 16 Motors, 15 platskermtelevisies, meubels en nog ander pryse was deel van die groot aantal pryse wat deur enigeen wat die Paasdienste by Bay Area Fellowship Church bygewoon het , opgeëis kon word.
Hoewel hierdie kerk, wat 7000 weeklikse bywoners het, reeds by verskeie geleenthede die spiere gebult het om te sorg dat die ‘ongekerktes’ getrek word, is hierdie uitreikaksie in alle opsigte ‘n eerste.
Die prediker, Pastoor Bil Cornelius, wat op die hele gedagte van ‘n analogie van die TV-spel “The Price is Right” gekom het, het self erken dat die idee ietwat vergesog is. Hy sien dit egter ook as ‘n uitstekende geleentheid om Christus te kon deel met diegene wat nooit andersins hul voete in die kerk sou sit nie.
Die pryse se waarde is meer as $2 miljoen en is alles deur lidmate geborg of geskenk. Pastoor Cornelius het sy gemeente gevra om iets te gee of hul besighede betrokke te kry ten einde seker te maak dat mense wat andersins nooit hul voete in ‘n kerk sou sit nie, wel daar sou uitkom. Bay Area-lidmate het motors, motorfietse, skootrekenaars, gimlidmaatskap en ander geskenke gedoneer.
“Ek is baie trots op ons gemeente wat so ongelooflik vrygewig is en gewillig is om enigiets te doen om siele vir Hom te wen,” het die pastoor aan Christian Post gesê.
Saam met hierdie groter pryse, het elke individu of gesin wat een van die kerk se 30 aanbiddingsdienste wat by sewe kampusse wêreldwyd gehou is, bygewoon het, ‘n “waardepak”met geskenkbewyse ter waarde van $300 van plaaslike sake-ondernemings ontvang. Meer as 300 kinders wat die nuutste kampuskerk in ‘n mindergegoede buurt aan die westekant van Corpus Christi bygewoon het, het nuwe fietse ontvang.
Die heel beste “weggee-geskenk” is egter die hemel en Christus se liefde.
“Ons hoop om hierdeur vir mense te wys dat, hoewel dit lekker en opwindend is om hier op aarde dinge verniet te kry, die grootste gawe ooit, iets is wat niemand nog ooit gesien het nie, maar ‘n ewigheid lank kan geniet,” het Cornelius, wat hierdie kerk 12 jaar gelede begin het, gesê. Hierdie hele aanloop tot die grootste Wenprys ooit – ‘n prys wat aan almal beskikbaar is – kan bloot net ‘ontvang’ word (Ef 2:8-9), het hy bygevoeg.
Cornelius erken egter dat hierdie hele idee ontsettend baie kritiek van ander gelowiges gekry het. Sommiges het so ver gegaan as om hom daarvan te beskuldig dat hy Jesus in ‘n ‘produk’ verander het. Cornelius is egter onversteurd en het voorts gesê al sou net een siel deur hierdie poging tot geloof in Jesus Christus kom, dan is hy baie bly dat hulle dit gedoen het.
Die 15 000 – 20 000 mense wat vir die verskillende dienste opgedaag het, het grootliks vir die pryse gekom, maar het baie beslis daar weggegaan met die wete dat Jesus Christus vir almal, elke mens op aarde, gesterf het en dat al wat gedoen moet word om hierdie gawe te ontvang, is om jou sonde te bely en Hom as Redder te aanvaar.
-Christian Post
|