Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?

1 Korintiers 4:7

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View July 2010 Issue >>
 

Die Hart van die Evangelie

Wat is fout met ons wêreld? Ons almal word op ‘n daaglikse basis gekonfronteer deur die werklikheid van ‘n wêreld wat in opstand is teen sy Skepper. Die ontheiliging van die Sondag, die toename van pornografie, geweld en misdaad, die morele verval, die wettiging van aborsie, gesinsverbrokkeling en die absolute ontploffing van kindermishandeling herinner ons baie duidelik daaraan dat ons in ‘n sondige wêreld wat God vergeet het, leef. Wat is fout met ons wêreld? Sonde! Die mens rebelleer teen God.

WAT IS FOUT MET DIE KERK?
Ons wonder net so dikwels wat verkeerd is met die Kerk. Hoekom is die Kerk deesdae so oneffektief? Hoe kan dit wees dat so baie Christene in so baie kerke so min effek op die morele klimaat van die gemeenskap het? Kan ons eerlikwaar sê, dat ons bid en teen die bose optree as boosheid sienderwys toeneem? “Julle is die sout wat die aarde ‘n beter plek moet maak. Julle is die lig wat die wêreld moet verlig.” Matt 5:13-14. Is ons as Christene nog effektief in hierdie wêreld? Gedurende my reise regoor die wêreld en ook tydens my bediening in 27 lande, het ek die voorreg gehad om te kon sien dat daar wel kerke is wat funksioneer soos wat God dit bedoel het – in Herlewing. Gesien vanuit die perspektief van die vervolgde kerke en ook in die lig van die Herlewings, is dit baie duidelik wat met die gemiddelde kerk in die Weste fout is.
Ons kerke het nie meer ontsag vir God nie – daardie heilige vrees vir en absolute aanbidding van God het verlore gegaan. Die meeste gemeentes gaan mank aan ware geestelike leierskap en pas nooit die ware Bybelse tug toe nie. Baie kerkgangers voel soos Christene, maar dink inderwaarheid soos humaniste. Hulle glo dat hulle Christenharte het, maar dit is baie duidelik dat die meeste eintlik humanistiese harte het. Hulle lees veel eerder die daaglikse koe­rante as die Bybel en televisie-kyk is baie aangenamer as om Christus te aanbid.

‘LOU’ REDDINGSBOOT

Die boodskap aan die kerk van Laodicea geld eintlik ook vir die meeste hedendaagse kerkgangers: “Ek ken jou handel en jou wandel. Ek weet dat jy nie koud of warm is nie. Ek sou wat wou gee as jy maar net koud of warm was. Omdat jy só louwarm is, nie warm nie en ook nie koud nie, is Ek op die punt om jou uit my mond te spoeg... jy besef nie dat jy ellendig en bejammerenswaardig is nie, armlastig, blind en nakend... kry lewe en kom tot inkeer!” Open 3:15-19.

Die Kerk is soos ‘n reddingsboot. ‘n Reddingsboot behoort in die see te wees, besig om die drenkelinge te red – maar die see moenie in die bóót wees nie, dan is die boot in die moeilikheid en gaan dit verseker ondergaan. Dit is presies dieselfde met die Kerk. Die Kerk behoort die noodleidendes in die wêreld te red – maar die wêreld moenie in die Kerk neerslag vind nie!

DIE TRAGEDIE VAN DIE MODERNE KERK

Die groot tragedie van moderne kerke is dat hulle so gretig is om onbekeerdes toe te laat, dat hulle hul standaarde noodwendig verlaag – en die kerk word deur die wêreld oorstroom. Dit word al hoe moeiliker om die wesenlike meningsverskille, verskille in morele standaarde en selfs die gedrag van Christene van dié van die wêreld te onderskei.

Die kerkgroeistatistieke, asook die groot getalle wat tydens massaveldtogte vorentoe kom, is indrukwekkend. En tog, diegene wat met mense in die kerkbanke en in die straat te doene kry, is erg bekommerd. Dit wil voorkom asof die kerk bloot net in getalle groei. Dit kom voor asof die gehalte van mense se geesteslewe, hul vroomheid en die algemene morele standaarde vinnig besig is om te kwyn – vinniger as wat die kerk in getalle kan groei.

