Ek het pas die nuwe JUIG! ontvang en soos gewoonlik dank ek God vir puik en insiggewende artikels wat op die Bybel gebaseer is en aan God die eer gee wat Hom toekom. Dit is in direkte teenstelling met soveel ander publikasies waar sogenaamde geleerde mense hul twyfel oor die Bybel, dus ook or God, uitspreek. Ek wil vandag met 'n versoek kom, aangesien ek in die jongste uitgawe gelees het dat dr. Peter Hammond 'n kundige oor kerkgeskiedenis is, soos uit sy artikels blyk. Kan hy asseblief vir ons 'n artikel oor die Sabbat skryf en deur wie en waarom ons vandag Sondag as Sabbat vier en nie meer die sewende dag soos God beveel het nie.
Johannes Nel
Dr. Hammond het reeds hierdie onderwerp volledig in ‘n uitgawe van ons susterstydskrif, JOY! bespreek. Lees die volledige artikel op die webwerf, www.joymag.co.za, - Vorige Uitgawes - Aug. 2010 – ‘Return of the Judaizers?’ -Red.
Ek is ‘n leser van julle tydskrif sedert die eerste uitgawe. Baie dankie vir die wonderlike artikels wat julle oor die afgelope drie jaar gepubliseer het. Ek wil egter net my opinie lug ten opsigte van ‘n paar in die April-uitgawe. As man van so iets in die vyftig, kan ek maar net my hoed vir Errol Naidoo lig. Hy slaan die spyker met sy artikel ‘Kaptein Lafaard’ absoluut op die kop. Ek sidder as ek na die slaprug en onbeskofte vente kyk wat oral om ons heen is. Ek kon net verstom toekyk hoe een so ‘n slaprug met sy vrou in ‘n winkelsentrum – waar ander mense hulle kon hoor - praat. Ek kan nie anders as om die ouerhuis te blameer nie – iewers het ‘n ma en ‘n pa toegelaat dat hierdie vieslikheid wortelskiet en dit moet vasgevat word! Ek wil Dirkie van der Spuy ook by die naam noem, omdat sy artikel oor gevaarlike denkpatrone my aangegryp het. Ons trap so maklik in die slaggat van verkeerde denke...Paulus het nie om dowe neute aan die Kolossense geskryf om die hemelse dinge te bedink nie (Kol 3:2). Mag JUIG! voortgaan om artikels te publiseer wat harte sal raak! Johan Jacobs
Dankie vir die artikel oor ‘Geestelike Oorlogvoering’- Maart 2012. Dis tog vir my teleurstellend dat dr. Peppler ‘n Bybelse beginsel as ‘n wêreldse siening beskou. Om te bind en ontbind beteken om te verbied en om toe te laat. In Matt: 16.19 sê Jesus: “I will give you the keys of the kingdom of heaven; and whatever you bind (declare to be improper and unlawful) on earth must be what is already bound in heaven; and whatever you loose (declare lawful) on earth must be what is already loosed in heaven.” (Amplified). Deel van die wapenrusting is die Swaard, wat die Woord van God is. Jesus verduidelik in Matt 12:29 dat jy die sterkman (satan) eers moet boei (bind) voordat jy die besete persoon sal kan bevry. Verder waarsku Jesus dat ons nie moet laster teen die Heilige Gees nie. Om te bind en ontbind is nie ‘n wêreldse seining nie! Om die Satan te bind, beteken nie om hom vas te maak nie - dit beteken om hom te verbied. Om ‘n persoon te ontbind beteken om toe te laat dat die persoon vry kan kom van bindings. Jesus sê in Luk 10:19 “Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.”As jy mag het oor al die krag van die vyand, sal jy dom en ongehoorsaam wees om dit nie uit te oefen nie. Onthou, die wapenrusting is tweeledig: Dit is daar om te beskerm, maar ook daar om te kan aanval. As ons grond vir die Koninkryk wil wen, moet ons, soos Jesus, ook bereid wees om aan te val. Dankie vir ‘n tydskrif wat nie bang is om die waarheid te verkondig nie! Fanie Venter
Ons stem saam met jou siening. Waarteen dr. Peppler egter gewaarsku het, is die feit dat sommige mense só besig is met ‘bind en ontbind’ dat hulle vergeet om hul oë in geloof op Hom te hou en volgens Sy Woord te lééf. |