Jesus het daarop gereageer: Ek verseker jou, as iemand nie van bo (opnuut)gebore word nie, kan Hy die Koninkryk van God nie sien nie.

Joh 3:3.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief


8 Nov 2017  

Inleiding

Omdat daar vrae was wat my gepla het, o.a. oor ontoepaslike vergifnisaksies, het ek van tyd tot tyd oor jare aan hierdie stuk gewerk. Hier volg die resultaat.

 Twee soorte vergifnis

Daar is ’n onderskeid tussen Godgegewe vergifnis (oral kursief gedruk) en menslik vergifnis: (1) God die Vader vergewe die sondes van gelowiges, maar nie van ongelowiges nie, behalwe in gevalle waar hulle genade vind en met God versoen word. (2) Enige mens kan net oortredings van ander mense vergewe, maar nie sonde nie. Bykomend kan gelowiges sonde-vergifnis van God verkry.

 (1) Gelowiges se vergifnis teenoor mekaar .

Eerstens word slegs gelowiges se handelswyse hier behandel.

Gelowiges is met wedergeboorte prinsipieel regverdig verklaar, en heilig. Vanaf daardie tyd moet hulle die pad van heilig-wording stap om meer te word wat hulle reeds in Christus is. Deel van die proses is sondebelydenis  teenoor God om vergifnis te verkry en om ook met berou van mekaar vergifnis te verkry. Berou en vergifnis is egter nie ’n kliniese aksie van “jy sê dit, dan gebeur dat” nie. Dis ’n hart-saak wat met tyd tot uiting kom, dalk in teenoorgestelde volgorde en selfs sonder woorde teenoor God.

In beginsel kan tog die volgende stappe aangedui word:

’n Oortreding wat iemand aan ’n (broeder/suster, die onskuldige) gedoen het, is ’n sondige daad wat vergewe moet word deur God en deur die onskuldige broeder.

Die “Onse Vader” model-gebed (Matteus 6:12), dui aan: “… en vergeef ons ons skulde”  tot God (eerste vergifnisaksie), “soos ons ook ons skuldenaars vergewe” – die skuld wat die skuldige persoon het, moet vergewe word deur die onskuldige persoon. Dis deel van ’n vergifnisaksie (die tweede). Die twee genoemde vergifnis-aksies is beide nodig om versoening tussen broeders te verkry.  

Dawid kon net vergifnis by God kry (1 Sam. 12:13, Ps. 51:6); die onskuldige in sy geval was reeds dood.

Hoe kan ’n vergifnisaksie volgens die Bybel werk:  

  • Dit is geloof-aksies wat tot God gebid word, soos die voorbeeld in die “Onse-Vader-gebed.” 
  • Die skuldige doen sonde teenoor God, ’n sonde wat ook sy medebroeder/suster (die onskuldige) kwaad aandoen.
  • Die skuldige  het berou oor die sondige daad en bely sy sonde voor God wie sy sonde vergewe.  
  •  Hy bely ook sy sonde aan die onskuldige, wie hom ook vergewe.
  •  Vergifnis deur God en ‘vergifnis’ tussen die twee broeders is albei nodig, maar hoef nie beide noodwendig op dieselfde plek, - tyd, of selfs gesamentlik gedoen te word nie. Hoe groter die kwaad gedaan tussen broeders, hoe meer sal dit egter ’n gesamentlike aksie by gesprekvoering wees, waar alles uitgesorteer word.

Sodoende kan versoening tussen die twee betrokke gelowige persone verkry word. Gelowiges se vergifnis-aksies, onder mekaar, sluit dus gesamentlik “menslike vergifnis” en “sondevergifnis” in, met gepaardgaande “vrede,” mettertyd.

(2)      Vergifnis waar ongelowiges by betrokke is

Tweedens word ongelowiges se vergifnis onder mekaar hier genoem, sowel as gelowiges se vergifnis-aksies met ongelowiges.

Wanneer twee ongelowiges mekaar vergewe is sonde nie betrokke nie. Een van hulle kan natuurlik ’n ander een vergewe oor gedane kwaad, as hy wil. Maar vir hom is sy aksie nie òòk sonde nie en glip verkeerde motiewe maklik in, soos eie prestasie (hoe goed jy is om dít te doen), of politiek.

Wanneer ’n Christen oortree het teenoor ’n ongelowige kan hy met berou vergifnis van God die Vader verkry en, natuurlik, ook van die verontregte persoon. As die nie-Christen die skuldige is en berou het, ontvang hy uiteraard nie goddelike vergifnis nie. Maar hy kan wel met berou vergifnis (Let wel, nie sondevergifnis nie) van die onskuldige broeder verkry om daardeur hul verhouding te probeer herstel. Die gelowige broeder kan die geleentheid gebruik om van Christus te getuig, indien ontvanklikheid blyk.

