en dikwels word hierdie ‘lingo’ verdedig. Die redes wat daarvoor aangevoer word, is legio. Dit wissel van dat dit vir hulle net belangrik is om mekaar te kan verstaan, dat dit vir hulle deesdae heeltemal te formeel is om hul taal suiwer in te span.

Dat dit die taal is wat almal in elk geval gebruik tot dat die woorde in Afrikaans tog so outyds is. Die geweldige groot rol van tegnologie en die media kan beslis ook nie misgekyk word nie.

WIE KAN VERANTWOORDELIK GEHOU WORD?

Wie is dit dan wat verantwoordelik is vir die afbreek van ons waardes, wat ons van ons identiteit – ook ons identiteit in Christus – beroof? Wie is dit wat so ‘n ontsaglike invloed op die Afrikaner en sy mens­wees het dat ons ons ontsag vir God en Sy verordeninge, asook dit wat hy geskep het as inherent deel van wie ons is, verloor het?

Die gevolg van hierdie ‘geestelike en kultuurarmoede’ is ‘n identiteitlose groep wat deur elke wind van verandering rond­ge­swiep kan word. In die volgende uitgawe van JUIG! gaan ons spesifiek kyk na die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis en hoe dit by die Bybelse beginsel van Christenskap inskakel – ons voel dit is geweldig belangrik dat ons lesers getrou bly aan hul Godgegewe identiteit en nie swig voor politieke of mediadruk nie.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication