Ek soek die huis van die timmerman,
ek soek die tafel, die eenvoudige gedekte,
en die bêreplek van die botterspaan
van Maria die Onbevlekte
Ek soek die dinge van hulle elke dag,
ek soek die praat en die maklike lag
In daardie gebenedyde huis;
Neem hierdie pad, klop aan die deur,
na buite toe dwaal ‘n varsbroodgeur,
en sê nou hulle is tuis?
My moed begeef my en ek vlug,
maar iets sê in my gaan trug, gaan trug:
Sy staan reeds in die deurkosyn…
Toe draai ek om en ek vind verstom
ek het voor my eie deur gekom:
my huis is Hare, my huis is Syne!
Nou ken ek die huis van die timmerman,
ek ken die tafel, die eenvoudig gedekte,
en die bêreplek van die botterspaan
van Maria die Onbevlekte. |