Uit gelowiges se oogpunt handel hierdie seksie oor goeie verhoudings met ongelowiges, gedoen uit naasteliefde. Gebreekte verhoudings moet herstel word en nuwe verhoudings uitgebou word. Maar, dit kan net in redelik-normale omstandighede geskied, waar ’n ongelowige min of meer inpas in die doen en late van ’n gelowige gemeenskap. Maar waar ‘nie-normale omstandighede’ heers is o.a. waar die ongelowige persoon opsetlik doen wat hy weet verkeerd is en hy daardeur God se eer aantas, ’n erge daad. Om só ’n persoon te vergewe is heeltemal onvanpas (Hebr. 10:26, Núm. 15:30) … dit geld ook ’n skuldige-‘gelowige,’ wat nie deur ’n onskuldige-gelowige  vergewe behoort te word nie—dis of hy vir jou ’n heiden is (Mat. 18:17).

Kleiner vergifnis-aksies tussen gelowiges en ongelowiges

Aksies in hierdie seksies geld tussen gelowige-tot-ongelowige en gelowige-to-gelowige, gewoonlik kleiner vergifnis-aksies. Iemand is bv. nie bewus van die kwaad wat hy ’n ander persoon aangedoen het nie, of hy het vergeet daarvan, of hy sê iemand sleg … en so aan,  Dit kan ook ’n onbillike taak wees wat iemand  op jou ‘afgedwing’ (-vra ’n ‘myl’ om dit te doen). Al sulke oortredings word teenoor jou gedoen deur ongelowiges en gelowiges en jou eie eer word daardeur aangetas.

Die vraag is nou: wat behoort ’n gelowige se reaksie te wees? Volgens die Bybel moet jy jou naaste liefhê (soos o.a. goeie dinge vir hom te doen). Dus, ‘vergewe hom,’ al is daar geen berou nie en loop  die ekstra ‘myl.’

Al sulke aksies werk nie in ’n bondel waar gelyktydig meer as twee mense betrokke is nie -  net tussen ’n ‘skuldige’ en ‘onskuldige.’ Of dit nou wel ‘klein’ is, hang van jou diskresie af. Is die kwaad gedaan van groot omvang dan: (Seksies (1) of (2), of anders, dan: (3).

(3) Vergifnis vir erge misdade

Misdade soos marteling of moord het traumatiese gevolge vir die persoon wat dit ondergaan en vir hul naasbestaandes — uitgerekte geestelike bittere gedagtes volg wat moeilik van ontslae geraak kan word. Hoe ’n gelowige persoon dit kan hanteer, word deur sommige gesê, is dat die misdadiger vergewe moet word! Dié moeilike taak moet jy glo doen om met skoon gedagtes te kan aangaan met jou lewe.

Indien hiermee bedoel word dat nie die persoon vergewe word nie, maar die daad wat hy gepleeg het, is dit verkeerd. Mens kan tog nie ’n daad vergewe nie. ’n Daad kan net aanvaar word.  

Indien die misdadiger berou het, is dit ’n geval wat in ’n vorige seksie genoem is, gewoonlik (2). Indien hy nie berou het nie, is die vraag of dit reg is om hom te vergewe?

Die antwoord word bepaal deur wat die Bybel ons leer. Hiervoor kan die afgehandelde seksies, (1) tot (3) gebruik word, soos volg:

  1. a.       Daar is nie sondevergifnis sonder berou nie

Dit word so in die Bybel uitgespel of geïmpliseer1 behalwe in spesiale omstandighede soos in (3) genoem.

  1. b.      Daar is geen sondevergifnis vir ongelowiges nie

Hulle is die dood skuldig vir hul sondelas, tensy hulle deur God begenadig word met versoening, waarna hul gelowiges word.

  1. c.       Menslike vergifnis

Blykbaar is menslike vergifnis moontlik, onder normale omstandighede, soos in Seksies 2 en 3 verduidelik, maar nie vir erge gevalle nie.     

  1. Daar is geen vergifnis vir ’n erge misdaad nie

Soos bo genoem, sal geen skuldige sondevergifnis sonder berou verkry nie (a.). Oral geld dit: geen berou – geen vergifnis, behalwe punt (3), maar ‘(3)’ is nie van toepassing by verskriklike dade nie.

Let op dat ’n enigiemand wat God se eer aantas (In  Item 2 verduidelik) in elk geval nie deur ’n gelowige persoon vergewe behoort te word nie.

Uiteindelik, om dit weer te onderstreep, gaan dit oor hoe ’n gelowige persoon se optrede moet wees teenoor iemand, die skuldige, wat ’n erge misdaad gepleeg het en geen berou het nie. Dit blyk teen die genoemde agtergrond, dat dit on-Bybels is om so ’n skuldige te vergewe.

Omdat vergifnis dan verkeerd is, is die groot taak van verwerping van bittere gedagtes: om te “aanvaar” wat gebeur het. Dis om God in gebed te nader om jou in staat te stel om die gedane daad te aanvaar. Moontlik kan dit help om alles te beskou as  soortgelyk aan ’n nie-mens-gemaakte katastrofe wat jou oorgekom het.

Ten slotte

Omdat gelowiges se gebruik van ‘vergifnis’ so verweef is met ‘sonde vergifnis’ sal dit duideliker wees, indien dit in ander verband gebruik word (nie sonde nie), om van ‘verskonings’ te praat.

Dr. Willem van Heerden

Back

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication