Die Messiaanse evangelis, Sid Roth, glo dat herlewing onder Joodse gemeenskappe in die V.S.A. aan die uitbreek is. Hy het onlangs reeds duisende Amerikaanse Jode hul geloof in Jesus sien bely.
Dit het hoofsaaklik gedurende evangelisasiesaamtrekke in New York en Kalifornië plaasgevind. Bykans 400 Russiese Jode het verlede somer ‘n evangelisasiesaamtrek in Brighton Beach bygewoon. Mense, o.a. ‘n dame in ‘n rolstoel wat reeds vir 5 jaar nie kon loop nie, is genees. “God se Gees was net aan die werk en feitlik die hele groep het aan die einde opgestaan en openlik hul geloof in Hom bely.”
By ‘n soortgelyke byeenkoms in Kalifornië het ongeveer 30 Jode hul harte aan die Here gegee. “Na my mening is dit die heel eerste keer dat so-iets in Amerika gebeur,” het Roth, wat reeds vir meer as 15 jaar onder die Jode in Rusland gewerk het, gesê. “Ek werk reeds vir langer as 35 jaar onder die Jode en ek het nog nooit so-iets beleef nie.”
Gedurende ‘n reis wat hy verlede jaar na Israel onderneem het, het ongeveer 50 van die Tweede Wêreldoorlog-oorlewendes by die twee samekomste wat hy daar gehou het, hul lewens aan die Here gegee en Jesus as Verlosser bely. Aan Israeli-standaarde gemeet, is dit totaal ongehoord. Hy glo dat die byeenkomste ‘n ‘verandering in die atmosfeer’ van Joodse evangelisasie beteken. Hy sê hy glo, dat dit tekens is dat die skille besig is om van Jode se oë af te val.