Dit is amper asof die verskillende kerke soos groot snymasjiene is wat die oes wil insamel, maar nie oor die nodige snylemme beskik nie: indrukwekkende masjinerie, oorverdowende gebrul van die masjiene, baie aktiwiteite – en tog uiters oneffektief as dit kom by die oesinsameling. Indien die Evangelie die snylem van die kerk is, ­be­hoort ons te vra: wat het die verkondiging van die Evangelie uitgedoof?

WAT IS VERKEERD MET DIE EVANGELIE WAT GEPREEK WORD?
Dit is baie moeilik om deesdae nié tot die gevolgtrekking te kom dat die gemiddelde boodskap wat van so baie preekstoele, en ook op TV en oor die radio, verkondig word, mens-gesentreerd, emosie-gebaseerd, vlak en flou is nie. Die ‘glo-net-boodskap’ is goedkoop!

Judas het Jesus vir 30 silwerstukke verraai – maar ons gee Hom grátis weg. Hierdie ‘bid net hierdie gebed’-boodskap is op­per­vlakkig en het vlak bekeerlinge tot gevolg. Hierdie ‘maklike geloof’ is kunsmatig. Dit is soos witbrood. Dit is so verfyn dat al die natuurlike waarde daarmee heen is en kunsmatige bestanddele is bygevoeg.

DIE VERLORE DELE VAN DIE EVANGELIE
‘n Mens hoor baie selde deesdae van die kansels af dat God se aard aan mense geleer, verduidelik en vertolk word. Om maar net bloot te aanvaar dat ons toehoorders die majesteit, Heiligheid en Glorie van ons almagtige, alwetende, oneindige en ewige Skepper verstaan en kan waardeer is, om die minste daarvan te sê, aanmatigend. “Wysheid begin daar waar daar ontsag vir die Here is.” Spr 9:10.

Hand 10:35 sê ook: “In enige volk neem Hy dié mense aan wat vir Hom ontsag het en doen wat reg is.” En tog, hoe dikwels hoor ons regtig hierdie waarhede van die kansels af? “Die Here se voorskrifte is volkome, dit gee nuwe lewenskrag.” Ps 19:7. “Hoe beter ons die wet van God leer ken, hoe duideliker blyk die werklikheid van ons sonde.” Rom 3:20. En tog, hoe dikwels verklaar ons die Wet van God?

Martin Luther het verklaar: “Die eerste plig van ‘n Evangelieprediker is om God se Wet te verklaar en die aard van sonde uit te wys.” John Bunyan het gesê: “Die persoon wat nie die Wet ken nie, kán sonde nie ken nie.” John Wesley was van mening dat evangeliste 90% Wet en 10% Genade behoort te verkondig. Charles Finney het geskryf: “Deur te faal om die Wet van God te gebruik, sal feitlik verseker op vals hoop en die inleiding tot vals standaarde in die Christelike lewenswandel uitloop en die kerk sal gevul word met vals bekeerlinge.” Charles Spurgeon het ook verklaar: “Hulle sal genade nooit aanvaar totdat hulle sidder voor ‘n regverdige en Heilige Wet nie.” Ons Here Jesus het die volgende geleer:
“Julle moenie die rede vir My koms misverstaan nie. Ek het nie gekom om ‘n streep deur die wet of die profete te trek nie. Nee, Ek het gekom om die ware bedoeling van God se wet te laat uitkom. Ek verseker julle, al sou die hemel en aarde ophou bestaan, sal die wet definitief tot in sy fynste detail geldig bly... totdat die bedoeling daarmee bereik is.

As jy dus die kleinste van God se opdragte opsy sou skuif en ander leer om dit ook te doen, sal jy die kleinste wees in God se Koninkryk. Maar as jy God se wet tot in sy kleinste detail respekteer en gehoorsaam, sal jy groot wees in Sy Koninkryk.” Matt 5:17-19.

FOKUS MOET VERSKUIF WORD
Op dieselfde manier kry die toorn van God, die dogma van ewige oordeel en die werklikheid van die Hel in moderne preke deesdae bittermin aandag. “Hulle wou nie doen soos Hy vereis het nie. Hulle wou nie na Sy Woord luister nie. Daarom het Hy Sy gloei­ende woede teen hulle laat ontvlam deur die geweld van oorlog.” Jes 42:24-25.

“Maar Ek sal julle sê wie om te vrees: Julle moet ontsag hê vir God wat die mag het om mense dood te maak en hulle daarna in die hel te gooi.” Luk 12:5. “Wie glo in die Seun, besit nou reeds die Ewige Lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie ervaar nie, maar die oordeel van God rus op hom.” Joh 3:36. “Van Sy Hemelse woonplek af maak God Sy straf bekend oor die mense wat goddeloosheid en ongeregtigheid bedryf en so die waarheid onderdruk.” Rom 1:18. Selfs die hart van die Evangelie – die Verlossing deur die Bloed van Christus op grond van Sy boetedoening aan die Kruis, kry deesdae maar bittermin aandag van Evangeliepredikers. “Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis van sonde plaas nie.” Heb 9:22. “Want God het Hom gestuur as ‘n offer wat deur Sy sterwe versoening bewerk het vir almal wat glo.” Rom 3:25. Die Woord ver­klaar ook dat “As ons optrede egter van die lig getuig, leef ons soos Hy wat in die lig is en het ons volledig deel aan mekaar, en die bloed van Jesus, Sy Seun, maak ons skoon van alle sonde.” 1 Joh 1:7.

En tog, hoe dikwels word hierdie boodskap verkondig? Nog iets wat deesdae nie dikwels gehoor word nie, is die hele verkondiging, die volledige Bybelse boodskap van sondebelydenis. Ek het ‘n baie bekende evangelis die volgende hoor sê: “Belydenis is bloot om ‘jammer’ te sê!” Die Bybel, egter, be­klemtoon drie aspekte van sondebelydenis:
Sonde-oortuiging - ‘n verandering van sienswyse oor sonde
Sondeberou - ‘n hartsverandering
Ommekeer - ‘n lewensverandering
“Die goddelose mens moet sy verkeerde dinge los, en die bose mens sy slegte gedagtes. Hy moet terugdraai na die Here en Hy sal hom genadig wees...” Jes 55:7.

Dit is nie maar net genoeg om jou sonde te bely nie, dit moet deur ‘n doelbewuste wilsbesluit afgelê word – die daad(dade) moet verafsku word en dit moenie weer gedoen word nie! Sondebelydenis vereis gewoonteveranderings en ‘n oortuigingsverandering wat uitloop op gedragsverandering.

ONBYBELSE BYVOEGINGS TOT DIE EVANGELIE
I.p.v. die Bybelse boodskap oor die Heiligheid van God, die sondigheid van die mens, die Wet van God, Sy oordeel en straf, die absolute noodsaaklikheid van sondebelydenis en die geloof in die boetedoe­ning van Christus aan die Kruis, word ‘n hele reeks on-Bybelse versinsels verkondig. En net mooi nêrens in die Bybel sal daar enige voorbeeld gevind word van ‘n evangelis, apostel of dissipel wat enige van die volgende gewilde frases of tegnieke gebruik nie: “God het jou lief en het ‘n wonderlike plan met jou lewe.”

FLOU WOORDGEBRUIK

Die Bybel maak dit egter duidelik dat God toornig is teenoor die wat weier om Hom gehoorsaam te wees en dat ‘n ewigheid in die hel deel van Sy plan is vir diegene wat weier om hul sondes te bely. “Aanvaar Jesus as jou persoonlike Verlosser.” ‘Aanvaar’ is hier die swakste woord denkbaar en dit word nooit in enige evangelistiese konteks gebruik nie. Waarom nie die kragtige Bybelse woorde gebruik nie? “God het wel mense se vroeë onkunde oorgesien, maar nou beveel Hy alle mense om hulle afgode te los en hulle tot Hom te bekeer.” Hand 17:30.

‘n Oproep om jou aan Jesus te onderwerp, of om jou lewe aan Hom as Heer en Redder oor te gee, is meer Bybels as die flou uitnodiging ‘aanvaar Jesus’. “Net jy kan die deur van jou hart oopmaak. Jesus staan by die deur en Hy klop. Hy is ‘n ware heer en sal net inkom as Hy ingenooi word. Die handvatsel is aan die binnekant, net jy kan Hom inlaat.”

