Dit veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgele word nie.

2 Pet. 1:20.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View July 2010 Issue >>
 

Tieners: Waarom Doen Hulle Dit?

Feitlik elke dag skree die koerante net nog meer stories uit van wat tieners oor hulself of ander mense bring. Vir baie van ons is dit nie net abstrakte stories in die pers nie, ons ervaar die rampe in ons kinders of hulle vriende of vriende se kinders - dié vir wie ons daagliks moet onderrig. Elke keer wat ons hoor dat iemand begin het om dwelms te neem, die straatlewe verkies of anoreksies raak, vra ons onsself die vraag af: Hoekom doen hulle dit? Hoekom kritiseer hulle alles? Hoekom neem hulle dwelms? Hoekom respekteer hulle nie gesag nie? Waarom ontwikkel hulle eetsteurnisse? Hoekom is hulle so obsessief oor die regte ‘beeld’?

Hoekom leef hulle seksueel promisku? Waarom dink hulle ou mense het geen waarde nie? Waarom doen hulle nie iets nuttig nie? Hoekom? Hoekom? Hoekom?

TIENERMISTERIE
Vir baie van ons is tieners nogal ‘n misterie. Dit is asof hulle van ‘n ander planeet is. Ouers vind dit veral baie moeilik om hulle te verstaan, wat nog verantwoordelik wees vir hul aksies. Ons mag dalk net onder die versoeking swig om die raad van Mark Twain te aanvaar. Hy het aanbeveel dat, sodra ‘n seun dertien jaar oud word, hy in ‘n vaatjie verseël moet word met net ‘n enkele gaatjie vir lug. Wanneer hy dan vyftien jaar oud is, moet die gat toegestop word.

NUWE DENKE NODIG
Deur my werk met tieners oor die afgelope agtien jaar, het ek baie ouers ontmoet wat dink dat hulle as ouers gefaal het. Hulle het dikwels in trane by my aangekom met die vraag: “Wat het ek verkeerd gedoen?”

Hulle beskryf die gedrag van die seun of dogter en dan sê hulle gewoonlik: “Dit moet ons fout wees.” Daar is sekere dinge wat ouers kan doen om meer met hulle tieners te identifiseer en hulle meer effektief te help. Maar voordat ons enigsins kan begin om te besin oor hoe ons die tieners kan help, is dit nodig dat ons eers verstaan waarom so baie tieners optree soos wat hulle optree.

Ons kán nie oor sekere kwessies dink as ons nie eers verstaan wat die onderliggende oorsake is nie. Baie van die kern­oorsake van tienergedrag lê nie soseer by die huis of die ouers nie, maar eerder in die massiewe verandering wat binne die Westerse kultuur plaasgevind het oor die afgelope paar jaar.

DINGE IS NIE MEER DIESELFDE NIE

Die term ‘tiener’ is in 1942 bedink deur ‘n groep marknavorsers wat ‘n nuwe jongmenskategorie gesoek het - sodat hulle geteiken kon word deur bemarking. Se­dertdien het so baie dinge verander. As jy daardie tyd vir ‘n tienerseun sou vra wat hy die heel graagste wou hê, sou hy waarskyn­lik geantwoord het ‘n pak klere soos sy pa s’n. Vandag is dit die heel laaste ding op aarde wat hy wil hê!

Navorsing wys dat die top sewe dissiplinêre probleme in skole in 1940 was: praat in die klas, kou kougom, stap uit die ry, hardloop in die saal, maak geraas, dra verkeerde klere en gooi nie vuilgoed in die blik nie. Nou, egter, is die top sewe pro­bleme soos volg: dwelmgebruik, alkoholgebruik, swangerskap, verkragting, selfmoord, roof en aanranding. Dit lei geen twyfel dat tieners deesdae baie anders is nie. En die wêreld waarin ons leef, ook.

