 Kemptonpark, 31 Januarie 2012 – Die internasionale Christelike uitsaaier, TWR (Trans Wêreld Radio), het ’n R2 miljoen uitbreiding van die huidige Afrika Streekskantore in Kemptonpark ingewy. Die 500 m2 addisionele ruimte verskaf nuwe kantore vir TWR-Suid-Afrika asook akkommodasiefasiliteite vir Christelike werkers en gaste. Die gebou is ingehuldig tydens ’n inwydingsdiens op Vrydag 27 Januarie toe ondersteuners, vennootorganisasies en TWR personeel saamgekom het om die Here te dank en die hulp van individue te erken wat saamgewerk het om die ambisieuse projek ’n realiteit te maak.
TWR-Afrika se Internasionale Direkteur, Dr Emmanuel Mbennah, het die gebou amptelik geopen. “Hierdie gebou en alles daarvan is ’n voorsiening van God. Hy het die visie daarvoor gegee, eenheid bewerk en die vermoë en finansies voorsien om dit te voltooi. Daarom wy ons die gebou aan Hom toe”, het Dr Mbennah gesê.
Die uitbreiding van die gebou is noodsaaklik vir die toekomstige bediening van TWR. “Ons wil dikwels die wêreld omkeer met dinge wat nie gesien kan word nie, soos informasietegnologie, maar tasbare dinge soos geboue is ook belangrik. Deur die besluite, konsepte en planne wat vanuit hierdie gebou sal plaasvind, sal miljoene mense vir die Koninkryk van God bereik word”, het Dr Mbennah verder gesê.
Die span van TWR-SA was verheug om in hul nuwe kantore in te trek. TWR-SA se Nasionale Direkteur, Danie du Preez, verduidelik, “Dit is wonderlik om die gebou voltooid te sien – die verwesentliking van ’n droom wat drie jaar gelede begin het. Dit was nie net maanskyn en rose nie aangesien daar verskeie uitdagings was gedurende die beplanning en oprigting van die gebou, maar hier sien ons dit nou afgehandel. Daar is so baie mense wat deel was van die suksesvolle projek – diegene wat van hul tyd, geld en gebedsondersteuning gegee het, insluitend plaaslike vrywillige werkers asook diegene wat van die Verenigde State af gekom het. Ons waardeer hulle harde werk en opofferings en ons loof die Here wat hierdie uitbereiding van die gebou voorsien het vir Sy bediening deur TWR.”
|