SOEWEREINITEIT GEÏGNOREER

Hierdie verbeeldingryke, emosionele pleidooi ignoreer God se Soewereiniteit geheel en al. In die geval van Saulus se bekering op pad na Damaskus wil dit voorkom asof die Here die deur na sy hart oopgeskop het sonder om te wag op Saulus se ‘toestemming’ (Hand 9).

Ons vind nêrens in die Bybel ‘n enkele geval van ‘n evangelis of dissipel wat sulke beeldspraak gebruik om ‘n bekering te beskryf nie. Al die Evangelies, asook Handelinge, daag ons uit om na Hom te kom en toegang tot Sy Huis te kry. Nou word van ons verwag om te glo dat die situasie só ver­ander het dat Christus na ons toe kom en ons vra om Hom in te laat!

FOUTIEWE INTERPRETASIE

Hierdie idee kon moontlik uit die interpretasie van Openb 3:20 ontstaan het. Daardie vers is egter deel van God se brief aan Sy Kerk in Laodicea. Dit is nie naastenby ‘n evangelistiese boodskap nie; dit is ‘n baie ernstige teregwysing aan ‘n louwarm kerk: “Ek ken jou handel en jou wandel. Ek weet dat jy nie koud of warm is nie. Ek sou wat wou gee as jy maar net koud of warm was. Omdat jy só louwarm is, nie warm nie en ook nie koud nie, is Ek op die punt om jou uit My mond te spoeg... Ek berispe en straf almal wat Ek liefhet. Kry lewe en kom tot inkeer! Kyk Ek staan by die deur en Ek klop...” Openb 3:20. Dit is so hartseer dat ‘n deel van hierdie brief, wat geskryf is aan ‘n kerk om hulle te waarsku teen halfhartigheid, ‘n wêreldse gesindheid en kompromieë t.o.v. hul geloof, só misbruik is - dat die gevolg louwarm , semi-bekeerde kerkgangers is.

Indien die hele konteks van hierdie Skrifgedeelte maar so dikwels as hierdie spesifieke vers gebruik sou word, het dinge vandag dalk heel anders gelyk. Of het selfs sterk woorde soos die Bybelse ‘bestraf’, ‘dissiplineer’, ‘dodelike erns’ en ‘bely’ deesdae in die kerk onaanvaarbaar geword? Terselfdertyd is flou frases soos ‘glo net’ en ‘bid net hierdie gebed’ beslis nie Bybels nie. Ons moet beslis glo – maar dit is die ganse Bybel wat ons moet bestudeer, glo, gehoorsaam en toepas.

Ons moet bid, maar ons moet ook veel meer doen as ‘net bid’. Die Groot Opdrag van ons Here Jesus beveel ons: “Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Leer hulle om alles te gehoor­saam wat Ek aan julle opgedra het.” Matt 28:19-20. Om ‘net’ voor enige van hierdie bevele in die Skrif te plaas, veroorsaak dat al die ander vereistes minder waardevol is.

SLAGSPREUKE MISLEIDEND
Daarmee saam het ‘n klompie slagspreuke, wat skynbare Christenboodskappe moet oordra, ook die lig gesien: “Christians aren’t perfect – just forgiven.” Hoewel dit die waarheid is dat ons vergifnis ontvang het, maar nie perfek is nie, verander die woordjie ‘just’ die slagspreuk in ‘n gevaarlike, halwe waarheid.

Is ons net vergewe? Is ons nie vrygekoop en weergebore nie? En wat van heiligma­king? Indien daar nie ‘n dramatiese verandering in ons geloofsoortuigings, morele standaarde, leefwyse, gedrag en optrede is nie; dan is dit te betwyfel of ons werklik vergifnis ontvang het. Lees gerus Gal 5:19-25 in hierdie verband.

DIE EVANGELIE VOLGENS ONS HERE JESUS CHRISTUS
Die manier waarop Jesus met mense omgegaan het en hulle gered het, staan in skerp kontras met die moderne boodskap en metodes wat verkondig en gebruik word. Die ryk jongman was baie ernstig. Hy het nie bloot net sy hand gelig terwyl ander koppe gebuig en oë gesluit was nie. Hy het nie net met die kerkpaadjie afgestap na ‘n vurige oproep van die kansel af nie.

