Ek kon nie my oë glo toe ek in JUIG van u uitsprake lees aangaande die bestaan van God, die Heilige Gees en Godsdiens nie. Met hierdie uitlatings word die bestaan van die skeppingsverhaal, die sondeval en die Verlossingswerk deur Jesus Christus in totaliteit as onsin afgemaak. Ek is geen geleerde nie maar ek wil graag in liefde die volgende teregwysing aan u deurgee. Hierdie is teregwysings van Hom wat u so blatant ontken. Mag die Heilige Gees u help om tot ander insigte te kom! (ek hoop u verstaan wat liefde waarlik beteken). Hierdie is nie my woorde nie maar, die woorde van die Koning van alle Konings en Sy Wysheid, soos deur Koning Salomo opgeteken in die boek Spreuke, hoofstuk een vanaf vers 22. "Julle onkundiges, hoelank gaan julle nog vashou aan julle onkunde, gaan die grootpraters hulle pratery geniet en die swape 'n afkeer hê van kennis? As julle luister na My teregwysing gee ek julle my wysheid in oorvloed en leer ek julle my woorde begryp.
Ek het geroep en julle wou nie luister nie, ek het my hand uitgesteek en julle het dit nie gegryp nie. Julle het my raad alles in die wind geslaan, julle wou julle nie laat tereg wys nie. Daarom sal ek lag as die ongeluk julle tref, ek sal met julle spot wanneer die angs julle oorval, wanneer daar nood en kwelling oor julle kom. Die angs sal soos 'n storm oor julle kom, die ongeluk sal julle tref soos 'n orkaan. Dan sal julle my roep en ek sal nie antwoord nie. Julle sal my soek en my nie kry nie. Julle het 'n afkeer van kennis gehad, julle het geweier om die Here te dien, julle het my raad verontagsaam en elke teregwysing van my geminag. Julle sal die vrugte van julle optrede pluk, julle sal van julle eie planne walg. Die onkundiges se dwaling kos hulle die dood, die dwase word vernietig deur hul selfversekerdheid, maar wie na my luister, sal veilig wees en hoef geen ramp te vrees nie".
Vriend, weet jy watter "dood" is hier ter sprake. Dit is die ewige dood waar hy wat jou so graag wil oortuig om te glo wat hy vir jou wil wysmaak, gaan opeindig en ek glo nie jy sal graag saam met hom daar wil opeindig nie.
Geen mens sal ooit die Raadsplan van God kan verstaan of bepaal nie, want dan sou jy self god wees!
Wat die evolusieleer betref, ek is bewus van die dwaling en wil my nie verder daaroor uitlaat nie. Dit is nie die papier werd waarop dit geskryf staan nie.
Ek bid dat die Heilige Gees in u hart sal werk om u tot ander insigte te bring. Wees net bedag daarop dat u die werking van die Heilige Gees kan weerstaan en die ergste nog, dit kan ontken. Ek bid dat u nie tot so 'n stap sal oorgaan nie.
Francois de Jager |