Hiermee wil ek by die artikel in die Mei-uitgawe deur Geopende Deure ‘Die gevaarlike boek’ aansluit. Omdat ek eerstehandse ondervinding van die ateïstiese uitkyk en groei het, wil ek graag hê dat meer mense daarvan bewus word. Ons het nie die fisiese gevaar om ’n Bybel te lees in ons land nie en daarvoor kan ons inderdaad baie dankbaar wees. Ons moet egter nie blind bly vir die ‘emosionele’ gevaar wat besig is om te ontwikkel in skole wat die evolusieleer ondersteun of stories op die TV wat ’n bespotting van gelowiges maak nie. ’n Medium wat veral direk gebruik word om gelowiges aan te val, is Facebook. Al wat jy nodig het, is iemand wat twyfel en bietjie begin rondsoek en dan op ‘pages’ op Facebook afkom. Om enkeles te noem: ‘Religion poisons everything’ , ‘Faithless and Free’ , ‘Atheists and Skeptics Southern Africa’. Of persoonlike profiele soos ‘God’ ‘Lucifer’, ‘Holy Spirit’. Die meeste van die aanhangers was voorheen Christene of is Christelik grootgemaak. Ons het lank die voorreg van beskermde Christelike kringe waarin ons beweeg het, gehad, maar daardie tye is stadig maar seker besig om te verdwyn. Anoniem