Nee, terwyl almal toegekyk het, het hy na Jesus gehardloop. I.p.v. net sy kop buig en ‘n gebed prewel, het hy op sy knieë voor Jesus neergesak en gepleit: “Goeie leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Mark 10:17. Wat was Jesus se reaksie? Het Hy gesê: “Glo net” of “Bid net hierdie gebed”? Het Hy hom vertel dat God hom só liefhet en ‘n wonderlike plan vir sy lewe het?

Nee. Jesus het hom bestraf en gesê: “Waarom noem jy My goed? Net God is werklik goed.” Mark 10:18. Ons Here het met God se wese begin, asook die mens se aard. Net God is Heilig. Alle mense is sondaars. Jy mag dalk vra waarom Jesus hom bestraf het. Jesus is tog self ook God? Ja, maar het die jongman dit besef? Het hy bloot net probeer om Jesus te vlei of het hy tog besef met Wie hy regtig gepraat het?

WET IS ‘N KINDEROPPASSER

Die volgende wat Jesus toe gedoen het - Hy het die jongman aan die Tien Gebooie herinner: “Maar wat jou vraag betref – jy ken die gebooie: Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuienis gee nie; jy mag niemand benadeel nie; respekteer jou Pa en Ma.” Baie mense mag nou wel vra wat die Gebooie met die ewige lewe te doen het. Die Bybel is baie duidelik daaromtrent: “Die Wet het ons mos soos ‘n kinderoppasser opgepas totdat Christus gekom het. Ons is opgepas sodat ons, deur te glo,God se vryspraak kon ontvang.” Gal 3:24.

Om vir mense te sê Jesus is die antwoord voordat hulle nog kon vra, is beslis nie baie behulpsaam nie. Geen onderwyser deel tog antwoordblaaie uit voordat die leer­ders eksamen skryf nie. Om aan mense wat nog nie eens besef dat hulle gered moet word nie, te verkondig dat Jesus red, is uiters oneffektief. Totdat mense besef wat die ‘slegte nuus van die hel’ is, is hulle nog nie gereed om die ‘goeie nuus van die Hemel’ te aanvaar nie.

BESEF VAN SONDIGHEID NOODSAAKLIK

Totdat ons toehoorders die ewige implikasies van die Heiligheid van God en die verdorwenheid van die mens, die Heilige Wet van God en die ewige oordeel kan waardeer, is hulle nog nie gereed om die glorieryke boodskap van die Verlossing deur die soendood van Jesus Christus te aanvaar nie.

Om dit sommer baie reguit te stel: totdat ons verstaan dat ons goddelose sondaars is, verlore en regverdiglik verdoem tot die ewige hel, is ons nog nie gereed om die boodskap van “bekering en vergifnis van sondes” (Luk 24:47) werklik te waardeer nie. Dis amper ongelooflik – die jongman ver­klaar dat hy al die gebooie wat Jesus noem, onderhou het van sy jeug af.

Daar is geen twyfel dat hy ‘n buitengewone jongman was nie – met hoë morele waardes en godsdienstig baie toegewyd, en tog het hy een baie belangrike ding kortgekom: hy was nie bewus van sy eie sondigheid nie. Die grootste fout is om nié van jou sondes bewus te wees nie. En ons Here se antwoord aan hom? “Jy kom net een ding kort, gaan verkoop alles wat jy het en gee die geld vir die armes. Dan sal jy ‘n skat in die Hemel hê. Kom dan en word My dissipel.” Mark 10:21.

BEROU NOODSAAKLIK
Sommiges mag dalk dink dat die Here baie van hom verwag het, maar inderwaarheid was dit net een enkele ding: berou. Ons Here het die eerste gebod uitgesonder - “Jy mag geen ander gode voor My aangesig hê nie”, en ook die laaste een “Jy mag nie begeer nie.” Hierdie jongman het blykbaar ‘n afgod van sy rykdom gemaak.

Sy rykdom het vir hom belangriker as gehoorsaamheid aan God geword. God weerstaan trotsaards, maar betoon Genade aan die nederiges. Die Tien Ge­booie gaan oor ons verhoudings met God, ons ouers en ander mense. Dit handel oor God, aanbidding, taal, tyd, gesag, die lewe, liefde, eiendom, waarheid en die gewete. Dit verbied politeïsme, afgodery, godslastering, ontheiliging van die Sabbat, onte­ring van ouers, moord, owerspel, diefstal, meineed en afguns.

MÉÉR AS GELOOF
Deur die Wet van God te bestudeer, is dit baie duidelik hoe ver ons as mense tekort­skiet. Die boodskap aan diegene wat hul oortredinge besef is om te bely, en dan te glo. En as sondebelydenis sonder geloof geskied, is dit nie ware belydenis nie. Die omgekeerde is natuurlik ook waar.

Toe die man hoor wat die Here verwag, was “hy heeltemal verslae en het ontsteld weggegaan, want hy het baie geld gehad.” Mark 10:22. Jesus het egter nie agter hom aangehardloop en die standaarde verlaag nie, Hy het “rondgekyk en toe vir Sy dissipels gesê: ‘Hoe moeilik is dit nie vir ryk mense om in God se Koninkryk te kom nie!’ Sy dissipels was verbaas hieroor. Jesus reageer toe en sê weer vir hulle: ‘My liewe kinders, dit is bitter moeilik om in die Koninkryk van God te kom’.” Mark 10:26-27.

IMPLIKASIE OP ONS LEWENS
Besef ons werklik wat die implikasie hiervan is? Almal is verlore en niemand kan hom- of haarself red nie! Nie eers ‘n pastoor, predi­ker, evangelis of denominasie kan iemand red nie.

Geen hoeveelheid sakramente, gebede, sang, of preke kan iemand red nie. Woordvaardigheid, emosionele tegnieke of ‘n gelaaide atmosfeer ook nie. “Menslik gesproke is dit onmoontlik, maar tog nie by God nie. Alles is by God moontlik.” Mark 10:27. Ons vind ‘n Bybelse illustrasie van bekering in Johannes 11 toe Jesus voor die grafsteen gestaan en uitgeroep het: “Lasarus, kom uit!” Lasarus was reeds vier dae lank dood. Is dit realisties om te verwag dat ‘n ontbindende liggaam moet reageer? Dit is presies wat evangelisasie is. Buite Christus is ons dood a.g.v. ons sonde en oortredings (Ef 2:1). Geloof is ‘n gawe van God (Ef 2:8) en geloof kom deur die Woord van God (Rom 10:17). “Dit is immers God se krag wat aan die werkis. Dit bring redding vir elkeen wat glo.” Rom 1:16. Net die Woord van God kan red. Waarom water ons die kragtige, lewegewende Boodskap af?

En waarom dink ons dat ons iets waardevols daartoe kan byvoeg? Jesus het voortgegaan deur te beklemtoon dat dit uiters noodsaaklik is om op te offer en te volhard tydens vervolging. Uiteindelik het Hy seën, beloning en die ewige lewe belowe aan diegene wat Sy boodskap gehoor­saam. (Mark 10:28-31).

CHRISTUS-GESENTREERDE, BYBELSE BOODSKAP

Dít is die duidelike en gebalanseerde boodskap van die Evangelie van Jesus Christus: God is ‘n Heilige God en Sy regverdige standaarde word deur sy Wet weerspieël. Die mens is sondig en moet sy sonde bely en in Christus glo. Hierdie belydenis en geloof moet sigbaar wees deur gehoorsaamheid aan Christus, ‘n gewilligheid om op te offer en vervolging te deurstaan. Aan diegene wat dit doen, beloof Hy groot seën, beloning en die ewige lewe.

I.p.v. ‘n flou, afgewaterde, mensgesen­treerde boodskap van ‘glo en ontvang’, behoort ons getrou ‘n Christus-gesentreerde, Bybelsgebaseerde boodskap van belydenis en gehoorsaamheid en leiding deur die Heilige Gees te verkondig. I.p.v. bekeerlinge, behoort ons dissipels te maak wat álles gehoorsaam wat Jesus ons beveel het. Matt 28: 19-20.

HEGPLEISTER ONVANPAS
Dít is die boodskap wat die hart van die Evangelie aanspreek. Enigiets anders is net so ontoereikend as om ‘n strokie hegpleister te plak en te verwag dat dit kanker sal genees. Indien die Evangelie van Jesus Christus getrou verkondig word, sál dit ‘n gesuiwerde, gelouterde, biddende en kragtige Kerk tot gevolg hê – ‘n Kerk wat bereid is om God te eer en Hom in álles gehoorsaam te wees.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication