Dankie vir 'n tydskrif soos Juig. Dankie ook vir die briewe van Dr Hennie Mouton en Dr Andries Gouws, wat betrekking het op Dr. George Claassen se openings toespraak by die Universiteit van Pretoria se Teologiese Fakulteit.
Ek is maar net 'n gelowige, wat nie nodig het om vrae te vra oor wat in die wetenskap aangaan nie. Op 'n keer het ek 'n hoog geleerde professor wat in 'n toergroep baie verduidelik het oor die evolusie, (ons was in die veld), gevra wat was eerste, die hoender of die eier. Hy het sy hoed na sy agterkop geskuif, my aangekyk, en gesê:"Die wetenskaplikes werk nog daaraan."
Op my antwoord , dat hulle maar baie sukkel met so 'n maklike vraag, het hy my probeer ignoreer en die onderwerp verander, maar ek het toe gesê hy moet die antwoord in Genesis 1 gaan kry. Blykbaar was dit nie 'n oplossing vir hom nie.
Ek het van Dr Claassen se teorie verneem, en het baie simpatie met hom, want watter ontugtering wag daar nie vir hom nie? Op die vraag wat Dr Gouws in sy brief in Juig (volume 2 , uitgawe 3) gevra het: "Wat sal evolusie vir jou beteken as jy vol pyn op jou sterfbed lê?" Ek wil ook verder gaan: "Waarheen sal jy gaan wanneer jy nie die kans gegun word om tot besinning te kom nie?". Dit sal baie goed wees as Dr Claassen die vrae beantwoord in die pers wat hy so mildelik gebruik om sy valse boodskap te verkondig.
Wanneer ek na God se Skepping kyk, en dit is oral om my, bv. in die onskuldige ogies van my kleinkind, in die natuur om my, dan kom ek slegs tot die gevolgtrekking dat Dr Claassen se ontkenning van God en Sy Skepping slegs in sy eie kop is, want hy sien en ervaar nie die wonder van God se Skepping in en om homself nie.