’n Getuienis en belydenis waarom ek op Bybelse gronde aan die verbondsdoop glo
In 1964 het ek vrae begin vra oor die verbondsdoop. Vir drie jaar lank het ek onder leiding van die Heilige Gees al die standpunte oor die doop begin studeer, vanuit die Skrif en standpunte van verskillende denominasies en het tot die volgende gevolgtrekkings gekom:
1. God se verbond met Abraham is vandag nog geldig. * God neem die inisiatief en sluit met Abraham ’n verbond sonder verdienste van Abraham se kant (Gen 12 : 1 – 3). Trouens, Abraham se vader, Tera, was ’n heiden, ’n afgods- dienaar (Josua 24 : 2). * God se verbond sluit ook ander volkere in wat tot geloof in God kom (Gen 12 : 3). * Abraham is die verbondsvader van al die gelowiges (Gen 17 : 5; Rom 4 : 12-13; Gal 3 : 7). * Die verbond is ’n ewige verbond (blywende verbond) (Gen 17 : 7). * God sluit ook die kind in Sy verbond in (Gen 17 : 10 – 14).
2. God gee aan Abraham ’n verbondsteken - die teken van die besnydenis. * Die besnydenis-teken wys op die wegsny of afsny van die sonde. Kindertjies word ook in sonde gebore (Ps 51 : 7; Rom 3 : 10; 1 Joh 1 : 8). Sonde is nie slegs wat ek doen nie, maar in wese is die mense sondaar (Mark 10 : 18). * Die besnydenis wys op Christus wat ons sondes deur sy bloed (ook kindertjies se sondes) kom afwas, want Hy sterwe ook vir kindertjies.
3. Waarom word Christus gedoop? * Die Ou Testament is belofte en die Nuwe Testament is vervulling. In Christus word die Ou Testamentiese beloftes vervul. In Hom word die pasga, die nagmaal – die tekens het verander. In Christus is die besnydenis-belofte vervul in die doop. Christus is besny en gedoop. Hy was die Vervuller van die Ou Testament en Nuwe Testament se beloftes. * Christus se doop verskil hemelsbreed van ons s’n, omdat Hy geen sonde gehad het nie. Sy doop was nie ’n teken van sy sonde-afwassing nie, maar dat Hy ons sonde kom afwas het. Sy doop wys op sy sterwe aan die kruis (Mark 10 : 38 – 39). * Wat word van die besnydenis as die doop nie in die plek daarvan gekom het nie? Die logiese is dat ons dan nog ons kinders moet besny.
4. Die besnydenis en die doop red niemand nie. * Abraham is vrygespreek toe hy nog onbesnede was (Rom 4 : 10). * Abraham is vrygespreek omdat hy in God geglo het (Rom 4 : 9) – ook die moordenaar aan die kruis. * Geloof is nie ’n goeie werk om die hemel te verdien nie (Efes 2 : 8), maar is ’n gawe (geskenk) van God. Niemand kan uit homself glo nie. * Die doop (verbondsdoop of bekeringsdoop) is nooit ’n goeie werk om die hemel te verdien nie. * Die doop roep kinders en volwassenes op tot wedergeboorte en bekering – net soos die besnydenis, verbondskinders opgeroep het tot bekering. * Op Pinksterdag (Hand 2 : 37 en 39) roep Petrus die Jode op tot bekering. Bekering beteken hier ’n verandering oor hulle denke oor Christus. Drieduisend kom tot bekering en aanvaar Christus as die Messias, Verlosser. Almal in die Handelinge van die Apostels wat tot bekering gekom het (tot by Hand 8) was Jode. Eers in Hand 8 kom ’n heiden tot bekering. * Al word ons hoeveel keer in die Jordaan gedoop – net Christus se bloed reinig ons van sonde. 2
5. Kan kindertjies glo? * Die Heilige Gees alleen kan mense laat glo – vergelyk Jer 1 : 5; Luk 1 : 66 oor Johannes die Doper. * Die verbondsdoop handel oor God se beloftes, net soos in die besnydenis. Die beloftes wat hy moet toe-eien wanneer hy/sy tot hulle verstand kom. * Kan ’n mens jou plaas aan jou kleinkind bemaak, sonder dat hy dit weet? Is die testament dan geldig? Ja, so is dit ook met God se beloftes (sy testament). Al weet die kindjie nog nie van God se beloftes nie, maak dit nie die doop ongeldig nie.
6. Wat van die inseën van kindertjies? * Daar is geen Bybelse gronde vir die inseën van kinders nie (Matt 19 : 13; Mark 10 : 13 – 16; Luk 18 : 15 – 17). God seën ook sy dissipels, die skare, die siekes! * Nêrens in die Handelinge van die Apostels of die Didaché van die Apostels is kinders ingeseën nie. * Is dié gebruik nie ook maar ’n ander vorm van doop sonder water nie? Ek vra maar net?
7. Wat van herdoop? * In die doop, verbondsdoop of bekeringsdoop, gaan dit nie om die mens se belewenis of ervaring nie, maar oor God se beloftes en sy genade. * Word mense wat die bekeringsdoop ondergaan het en terugval en dan tot nuwe oorgawe kom, oorgedoop? * Al word ons hoeveel keer oorgedoop, sal dit nooit God se beloftes van die doop uitwis nie. * As getroude persone jaarliks hertrou, maak dit hulle huweliksbelofte van vroeër ongedaan? * Net so min as wat ons die kruis, die simbool van God se liefde, kan uitwis, kan ons die doop, die simbool van God se verbond en genade uitwis. * Kan ons die besnydenis herhaal? Nee! So ook nie die doop nie.
Hierdie getuienis het ek met baie liefde geskrywe, as ’n wedergeborene wat ander kinders van die Here, ongeag hulle kerkverband, liefhet. Ek respekteer u standpunte – respekteer ook ons, wat eerlik met die Woord van God omgaan, se standpunte.
Die uwe (Ds) A de S Botha
|