Jesus het daarop gereageer: Ek verseker jou, as iemand nie van bo (opnuut)gebore word nie, kan Hy die Koninkryk van God nie sien nie.

Joh 3:3.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief


17 Oct 2019  

Vir die soveelste keer beleef Suid-Afrika ’n nuwe vloedgolf emigrasie. Sommige mense kry aanloklike geleenthede elders. Vele sien die afgelope jare polities geen toekoms meer in Suid-Afrika nie – nie vir hulleself nie, nog minder vir hul kinders. Wanneer misdaad en moord egter jou binnekring betree, gaan dit om oorlewing. Dit raak toenemend moeilik om positief te wees oor ons land. Dit het meer kere in ons volk se geskiedenis al gebeur. Ná die Anglo-Boereoorlog het baie van die boere niks meer oorgehad om mee of voor te lewe nie. Baie het toe ook elders ’n heenkome gaan soek. In die huidige omstandighede kan niemand juis kwalik geneem word as hulle die land verlaat nie. Dis menslik gesproke die logiese ding om te doen. Daar is egter een ding wat wel ’n groot verskil maak – ons Godgegewe roeping vir hierdie land en streek. Ons is deur goddelike beskikking juis hier as volk tot stand gebring, om hier ’n verskil te maak en in die bres te staan. Die omstandighede is soortgelyk as tydens die ballingskap van God se volk. Dit gaan oor die godsdiens, die politiek, ook geweld op persoonlike vlak. Die volgende beskrywing kon net sowel oor Suid-Afrika gewees het: “… Jy is ’n land wat nie gereinig is nie, wat nie reën gekry het in die dag van grimmigheid nie … Sy priesters verkrag my wet en ontheilig my heilige dinge … Sy vorste is in hom soos wolwe wat prooi verskeur, om bloed te vergiet en siele om te bring, dat hulle onregverdige wins kan maak … Die mense van die land pleeg geweld en eien hulle geroofde goed toe; ook verdruk hulle die ellendige en behoeftige, en teenoor die vreemdeling pleeg hulle geweld sonder reg.” – Esegiël 22:23-29. Net soos in daardie tyd soek God ook nou mense wat in die bres kan staan, om in die Naam van die Here die gety te draai: “En Ek het onder hulle ’n man gesoek wat ’n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie.” – Esegiël 22:30. As die heil van God vir hierdie land en streek vir ons swaar genoeg weeg, sal ons nie ons pos kan verlaat nie, ongeag die koste. Wie gaan jou plek vul as jy dit verlaat? Hoeveel meer ellende sal dit toelaat? God maak altyd erns met Sy roeping en verkiesing. Is ons gewillig om ’n muur te bou, in die bres te tree en die verwoesting om te keer? Dalk moet kinders van die Here in Suid-Afrika (dalk veral die nasate van die Boere-Afrika-ners) vandag ook elkeen hierdie saak voor die Here uitmaak. Is ek in Suid-Afrika vir my persoonlike voordeel, of staan ek hier onder roeping van God? Aanvaar ek hierdie verantwoordelikheid? Dan sal ek nie maklik voordele of ’n beter lewe elders kan soek nie. Die nood hier is ontsaglik groot, Suider-Afrika gly gevaarlik en die mense ly al meer. God soek dringend na manne en vroue in Suid-Afrika wat voor Sy aangesig in die bres sal tree, wat ’n muur wil bou om die ellende om te keer, die verwoesting te stuit! God alleen kan en wil ons lot verander! Gaan jy alles maar net laat gaan, of gaan jy jou plek inneem en jou roeping in gebed opneem en intree om die vloedgolf van verwoesting te stuit? Vind die Here jou op jou plek, in die bres?

dr. Willie Kotzé

Back

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication