 In tye van nood is dit baie belangrik dat die Liggaam van Christus opstaan vir die Koninkryk van God. Die Koninkryk van God opereer op die basis van die Woord van God as die absolute waarheid. Daarom bepaal Bybelse beginsels ons gedrag en optrede ten opsigte van elke probleem wat ons in die gesig staar. Die Woord van die Here is baie duidelik in tye van konflik:
- Wees lief vir jou vyande, seën diegene wat jou vervloek en bid vir hulle wat jou vervolg (Lukas 6:27, 28). Spreek die seën van verlossing in Jesus Christus uit oor elkeen wat boosheid bedryf of aanmoedig.
- Moenie toelaat dat die bose jou oorweldig nie, maar oorkom die bose deur goed te doen (Rom. 12:21; Rom. 12:17). Bedink dit wat waar en reg is en streef daarna om bo verdenking te leef voor alle mense.
- Geliefdes, moenie wraak neem nie, maar laat dit (vergelding) aan God oor, want daar is geskrywe: “Die wraak kom My toe, sê die Here.” (Rom. 12:19; Matt. 5:39; Rom. 2:1). Bid dat die gedagtes van mense nie gevul sal wees met wraak en haat nie, maar bid tot God dat Hy geregtigheid en reg sal vestig.
- Moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die Dag van Verlossing. Moenie verbitterd of opvlieënd wees of woedend word nie, moenie vloek of skel nie, moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het. (Efe. 4:30-32; Matt 6:12-15; Matt 18:21-35; Luk 23:34). Soos Jesus vergewensgesindheid aan die kruis gedemonstreer het, so behoort ons as gelowiges sy voorbeeld na te volg en diegene wat teen ons oortree het, vergewe. Laat ons vergewe en sodoende die sirkel van geweld en woede beëindig.
- Uit die hart kom bose gedagtes, moord … (Matt. 15:19; Luk. 6:45). Vul jou hart met God se Woord en bedink Sy opdragte aan ons in tye soos hierdie. Weerstaan slegte gedagtes en laat die Heilige Gees toe om tot jou hart en gedagtes te spreek.
- Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. (Eph 6:12). Bid en weerstaan bose magte wat deel is van rassisme, bloedvergieting, geweld, rebellie, wraak en die gees van toordery (witchcraft).
Hierdie is ’n unieke geleentheid vir ons as gelowiges om saam te staan en die geskiedenis van Suid-Afrika te impakteer. God het nie beheer verloor nie. Hy is ook nie onbewus van wat tans in ons land gebeur nie. Dis nou die tyd om die Heilige Gees toe te laat om ons harte te ondersoek, eiebelang te laat gaan en om God te vra om tot ons redding te kom. Laat ons nie oordeel en aankla nie, maar liewer pleit dat God se plan en doel met ons nasie sal realiseer. Kom ons fokus daarop om alle haat, bitterheid, oordeel, rassisme en vrees teen te staan en laat die Heilige Gees toe om ons te gebruik as instrumente van versoening en genesing in ons verskeurde nasie. Bid vir die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan om oor ons harte en gedagtes die wag te hou (Phil 4:7). God wat vrede gee, sal die Satan spoedig onder julle voete verpletter. (Rom 16:20)
Bid saam met ons vir herlewing in die kerk. Die kerk is steeds God se antwoord (Ef. 3:10) – ’n kerk wat lewe deur die krag van die Heilige Gees, wat staan op die outoriteit van die Woord, wat Jesus Christus die sentrum maak, wat bid vir die verlore en gebroke wêreld, wat omsien na die armes en behoeftiges. Vir meer inligting om deel te neem aan Jerigo Mure se 40-dae gebedsinisiatief vir herlewing besoek info@global24-7.org , info@jwpn.com of www.jwipn.com ) Mobiliseer gebedsgroepe in alle moontlike plekke – by jou huis, werksplek, skool, fabriek, besigheid, ens.
Reageer op God se oproep tot die nasies en neem deel aan ’n dag van verootmoediging en gebed op Sondag 23 Mei 2010. Vir meer inligting kontak asb. info@globaldayofprayer.com of besoek die webblad www.globaldayofprayer.com Onderskryf deur: Jerigo Mure Internationale Gebedsnetwerk, Global Day of Prayer, NIRSA, Shalom Trust/MMC2010, Turn2God, Unashamedly Ethical en Nuwe Hart. |