Sommige mense verwerp dele van die Bybel. Is dit nie gevaarlik nie?
Answer:
Dit is uiters gevaarlik, want dit laat ons aan die genade van mense se menings oor! Jesus het in Joh 17:17 verklaar: “U Woord is die Waarheid.” “Julle probleem is dat julle nie die Skrif ken nie. Julle besef ook nie hoe magtig God is nie.” Matt 22:29.
2 Tim 3:16 verklaar die volgende: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te leer wat waar is en om ons te laat besef wat verkeerd is in ons lewe. Dit ruk ons reg en kweek ‘n regte leefstyl.” 2 Petrus 1:21 sê verder ook: “Geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Inteendeel, dit was die Heilige Gees wat die profete God se woorde laat verkondig het.” Ons moet die Heilige Gees vertrou wanneer dit kom by die interpretasie van die Woord en Petrus waarsku dat ‘privaat interpretasie’ verdag is – kyk veral na 2 Pet 1:20.
Om die waarheid te sê, sommige goed is moeilik om te verstaan en onstabiele mense het die neiging om die Skrif tot hul eie nadeel te verdraai (2 Pet 3:16). Elke woord in die oorspronklike teks is baie versigtig deur die Heilige Gees gekies en is dus sonder enige fout. As ek eerlik moet wees: as ek moet kies tussen die menings van mense en die geïnspireerde Woord van God; dan is dit vir my nie eers ‘n kwessie nie!