BESIN OOR IMPLIKASIES

Ons kultuur het grootliks verander oor die afgelope dekade - in skaal, diepte en spoed wat nog nooit vantevore in die hele beskawing gesien is nie. Tensy ons bewus is van die veranderings en die implikasies deurgedink het, sal ons nooit in staat wees om ons tieners te verstaan wat daarmee moet opgroei nie. En ons sal ook nie eers begin om ‘n antwoord te hê vir die ewigdurende vraag: Hoekom doen hulle dit? nie.

BOMBARDEMENT VAN DIE ONVERSTAANBARE
Douglas Rushkoff, die Amerikaanse joernalis en sosiale kommentator, het die volgende opgemerk: “Ons wêreld verander so vinnig dat ons skaars die verskille kan opmerk, hoeveel te meer nog dit kan hanteer. Of dit nou ‘n oproep is wat wag, MTV, digitale kontant of vae logika, ons word daagliks gebombardeer met ‘n toe­nemende aantal woorde, toestelle, idees en gebeure wat ons net nie verstaan nie. Die kultuurinstellings waarvan ons afhanklik geword het – georganiseerde godsdiens, ons leiers en helde, die mediese wêreld, korporatiewe instellings en die familie self – dit alles het nou op groot skaal begin verbrokkel onder hul eie gewig, en dit alles binne dieselfde paar dekades. Sonder om ‘n millimeter te migreer, het ons tog verder gereis as enige ander generasie in die ganse geskiedenis.”

IN ONBEVARE VAARWATERS
Ons moet besef dat ons nou in onbevare vaarwaters is. Nog nooit in die ganse beskawingsgeskiedenis het ‘n generasie in so ‘n uitgebreide verandering grootgeword soos nou nie. Gedurende die afgelope paar dekades is feitlik elke iedere grondbeginsel en –waarde op sy kop gekeer. Filosofies moes ons die skuif van mo­dernisme na post-modernisme maak; opvoedkundig moes ons van die didaktiese na die kritiese model verander.
Sosiologies het baie van ons ge­sinne geheel gedisintegreer. Sielkundig het die nuwe siening van die brein se funksie die vorige basiese konsepte van individuele identiteit vernietig. Polities het die val van kommunisme die hele wêreldkaart herskryf. Ekonomies het die hele triomf van die individuele verbruiker oor die sosialisme ons waardebepaling geheel en al verander.

KITSWÊRELD ANDERS

Op mediese gebied is dit wat vantevore totaal onmoontlik was, deesdae gewoon en alledaags. Op tegnologiese gebied word ons die kitswêreld deur die rekenaar en internet aangebied. En die lys gaan net aan en aan. Waar ons ookal in die Westerse beskawing kyk, het daar oor die afgelope paar dekades groot veranderinge plaasgevind. Is ons dan verras dat ons wat vóór hierdie veranderinge grootgeword het, dit moeilik vind om hulle wat tydens hierdie veranderinge opgroei, te verstaan?

Ons moet dan tog mos baie duidelik dronkgeslaan wees deur tienergdrag. Hulle is so anders as ons toe ons daardie ouderdom was as gevolg van die wêreld waarin hulle grootword. Hulle wêreld verskil radikaal van die wêreld van selfs tien jaar gelede. En tog is dit die wêreld wat ons almal ken. Daar is sekere aspekte van die tienerkultuur wat uniek is aan tieners, maar ‘n groot deel daarvan word gedeel met die groter samelewing waarvan ons almal deel is.

TIENERWÊRELD UITDAGEND

Ons vind dit moeilik om tieners te verstaan, omdat ons nie die wêreld verstaan waarin hulle opgroei nie – en dis die wêreld waarin ons ook leef. Dit is nie die wêreld waarin ons grootgeword het nie. Dit is beslis nie die wêreld wat ons gevorm het nie, maar dit is die wêreld waarin ons van­dag leef. Nou waarom verstaan ons dit dan nie? Die antwoord op hierdie paradoks lê moontlik opgesluit in die Chinese spreuk wat sê: “As jy wil weet hoe die water is, moenie ‘n vis vra nie.” Hoe meer ons deur dinge omring word, hoe minder is ons bewus daarvan. Ons kan só gewoond raak aan dinge om ons dat ons nie regtig meer oor hulle nadink nie. As ek in Amerika reis, sê mense dikwels vir my: “Sjoe, ek hou van jou aksent!” Dit verras my altyd, want ek dink nie juis dat ek ‘n aksent het nie. Húlle het die vreemde aksent. Ek praat normaal. Maar natuurlik het ek ‘n aksent – ek hoor dit net nie meer nie! Op dieselfde manier, alhoewel ons in hierdie wêreld leef, het ons nie insig in ons wêreld nie. In elk geval, ons is dikwels so besig om net te oorleef, dat ons nie nog tyd het om die onderliggende aard van ons kultuur te bedink nie. Maar ons moet. Ons moet bewus raak van ons filo­sofiese en sosiale aksente, want dit is slegs dan dat ons ons wêreld op ‘n dieper vlak verstaan en dat ons kan reageer op die kwessies wat ons op die oppervlak moet hanteer. Ek hoop dat, soos wat jy hier lees, jy tyd sal maak om te dink oor die wêreld waarin ons leef, ver­al die effek wat die enorme kultuurverande­ringe oor die afgelope dekades op ons tieners gehad het. Net as ons verstaan waarom tieners optree soos wat hulle optree, sal ons in staat wees om helder te kan dink oor hoe dinge anders kan wees.

VERBETERING MOONTLIK

Alhoewel ons nie as individue verantwoordelik is vir die veranderinge wat oor die afgelope paar dekades ingetree het nie, kan ons dalk sáám iets daaraan doen. As ons veranderde kultuur so ‘n vernietigende effek op ons tieners het; dan moet ons, ter wille van die komende geslagte, wéér verander – nie noodwendig terug soos wat dit was nie, maar miskien na iets beters as wat ons op die oomblik het.

OPPERVLAK MISLEIDEND
Sommige van die onderliggende konsepte in hierdie boek sal dalk ‘n rukkie neem om te begryp. Dit is nie maklik nie, maar tog so belangrik. Dit is ook makliker om net na die oppervlak van dinge te kyk, maar dit is nie altyd waar die antwoorde gevind kan word nie. Oppervlakkige antwoorde kan ons so dikwels net mislei.

REALITEIT VERSKIL
Die skrywer en kommentator, Os Guinness, vertel altyd die storie oor die veiligheidswag by die Russiese fabriek. Eendag het hy ‘n werker gestop wat met ‘n kruiwa met ‘n verdagte pak daarop by die hek uitgeloop het. Die wag het die pak oopgemaak net om te sien dat dit gevul was met ‘n klomp rommel, saagsels en gemors wat van die vloer opgevee is.

Die volgende dag het hy dieselfde werker onder dieselfde omstandighede gestop. Dit pak het weer niks waardevols bevat nie. Nadat dieselfde ding vir dae na mekaar gebeur het, het die wag eindelik vir die werker gesê: “Goed, ek gee moed op. Ek weet jy beplan iets, maar ek weet nie wat nie. Ek belowe ek gaan jou nie arresteer nie. Sê net vir my wat jy steel.” Die werker het na die wag gekyk, geglimlag en geantwoord: “Kruiwaens, my vriend.”

BESINNING BROODNODIG
Soos die wag, kan ons dalk net na die oppervlak van sake kyk en die ware antwoorde miskyk wat slegs verkry kan word as ons diep genoeg kyk en soek. Laat ons dus dieper as die oppervlak soek. Laat ons ons kultuur ondersoek en dit ontleed. Laat ons terugkyk in die geskiedenis, laat ons die onderliggende filosofieë oordink en laat ons doen wat nodig is sodat ons die vraag; “Waarom doen hulle dit?” kan beantwoord.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication